
14 DESEMBER
GEBEURE
1912 – Louis Botha bedank
Generaal JBM Hertzog se De Wildt-toespraak het heftige reaksie van Unioniste en ander Brits-gesindes tot gevolg gehad. In die Kabinet het die ergste reaksie gekom van kolonel George Leuchars, Minister van Openbare Werke, ’n Nataller wat homself ’n imperialis genoem het. Hy was so kwaad oor Hertzog se woorde oor die belange van die Ryk teenoor dié van die Unie dat hy gedreig het om uit die Kabinet te bedank. Dit lei tot ’n kabinetskrisis en die Premier, generaal Louis Botha en sy regterhand, generaal JC Smuts, vra Hertzog om in die openbaar sy spyt oor sekere van sy uitlatings uit te spreek. Hertzog weier toe, want hy het reeds die vorige middag in die teenwoordigheid van ’n ander minister, Fischer, die aangeleentheid met kolonel Leychars bespreek en sy standpunt oor imperialisme verduidelik, wat Leuchars klaarblyklik aanvaar het. Leuchars het hom egter later gehou by sy voorneme om te bedank, waarop Botha Hertzog gevra het om te bedank. Hy weier toe om te bedank omdat hy reeds die versekering van die Eerste Minister gehad het dat dié met Hertzog se standpunt saamstem. Die skaakmat het verdere samewerking tussen hierdie leiers onmoontlik gemaak. Botha bedank toe as Eerste Minister wat beteken het dat die Kabinet outomaties ontbind is. Die Goewerneur-generaal vra egter vir Botha om weer ’n kabinet saam te stel, wat hy toe doen maar met die weglating van Hertzog sowel as Leuchars. Hierdie krisis het die stigting van die Nasionale Party ingelui.
GEBOORTES
1931 – Margaret Bakkes, skrywer († 29 Junie 2016)
Margaret Magdel Bakkes was ’n Afrikaanse skrywer van romans, kort- en jeugverhale. Sy het ongeveer dertig boeke en kortverhale geskryf. Haar werk sluit onder meer in: die romans Elegie vir ’n onbekende en Susanna die geliefde, asook die kortverhaalbundels Sing vir ons, Matilde en ’n Baksel in die môre.
STERFTES
1970 – Cecilia Wessels, operasangeres (* 7 Augustus 1895)
Sy is in Bloemfontein gebore. Haar vader, senator Cornelius Wessels, was administrateur van die OVS. Haar musiekopleiding het sy in Kaapstad en Londen ontvang. Sy het een van die mooiste dramatiese sopraanstemme gehad en het internasionaal roem as sangeres behaal. In haar eie land het sy byna ’n legende geword weens haar skone sang en besondere persoonlikheid. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1959 ’n erepenning aan haar toegeken. Sy is op 14 Desember 1970 in Kaapstad oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
