14 DESEMBER

GEBEURE

1912 – Genl. Louis Botha bedank

Genl. JBM Hertzog se De Wildt-toespraak het heftige reaksie van Unioniste en ander Brits-gesindes tot gevolg gehad. In die Kabinet het die ergste reaksie gekom van kol. George Leuchars, Minister van Openbare Werke, ’n Nataller wat homself ’n imperialis genoem het. Hy was so kwaad oor genl. Hertzog se woorde oor die belange van die Ryk teenoor dié van die Unie dat hy gedreig het om uit die Kabinet te bedank. Dit lei tot ’n kabinetskrisis en die Premier, genl. Louis Botha en sy regterhand, genl. JC Smuts, vra Hertzog om in die openbaar sy spyt oor sekere van sy uitlatings uit te spreek. Hertzog weier toe, want hy het reeds die vorige middag in die teenwoordigheid van ’n ander minister, Fischer, die aangeleentheid met kol. Leychars bespreek en sy standpunt oor imperialisme verduidelik, wat Leuchars klaarblyklik aanvaar het. Leuchars het hom egter later gehou by sy voorneme om te bedank, waarop Botha Hertzog gevra het om te bedank. Hy weier toe om te bedank omdat hy reeds die versekering van die Eerste Minister gehad het dat dié met Hertzog se standpunt saamstem. Die skaakmat het verdere samewerking tussen hierdie leiers onmoontlik gemaak. Genl. Botha bedank toe as Eerste Minister wat beteken het dat die Kabinet outomaties ontbind is. Die Goewerneur-generaal vra egter vir Botha om weer ’n kabinet saam te stel, wat hy toe doen maar met die weglating van genl. Hertzog sowel as kol. Leuchars. Hierdie krisis het die stigting van die Nasionale Party ingelui.

GEBOORTES

1931 – Margaret Bakkes, skrywer († 29 Junie 2016)

STERFTES

1970 – Cecilia Wessels, operasangeres (* 7 Augustus 1895)

Sy is in Bloemfontein gebore. Haar vader, sen. Cornelius Wessels, was administrateur van die OVS. Haar musiekopleiding het sy in Kaapstad en Londen ontvang. Sy het een van die mooiste dramatiese sopraanstemme gehad en het internasionaal roem as sangeres behaal. In haar eie land het sy byna ’n legende geword weens haar skone sang en besondere persoonlikheid. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1959 ’n erepenning aan haar toegeken. Sy is op 14 Desember 1970 in Kaapstad oorlede.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/