15 MAART
GEBEURE
1840 – Die Geloftekerk in Pietermaritzburg word ingewy en Erasmus Smit word as eerste predikant ingehuldig
1844 – De Natalier, Natal se eerste koerant, verskyn
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Lobatsi (PItsani-Potlugo), Betsjoeanaland
1900 – Anglo-Boereoorlog: Roberts reik proklamasie uit
Lord Roberts vaardig ’n proklamasie in Bloemfontein uit wat in kort op die volgende neerkom. Alle Burgers wat vrywillig inkom en die wapen neerlê, nie ’n prominente rol in die oorlog tot hede gespeel het nie, geen geweld teenoor die Britse magte gepleeg het nie, en bereid is om die eed van getrouheid teenoor Brittanje af te lê, sal nie as krygsgevangenes gereken word nie, en sou vrye toegang tot hul eiendom gebied word.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Begin van smart en lyding
Hierdie dag kan gewis omskryf word as die begin van groot smart en lyding. Omsendbrief No. 31, getiteld “Clearing of the Orange River Colony”, word in opdrag van lord Kitchener uitgereik:
1) Alle families, saam met lewende hawe moet van die plase verwyder word, en na die naaste spoorwegstasie afgevoer word.
2) Die militêre mense kry eerste opsie met betrekking tot beskikbare vervoermiddels op plase. Dit wat oorbly mag deur die plaas se inwoners gebruik word om by die stasie uit te kom.
3) Die hoeveelheid persoonlike besittings wat saam geneem mag word, sal bepaal word deur die hoeveelheid plek op die waens.
4) Waar lewensmiddele gevind word, moet die militêre mense eerste voorkeur geniet. Daarna mag die inwoners soveel neem as wat daarvoor plek op die waens is. Dit wat nie gebruik kan word nie, moet vernietig word.
5) Alle oeste moet vernietig word, voer wat nie deur die militêre mense benut kan word nie, moet vernietig word.
6) Alle lewende diere moet verwyder word.
7) Alle meublement moet vernietig word, asook bakoonde.
1961 – Dr. Verwoerd en die Statebond
By monde van sy Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, word Suid-Afrika se aansoek om as republiek lid van die Britse Statebond te bly, op hierdie dag teruggetrek. Daarmee is die intensiewe pogings om die Statebond in sy ou vorm te laat voortbestaan, finaal verydel. Die aansoek om lidmaatskap te behou, is gedoen vanweë ’n belofte deur dr. Verwoerd aan die Volksraad dat hy sou trag om die republiek lid van die Statebond te hou, met die oog op die instandhouding van blanke solidariteit in Suid-Afrika. Groot-Brittanje het onder aanvoering van sy Eerste Minister, mnr. Harold MacMillan, alles in sy vermoë gedoen om Suid-Afrika se lidmaatskap te verseker. Die Afro-Asiatiese blok, bygestaan deur Kanada en Nieu-Seeland, het egter onwrikbaar op hul eis bly aandring dat Suid-Afrika sy binnelandse beleid geheel moet verander as hy lid wil bly. “Ek was geskok en oorweldig deur die vyandige gees wat hier teenoor Suid-Afrika geheers het,” het dr. Verwoerd in sy afskeidstoespraak gesê: “Die teenstand is gebaseer op die sogenoemde diskriminasie wat ons in Suid-Afrika beoefen. Maar dit was juis afkomstig van lande waar verdrukking en diskriminasie welig voorttier, en waar die beginsels van die so geroemde demokrasie afwesig is. Dit is duidelik dat die Statebond in sy hele wese verander het en hom nou die reg toe-eien om aan ander voor te skryf. Ek voorspel dat ons vandag die einde gesien het van die ou Statebond.”
1973 – Sterrewag by Sutherland open
GEBOORTES
1810 – Stephanus Schoeman, kommandant-generaal en waarnemende staatspresident van die ZAR († 19 Junie 1890)
Stephanus Schoeman, seker een van die kleurrykste figure uit die vroeë Transvaalse geskiedenis, is op 15 Maart 1810 in die Kango, naby die huidige Oudtshoorn, gebore en in Pretoria, tagtig jaar later, oorlede. As jong man het hy aan die Groot Trek deelgeneem. Vroeg in 1847 het hy hom op Potchefstroom gevestig waar hy as heemraad gekies is. Van 1851 tot 1855 was hy kommandant van Potchefstroom. Na die dood van kmdt.-genl. Piet Potgieter in 1854 is Schoeman tot kommandant-generaal van Soutpansberg verkies, ’n amp wat hy van 1855 tot 1858 beklee het. Knap na die aanvaarding van die nuwe grondwet, is MW Pretorius as president en S Schoeman as kommandant-generaal van die ZAR in stryd met die grondwet deur die Volksraad en nie deur die volk nie, verkies. Schoeman het gevolglik geweier om die amp van kommandant-generaal te aanvaar, maar na sy aanvaarding van die grondwet in 1858 word hy die eerste kommandant-generaal van die ZAR – ’n amp wat hy tot 1860 beklee. Met MW Pretorius se aanvaarding van die presidentskap van die OVS in 1860, is JH Grobler as waarnemende president van die ZAR aangewys. Dit was die begin van vier jaar van verwarring en broederstryd in Transvaal, aangesien die Schoeman-gesindes nie hiermee tevrede was nie. Nadat Grobler verjaag is, het Schoeman in 1860 waarnemende president van die ZAR geword, totdat hy in 1862 uit sy amp geskors is. Hy het egter geweier om sy skorsing te aanvaar en het hom steeds as die waarnemende president beskou, wat tot gevolg gehad het dat die Volksleër en die Staatsleër te Potchefstroom teenoor mekaar te staan gekom het, waarna Schoeman na die Vrystaat uitgewyk het. Schoeman het andermaal gepoog om die staatsmag in besit te kry, maar is deur ’n hof aan rebellie skuldig bevind en verban en sy goedere is verbeurd verklaar. Hy vlug oor die Vaalrivier, en herhaalde versoeke om sy uitlewering misluk. Na sy terugkeer na Transvaal het die geveg in Januarie 1864 by die Krokodilrivier plaasgevind, waarna die broederstryd beëindig en Schoeman se vonnis opgehef is.
1827 – Jan Stephanus (Jan Orrelis) de Villiers, komponis († 2 Mei 1902)
Jan Stephanus (Jan Orrelis) de Villiers wat as die eerste Afrikaanse komponis van belang beskou word, is in die Paarl gebore. Sy eerste musiekonderwyser was die Stellenbosse (en later Paarlse) orrelis, Pieter Hugo. Vanaf 1840 het hy in Kaapstad lesse in klavier, viool, harp en orrel ontvang, waarskynlik van die bekende Kaapse orrelis Frederick Logier. In 1847 begin hy dan in die Paarl met sy werksaamhede as musiekonderwyser, komponis en, as opvolger van Pieter Hugo, orrelis van die Strooidakkerk. As uiters deeglike musiekonderwyser het hy ’n groot bydrae gelewer tot die opvoeding van die jeug, eers deur private lesse, later aan die Paarlse Gimnasium en vanaf 1872 in sy eie “Ladies Seminary”, die voorloper van die Hoër Meisieskool La Rochelle. As ywerige koorleier en orrelis (vanaf 1875 aan die afgestigte gemeente Noorder-Paarl), het hy weliswaar sterk onder invloed van die negentiende-eeuse Engelse geestelike lied, in samewerking met sy neef Rocco de Villiers, in opdrag van die Sinode gewerk aan die verbetering van die kerksang, en oratoriums (o.m. Epiphanie), orrelwerke en Psalmmelodieë gekomponeer. Sy musiek by die reeks toesprake van ds. SJ du Toit oor die Onvervulde Profesieë (1878) kan as die begin van die geestelike kantate in die NG Kerk beskou word. Verder komponeer hy ’n groot aantal geleentheidskomposisies vir verskillende vokale en instrumentale besetting n.a.v. gebeurtenisse van nasionale en internasionale belang. Aan die GRA het hy daadwerklike steun verleen en o.m. melodieë geskryf vir ’n Ieder nasie het sy land en vir Die Vierkleur. Hy was getroud met Johanna Maria Wilhelmina van der Lingen. Hulle twee dogters, Nancy de Villiers en Elizabeth (Von Willich), was in 1905 medestigters van die Konservatorium op Stellenbosch. Jan Orrelis is op 2 Mei 1902 in die Paarl oorlede.
1841 – John X Merriman, laaste eerste minister van die Kaapkolonie († 1 Augustus 1926)
John Xavier Merriman was die laaste eerste minister van die Kaapkolonie voor die Uniewording van Suid-Afrika in 1910.
1874 – Ds. Willem Postma (Dr. O’Kulis), Gereformeerde predikant en Afrikaanse baanbrekerskrywer († 13 Desember 1920)
Willem (dr. O’Kulis) Postma was ’n Gereformeerde predikant, baanbrekerskrywer en streng Calvinis. In Bloemfontein beywer hy hom vir die erkenning van Afrikaans as taal en voorspel dat Afrikaans een van die amptelike tale van Suid-Afrika sal word. Hy het as CNO-man die Engelse Onderwysstelsel in die OVS heftig teëgestaan. Gevolglik stig hy die eerste CNO-skool in 1905 in die voorportaal van die Gereformeerde Kerk, Bloemfontein. In 1916 word hy voorsitter van die provinsiale onderwyskommissie in die OVS. Op die eerste vergadering van die Bybelvertalingskommissie (22 November 1916) verteenwoordig hy die Gereformeerde Kerk en in dieselfde jaar verskyn uit sy pen ’n vertaling in Afrikaans van die Nuwe Testamentiese boek Titus. In 1914 word hy die regterhand van genl. JBM Hertzog tydens die stigting van die Nasionale Party. In 1909 verskyn sy werk, Die eselskakebeen. Hy is op 13 Desember 1920 op Reddersburg oorlede.
1881 – Ds. Josephus Johannes Kuhn, digter van die eerste Afrikaanse Psalms († 5 Februarie 1937)
Ds. Josephus Johannes Kühn, gebore op 15 Maart 1881, was ’n NH predikant, welsprekende kanselredenaar en begaafde digter. Hy het belangrike werk gelewer vir die eerste Afrikaanse Psalmberyming en die tweede beryming van Ps. 130 is van sy hand.
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.