11 JUNIE

GEBEURE

1830 – Groote Kerk se orrel in gebruik geneem

Die Groote Kerk, Kaapstad, se orrel, geskenk deur Jan Hoets, is in gebruik geneem.

1895 – Brittanje annekseer Tongaland

Die ZAR se toegang tot ’n hawe (Kosibaai) word afgesny wanneer Groot-Brittanje Tongaland, Mosambiek, annekseer.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kol. BT Mahon beset Potchefstroom

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Allemansnek

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Donkerhoek

Op 11 Junie 1900 bots Boerekommando’s en Britse magte tydens Donkerhoek. Die geveg het ontstaan nadat generaal Lord Roberts, bevelvoerder van die Britse magte, geen weerstand gebied het toe hulle op 5 Junie Pretoria binnekom nie. Roberts het gedink dat die oorlog binnekort verby sou wees, maar die Boeremagte was ver van oorgee.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Pres. Steyn ontsnap by Reitz toe Engelse troepe die huis omsingel het

1901 – Anglo-Boereoorlog: Burgers gefusilleer

Burgers PR Krause en NT Venter word op hierdie dag in Pretoria gefusilleer tydens die Anglo-Boereoorlog. Krause, Venter en ene Delport was deel van ses Boere wat die eed van neutraliteit afgelê het en op parool in Pretoria was. Bogenoemde drie het per trein uit Pretoria vertrek om weer by die kommando’s aan te sluit. Op Pietersburg-stasie het hulle hul in ’n polisie-patrollie vasgeloop. Tydens die daaropvolgende skietery is ’n konstabel gewond en is hulle ook gevang. Al drie is aangekla van poging tot moord, verbreking van die eed van neutraliteit en besit van onwettige wapens. Al drie is die doodstraf opgelê. Slegs Delport is begenadig omrede sy jeugdige ouderdom. Krause en Venter se grafte is vandag onbekend.

2003 – Die naam van die hoofstad van die Limpopoprovinsie, “Pietersburg” word amptelik gewysig na Polokwane

 

GEBOORTES

1754 – Anton Anreith, beeldhouer († 8 Maart 1822)

Anton Anreith, wat op Riegel, naby Freiburg in Duitsland, gebore is, was ’n beskeie en talentvolle kunstenaar wat hom in 1777 aan die Kaap gevestig het, waar hy bekendheid verwerf vir sy sierlike beeldhouwerk, onder meer in die Lutherse Kerk en as skepper van die kansel in die Groote Kerk. In samewerking met die argitek Thibault, is hy verantwoordelik vir die versiering in verskeie Kaapse geboue. In 1805 word die eerste kunsskool in Suid-Afrika deur hom gestig. Hy is op 8 Maart 1822 in sy huis in Bloemstraat, Kaapstad, oorlede.

1906 – NP van Wyk Louw, Suid-Afrikaanse digter, akademikus en dramaturg († 18 Junie 1970)

Nicolaas Petrus van Wyk Louw, herkomstig uit die Karoo (Sutherland), is van die grootste Afrikaanse skrywers tot dusver. Hy het soos geen ander skrywer voor hom nie, die bakens van Afrikaanse menswees versit. Die Afrikaanse taal het gedurende die periode dat hy geskryf het, en in ’n belangrike mate danksy hom, gegroei van ’n skugtere literatuurtaal tot ’n medium waarin alle fasette van menswees uitsêbaar geword het. Die Afrikaanse literatuur het onder sy hand en invloed onherkenbaar verander – vanaf iets plaaslik tot iets universeel. Maar ook die Afrikaanse denke was na Van Wyk Louw nie meer dieselfde as voorheen nie. Hy het die grondslae van die Afrikaanse nasionalisme soos geen ander voor hom nie (ook politici) deurdink en gefundeer. Deur sy dwingende argumentvoering en helder styl (bv. In Lojale verset, Berigte te velde en Liberale nasionalisme) kon hy die taak van Afrikanerskap in en vir ’n nuwe tyd vertolk, sodat sy invloed na sy dood nog net so sterk is soos enige tyd daarvoor, veral by die jeug en die intellektuele. In die eerste plek rus sy roem egter op sy werk as skeppende kunstenaar. Die vernaamste kenmerk van sy skeppende werk is die omvang, gevarieerdheid en genuanseerdheid daarvan. In sy persoonlike liriek (bv. In die bundels Alleenspraak, Die halwe kring, Gestaltes en diere, Nuwe verse en Tristia) strek die spektrum vanaf die intieme belydenisvers (soos in Alleenspraak) tot die vers wat die vrug is van ’n gedurfde denkworsteling met die werklikheid (soos in Tristia). In die epiek het hy Afrikaans se belangrikste enkele gedig geskryf “Raka”, die beelding van ’n gemeenskap se ondergang, omdat dit ontrou geword het aan sy tradisies. In die drama het hy ’n reeks werke geskep wat strek vanaf die onpretensieuse radiospel (bv. Blomme vir die winter) tot die grootste dramatiese spel in Afrikaans Germanicus, die tragedie van ’n Romeinse heerser in die tyd van Christus wat ’n ideaal van suiwer-menslikheid wou nastrewe in ’n wêreld van boosheid en dekadensie. Hy is die Afrikaanse skrywer wat die Hertzogprys die meeste kere verower het: nie minder as vyf keer nie, waaruit afgelei kan word waarom hy beskou kan word as die grootste persoonlikheid in die Afrikaanse letterkunde. Hy het inderdaad die letterkundige toneel tot sy dood – op 18 Junie 1970 in Johannesburg – oorheers.

1919 – Lionel Bowman, pianis en musiekdosent († 2006)

 

STERFTES

1982 – Dirk Mostert, onderwyser en skrywer (*29 September 1897)

Dirk Johannes Jacobus Mostert is op Middelburg, Transvaal, gebore. Hy was aanvanklik onderwyser, maar het besef dat sy arbeidsveld verder as die klaskamer moes strek. Hy het in 1939 hoofsekretaris geword van die ATKV (SAS & H), wat die Simboliese Ossewatrek georganiseer het, en in 1948 is hy as lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Witbank gekies. Dirk Mostert het hom besonder gelukkig geag om aan die ou Grey-Universiteitskollege waar hy Letterkunde en Ekonomie vir die BA-graad bestudeer het, aan die voete van manne soos prof. DF Malherbe en prof. A Francken te kon sit. As skrywer het Dirk Mostert veral om sy luimige verhale met “Oom Bart” as middelpunt, bekendheid verwerf, soos met Petaljes van Oom Bart (1934). Die karakters van die “Oom Bart-reeks” het kostelike radiovermaak verskaf en gehelp om aan Afrikaans ’n radioplek te verseker. Romans en kortverhale uit sy pen was: Uit my ou Vrystaat (1938) en Jou dag sal kom (1942). Sy eerste werk was ’n bundel gedigte Elker siele (1925). Op geskiedkundige terrein het hy daarin geslaag om, op taamlik objektief-wetenskaplike wyse, die oorlogsherinneringe van Slegtkamp van Spioenkop (1935) te verwerk.

2012 – Christa Steyn, komponis, pianis en sangeres (* 15 Junie 1958)

Christa Steyn was ’n gewilde liedjieskrywer en klavierspeler wat jare lank saam met Jannie du Toit opgetree het. Sy is op 15 Junie 1958 gebore en het in die 1980’s groot opgang as liedjieskrywer gemaak. In 1988 het sy die album Christa, waarop sy van haar oorspronklike komposisies soos “Geel madeliefies” en “Hier’s my hand” gesing het, uitgereik maar sy word eerder onthou vir die liedjies wat sy vir onder meer Anneli van Rooyen, Jannie du Toit, Laurika Rauch en Jan de Wet geskryf het. Sy is op 11 Junie 2012, vier dae voordat sy 54 jaar oud sou word, aan kanker oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/