
13 MEI
GEBEURE
1781 – Piet Retief gedoop
Jacobus Retief en sy vrou, Deborah, was op 13 Mei 1781 trotse doopouers in die gemeente Suider-Paarl. Die vyfde van hul tien kinders het die naam Pieter ontvang. Vandag word hy onthou as Piet Retief, Voortrekkerleier en slagoffer van Dingaan se krygers op 6 Februarie 1838.
1887 – Eerste Europese baba
Die eerste Europese baba word op hierdie dag in Ferreiraskamp, Johannesburg, gebore.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Helpmekaar, Natal; Koedoesrant, Mareetsane, Mafeking
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Brandvlei, Klawervlei; Lekkeroog, Kaapkolonie
1915 – Genl. Louis Botha beset Windhoek tydens die Eerste Wêreldoorlog
GEBOORTES
STERFTES
1947 – Prof. Nicolaas Johannes Brümmer, Afrikaanse skrywer, NG predikant en hoogleraar aan die Kweekskool (* 27 Julie 1866)
Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ’n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ’n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuurblad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.