15 JANUARIE

GEBEURE

1876 – Die eerste koerant in Afrikaans, Die Afrikaanse Patriot

Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 in die Paarl is ’n tydvak van georganiseerde stryd om die Afrikaanse taal ingelui. In Artikel IX van die Genootskap se bepalings word beoog om ’n Afrikaanse maandblad uit te gee. Op hierdie dag in 1876 verskyn die eerste uitgawe van die maandblad Die Afrikaanse Patriot, wat die orgaan van die GRA sou wees. CP Hoogenhout was die eerste redakteur onder die skuilnaam Oom Lokomotief, wat deur redakteurs ná hom oorgeneem is. In Die Afrikaanse Patriot, later net genoem Die Patriot, dek die GRA die terreine van hul doelstelling, naamlik dié van land, volk en taal. Daarin is leiding gegee ten opsigte van landsake, die Afrikaanse taal, geskiedenis en belangrike nuus. ’n Rubriek van vrae en antwoorde is ontwerp om weetgierigheid op te wek en te bevredig. Afrikaners is aangemoedig om bydraes te stuur sodat hulle kon leer om hulle taal ook te skryf. Die redaksie het lesers aangespoor om gedigte, hoe foutief ook al, in te stuur. Deur taalbespreking wou die GRA liefde, eerbied en belangstelling opwek vir die Afrikaanse taal. In eenvoudige spreektaal sou die lesers ingelig word oor die vernaamste nuus. So kon plattelandse Afrikaners bereik en opgevoed word vir wie die Hollandse en Engelse taal moeilik leesbaar was.

Die Patriot het sterk teenkanting ontvang sowel van Hollandse as van Engelse kant. Medewerkers het onder skuilname geskryf en moes dikwels onder growwe spot deurloop. Die sterkste teenkanting het van die voorstanders van Hollands gekom wat Nederlands as die volkstaal gesien het en Afrikaans as ’n “patois”, ’n Hotnotstaaltjie beskou het. Ten spyte van teenkanting het die redaksie soms met groot opoffering voortgegaan, en teen 1880 was Die Patriot die mees gelese blad in Suid-Afrika. Dit was veral te danke aan die politieke houding wat die blad aangeneem het, gebaseer op Christelike beginsels en die strewe om die Afrikaanse volksaak te bevorder. In 1904 is die blad gestaak ná kwynende belangstelling, veral as gevolg van die veranderde politieke beleid van SJ du Toit wat sy steun aan Rhodes toegesê het. Die redaksie van Die Patriot het insig in die behoeftes van die volk gehad en was daarop ingestel om by die eenvoudige Afrikaners die behoefte aan geestesvoedsel op te wek en daarin te voorsien. Die blad het leiding gegee in landsake en die Afrikaner laat belang stel in die politiek. Die Patriot het baie bygedra tot die ontwaking van ’n Afrikanernasionalisme deur die Afrikaner bewus te maak van die skoonheid van sy taal, sy eie grootse geskiedenis en sy unieke geestesbesit. Dit het die Afrikaner leer lees en skryf en hom laat besef dat sy spreektaal nie vir Hollands as skryftaal hoef terug te staan nie. As die eerste Afrikaanse koerant, het Die Patriot ’n onberekenbare bydrae gelewer tot die opheffing van Afrikaans tot skryf- en volkstaal.

1896 – Afrikaanse taalkongres gehou

’n Afrikaanse taalkongres word op hierdie dag in die stadsaal in die Paarl gehou om saam te val met die 20ste herdenking van Die Afrikaanse Patriot.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Swartrand

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Rensburgstasie, Colesberg

 

GEBOORTES

1826 – Jan Willem Gerbrand van Oordt, redakteur van Het Volksblad en argivaris van die ZAR († 25 Mei 1904)

Jan Willem Gerbrand van Oordt het as onderwyser, redakteur van die invloedryke koerant, Het Volksblad, skrywer van geskiedkundige werke, as joernalis en as argivaris van die ZAR, diep spore in die kultuurlewe van Suid-Afrika getrap.

1846 – Daniël Francois (DF) du Toit, stigterslid van die GRA († 22 April 1923)

Daniel Francois du Toit, DP seun, in later jare alombekend as Oom Lokomotief, is op 15 Januarie 1846 op die plaas Kleinbos, Daljosafat, gebore en is in Bloemfontein oorlede. Hy was ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners. In 1878 word hy redakteur van Die Afrikaanse Patriot, en hy oefen op dié wyse geweldig baie invloed uit op die Taalbeweging. Van Die Patriot het hy ’n gevestigde koerant met invloed gemaak. Hy het so eie met die lesers gesels dat hulle vertroue in sy koerant gehad het. Alle moontlike vrae word daarin beantwoord; daar word raad gegee, moed ingepraat en koers aangedui. Daar ontstaan ’n onverbreekbare band tussen leser en redakteur. Met die veranderde politieke houding van sy ouer broer, ds. SJ du Toit, leier van die GRA, kon hy nie saamgaan nie, en hy verlaat saam met CP Hoogenhout in 1891 Die Patriot. In 1892 verhuis hy na die Vrystaat, waar hy later in Bloemfontein argivaris was.

1859 – EJ du Toit

Erns Johannes du Toit, oorlede op 12 Januarie 1924, was hoof van die drukkersfirma D.F. du Toit en Co. en later lid van die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy het verskeie van die eerste Afrikaanse boeke uitgegee en ook die laaste jaargange van die koerante Die Afrikaanse Patriot en die tydskrif Ons Klyntji.

 

STERFTES

1984 – Koos du Plessis, musikant (* 10 Mei 1945)

Koos du Plessis was ’n Suid-Afrikaanse musikant wat toonaangewend was in die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging van die 1970’s en 1980’s. Hoewel hy kommersieel nie baie suksesvol was as uitvoerende kunstenaar nie, het die albums wat hy in sy leeftyd uitgereik het, ’n nuwe rigting in Afrikaanse musiek ingelui en word dit vandag as van die invloedrykstes in die taal se musiekgeskiedenis beskou. Tientalle verwerkings van sy komposisies is sedertdien deur verskeie ander Afrikaanse kunstenaars opgeneem en ’n hele paar het huldeblyk-albums aan hom opgeneem.

Hy is sekerlik die belangrikste figuur van die luisterliedperiode. Andries Bezuidenhout som Koos se bydrae soos volg op: “Koos du Plessis se bydrae lê juis daarin dat hy gehelp het om ons ore oop te maak vir die oneindige moontlikhede wat die musikaliteit van Afrikaanse woorde en klanke aan ons bied.”

2017 – Marga van Rooy, aktrise (* 25 Januarie 1942)

Ons almal onthou Worsie se ma uit die gewilde komediereeks Vetkoekpaleis. Dié rol is vertolk deur Marga van Rooy, wat ook in ander televisiereekse soos Egoli-plek van goud, 7de Laan en Villa Rosa, en rolprente soos Pappa Lap, Eendag op ’n reëndag en Die windpomp te sien was.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org