
13 MAART
GEBEURE
1866 – NG gemeente Middelburg gestig
Die NG gemeente Middelburg, Mpumalanga, is op hierdie dag in 1866 onder die naam “Nasaret” gestig en is dus vandag presies 150 jaar oud. Die geskiedkundige gebeurtenis het plaasgevind op die plaas Elandspruit, wat aan oudl. NP Prinsloo behoort het, en ongeveer 10 km buite die huidige dorp Middelburg geleë is. Gedurende die jaar 1866 is die dorp Nasaret opgemeet en uitgegee op ’n plaas wat aan die gemeente Lydenburg behoort het. Eers op 24 Februarie 1872 is Nasaret deur die staatspresident tot ’n afsonderlike distrik verklaar en is die heer AB Joubert as eerste landdros aangestel. Die tweede gebou wat opgerig is (in 1867), was ’n klein NG kerkie, waarvan die hoeksteen deur ds. Frans Lion Cachet gelê is. Hy is deur eerw. Merensky, ’n sendeling op Botshabelo, bygestaan. Ds. AP Burger het die hoeksteen van die huidige kerkgebou op 2 April 1887 gelê en in die jaar 1890 is die kerk ingewy.
1888 – De Beers Consolidated Mines Ltd. gestig
Die De Beers Consolidated Mines Ltd., onder beheer van Cecil John Rhodes kom tot stand en beheer bykans die totale diamantproduksie in Suid-Afrika.
1889 – Potchefstroom-verdrag
Die Potchefstroom-verdrag tussen die ZAR en die OVS, wat elke staat bind om die ander te help wanneer dié onregverdig aangeval word, word onderteken deur pres. Paul Kruger en pres. FW Reitz.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Kroonstad word die hoofstad van die Oranje-Vrystaat tot 11 Mei 1900
1900 – Anglo-Boereoorlog: Republikeinse afvaardiging vertrek na Europa
’n Republikeinse afvaardiging bestaande uit A Fischer, ADW Wolmarans, CH Wessels met JM de Bruin as sekretaris, vertrek uit Lourenço Marques na Europa, op soek na internasionale ingryping of hulp.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Britse magte neem Bloemfontein in
Na die skitterende oorwinning by Magersfontein in Desember 1899 het die Boere hul sukses nie opgevolg nie en is lord Roberts toegelaat om sy magte op te bou. Na die oorgawe van genl. Piet Cronjé met 4000 man by Paardeberg is die opmars na die Vrystaatse hoofstad voortgesit. Aanvanklik wou pres. Steyn en genl. De Wet die hoofstad verdedig, maar vanweë die lae moreel van die burgers, om skade te voorkom en die burgerlikes lyding te bespaar, is besluit om na Kroonstad uit te wyk. Sonder slag of stoot, is Bloemfontein toe deur Roberts ingeneem.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Krugerspos, Lydenburg, Transvaal
GEBOORTES
1835 – Chris Stals, voormalige goewerneur van die Reserwebank
STERFTES
1903 – Genl. David Johannes (Ou Kat) Joubert, ontdekkingsreisiger (* 7 November 1849)
David Johannes (Ou Kat) Joubert (gebore op 7 November 1849) sterf op sy terugtog van Shirati na Dar-es-Salaam aan malaria nadat hy grond vir ’n nuwe woongebied by die goewerneur van Duits-Oos-Afrika gekoop het, en word “in ’n eensame graf weggelê, ver van huis en haard, in die weste van Duits-Oos”. Te midde van groot ontberinge het genl. Joubert met ander lede van die landsoekersekspedisie, wat op 7 Januarie 1903 op Ermelo saamgestel is, gepoog om baanbrekerswerk te doen en so die steeds aanwesige trekgees van die Boere te bevredig deur nuwe gesigseinders oop te stel vir verdere trekke en moontlike uitbreiding van Suid-Afrika.
1957 – Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga, veteraan van die Anglo-Boereoorlog en politikus (* 1 Mei 1882)
Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga is op 1 Mei 1882 in die distrik Fauresmith gebore. Na sy opleiding aan die Grey Universiteitskollege tree hy tot die regspraktyk toe. Vir die duur van die Anglo-Boereoorlog tree Havenga as private sekretaris vir genl. JBM Hertzog op. Hul vriendskap het na die oorlog voortgeduur, en Havenga het Hertzog se politieke vertroueling in die jare hierna geword. Havenga se eerste toetrede tot die aktiewe politiek was as LPR vir Fauresmith (1910 tot 1915) en LUK van die OVS. In 1915 word hy tot LV vir Fauresmith verkies, en hy dien as sodanig tot 1940. Van 1948 tot 1954 het hy die kiesafdeling Ladybrand in die Volksraad verteenwoordig. In die Hertzog-regering het hy die portefeulje Minister van Finansies van 1924 tot 1939 beklee, en daarna weer in dr. DF Malan se Kabinet, en wel van 1948 tot 1954. Na die oorlogsverklaring van 1939 en die mislukte herenigingspogings tussen die Hertzog-groep en die “gesuiwerde” Nasionale Party van dr. Malan, skei NC Havenga saam met genl. Hertzog af en stig die Afrikanerparty. As ’n leier het Havenga ’n sentrale rol in die Afrikanerparty gespeel, en veral ten opsigte van ’n gematigde nasionalisme, wat die party sterk gepropageer het. Met die algemene verkiesing van 1948, het die Herenigde Nasionale Party van DF Malan en die Afrikanerparty kragte gesnoer. In 1951 het die twee partye onder die ou naam, die Nasionale Party, saamgesmelt. In 1954 het Havenga hom aan die aktiewe politiek onttrek.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Morné van Rooijen/Kerkgeboue van Suider-Afrika