15 MEI

GEBEURE

1652 – Voorbereidings vir bou van fort

Jan van Riebeeck begin die voorbereidings vir die bou van die Fort de Goede Hoop. Die bastions van Fort de Goede Hoop ontvang name. Die suidelike bastion word vernoem na die Drommedaris, die oostelike bastion na die Walvis, die westelike bastion na die Oliphant en die noordelike punt na die Reijger.

1835 – Sendingstasie aan Natalse kus

Daar word besluit om die sendingstasie, Berea, aan die Natalse kus te noem na die Kaapse Goewerneur, sir Benjamin D’Urban.

1854 – Eerste president van OVS gekies

Die eerste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, Josias Hoffman, word gekies.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Generaal Revers Buller verower Dundee

1902 – Anglo-Boereoorlog: Konferensie in Vereeniging

Die Anglo-Boereoorlog was amper 31 maande aan die gang toe ’n Vredeskonferensie op 15 Mei 1902 in Vereeniging begin het om ’n einde daaraan te bring. Dertig afgevaardigdes van elk van die twee Boererepublieke, Transvaal en die Oranje-Vrystaat, het dit bygewoon. Hulle is deur die kommando’s gekies nadat vergaderings deur die leiers, generaal Louis Botha en president MT Steyn gehou is. Die Boere het generaal CF Beyers as hul voorsitter gekies om oor die republieke se onafhanklike status te onderhandel, met die republieke se sekretarisse, ds. JD Kestell en DE van Velden, as waarnemers. Steyn het tydens die konferensie siek geword en moes in ’n hospitaal op Krugersdorp opgeneem word. Generaal CR de Wet en eerwaarde Kestell het sy plek ingeneem totdat die vredesdokument op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is. Op 19 Mei het vyf afgevaardigdes, generaals Louis Botha, CR de Wet, JH de la Rey, JBM Hertzog en JC Smuts, met die Britse verteenwoordigers, lord Kitchener en Milner, in Pretoria in gesprek getree. Daar is na lang gesprekvoering met 54 stemme teen 6 ooreengekom dat die republieke hul onafhanklikheid sou prysgee en Britse kolonies word. Op 31 Mei was die oorlog verby.

1909 – Sentraal-Westelike Koöperatiewe Maatskappy Beperk gestig

Op 15 Mei 1909 het 45 boere op Klerksdorp “De Centraal Westelike Co-operatiewe Landbouw Vereniging” gestig met die doel om lede se graan te hanteer, en dit het sedertdien van krag tot krag gegroei, sodat Sentraal-Westelike Koöperatiewe Maatskappy Beperk vandag nie alleen die grootste landboukoöperasie in die Republiek is nie, maar ook die tweede grootste ter wêreld. Vandag dien hierdie koöperasie met meer as 13 6000 lede as getuienis van die ideale wat ’n handjievol Afrikanerboere aan die begin van hierdie eeu geïnspireer het om gesamentlike bemarking van hulle produkte te onderneem. Sentraal-Wes, soos die koöperasie algemeen bekend staan, het vandag ’n wye reeks van aktiwiteite en spog met 42 silo’s, 72 depots, 39 plaasgereedskapwinkels, 27 werkwinkels, 11 meulens, twee oliepersfabrieke, ’n veevoerfabriek en ’n saadfabriek.

 

GEBOORTES

1897 – Ds. TC (Oom Essie) Esterhuysen, sendeling en moderator van die NG Kerk in Transvaal († 12 Februarie 1964)

Gedurende sy lewe was hy waarskynlik die bekendste persoon onder alle bevolkingsgroepe aan die Witwatersrand. Sy regte naam was dominee (of eerw.) TC Esterhuysen, maar almal het hom Oom Essie genoem. Hy was ’n Bolander, op Caledon gebore, in die Paarl grootgeword en op Wellington gestudeer – maar sy lewenstaak het hy van 1921 af as sendeling aan die Rand verrig. Hy was leraar van die Kleurling-gemeente Witwatersrand, later Randse Organiserende Sendingsekretaris van die NG Kerk in Suid-Transvaal. Hy het verskeie belangrike ampte beklee, o.m. dié van moderator van die NG Sendingkerk van Transvaal en voorsitter van die Johannesburgse Hospitaalraad. Maar bowe-al word hy onthou as almal se vriend, as ’n onverbeterlike optimis en humoris, as ’n blymoedige Christenmens. Oom Essie is op 12 Februarie 1964 oorlede.

 

STERFTES

1919 – Johannes Hendricus Meiring Beck, minister en komponis (* 28 November 1855)

Johannes Hendricus Meiring Beck, in later jare ’n bekende Kaapse politikus, minister van die Unie, komponis en uiters bekwame geneesheer, is op 28 November 1855 in Worcester gebore. Hy het ’n wye belangstelling gehad. As geneesheer het hy etlike belangrike geneeskundige bydraes gelewer. Hy was ’n groot musiekliefhebber en het ook intens in onderwysaangeleenthede belang gestel, veral nadat hy in 1898 tot lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering verkies is. Sy groot belangstelling het egter gelê in die fauna en flora, en in die besonder die kultuur van die Kaap. Hierdie belangstelling kom duidelik na vore in die tyd toe hy voorsitter van die Nasionale Vereniging vir die Bewaring van Voorwerpe van Skoonheid en van Geskiedkundige Belang was. Hy beywer hom vir die bewaring van verskillende historiese besienswaardighede en geboue. Een daarvan was die beroemde Koopmans-De Wet-huis, wat van 1806 tot 1911 deur die De Wet-familie bewoon is. Met die heengaan van Maria Koopmans-De Wet in 1906 en haar suster in 1911, het Beck gevoel dat die huis met sy kosbare erfskat “wat die beste tradisie van die verlede beliggaam”, as ’n nasionale monument behou moet word. Hierdie ideaal is gelukkig – met publieke en staatshulp – verwesenlik.

1938 – Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en redakteur van die Kerk se weekblad, die Kerkbode (* 20 Desember 1866)

Dominee Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, wat op 20 Desember 1866 op Goudini gebore is, sterf op 71-jarige leeftyd in die tuig. Tegelyk predikant van Rondebosch, redakteur van Die Kerkbode en voorsitter van die Raad van die Kerke, geniale bedienaar van die Woord, uitmuntende joernalis en geëerde kerkleier.

1964 – Pieter Johannes Hendrik (Pieter) Coetsee, kulturele hervormer na die opstand in 1914 en die Eerste Wêreldoorlog (* 24 April 1889)

Pieter Coetsee was ’n onderwyser, toneelmens en een van die eerste Afrikaanse omroepers.

Pieter Coetsee is in die Noordoos-Kaap as seun van ’n Kaapse rebel gebore in die dae toe dominee MPA Coetsee jr. leraar was van die plaaslike Gereformeerde kerk en professors Dirk Postma en Jan Lion Cachet die dosente aan die Teologiese Skool Burgersdorp. In die moeilike jare ná die Rebellie (1914), die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die arbeidsonluste aan die Rand (1922) het oom Pieter, soos hy algemeen bekendgestaan het, waardevolle kulturele vormingswerk in die suidelike voorstede van die Goudstad verrig.

Hy was onderwyser aan die Turffonteinse Afrikaansmediumskool, ’n kerkraadslid van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid, ’n toneelmens en toegewyde afrigter van deelnemers aan die kunswedstryde van die Afrikaanse Kunsvereniging. Die Turffonteinse Asafkoor, wat later wyd bekend sou word, is in 1924 aan sy huis gestig en in die beginjare van die Afrikaanse radio was hy dikwels agter die mikrofoon. Hy het blykbaar ook in die rolprent Die bou van ’n nasie (1938) opgetree.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/