16 AUGUSTUS

GEBEURE

1800 – Kaapsche Stads Courant verskyn

Die joernalistiek in Suid-Afrika het begin onder die Engelse bewind aan die Kaap, toe die Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter (The Cape Town Gazette and African Advertiser) op hierdie dag gepubliseer is. Die koerant was tweetalig en dit was ook die eerste medium wat nuus en advertensies bevat het. Aanvanklik word die blad deur die Kaapse firma Wilker en Robertson, wat ’n drukpers uit Londen ingevoer het, gedruk. Die pers is op 1 Februarie 1800 in Pleinstraat 35 opgerig. Op 15 Julie 1800 het sir George Young ’n proklamasie uitgevaardig waarin hy die betrokke firma aanwys as die enigste drukkers vir die regering en in die kolonie. Enkele maande later het die regering egter besluit om die pers te koop. Alle drukwerk sou vir die daaropvolgende bykans 24 jaar deur die “Goewermentsdrukkery”, wat in die Kasteel gesetel was, behartig word. Die koerant is dus ook hier gedruk en was derhalwe ’n spreekbuis van die regering.

Tydens die bestuur van die Bataafse Republiek het die koerant eentalig Nederlands geword en markberigte, geboortes, sterfgevalle en ander berigte naas die amptelike berigte geplaas. Die naam is na die Kaapsche Courant verander, ’n naam wat behou is, ofskoon dit in 1806 sy oorspronklike naam teruggekry het. As gevolg van die angliseringsbeleid van lord Charles Somerset, het die koerant byna uitsluitend in Engels verskyn en vanaf 7 Julie 1826 heet dit The Cape of Good Hope Goverment Gazette – eentalig Engels en ’n suiwer staatskoerant. In die twintigerjare word met ’n sekere mate van welslae ’n stryd om die vryheid van die drukpers gevoer, en so verskyn dan in 1824 die eerste onafhanklike blad, The South African Commercial Advertiser.

1884 – Stigting van die Nieuwe Republiek

Die stigting van die Nieuwe Republiek was die regstreekse gevolg van Britse inmenging in Zoeloe-aangeleenthede ná die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879. Die verdeling van die land in dertien afsonderlike eenhede het die onderlinge stryd aangewakker en die posisie van die koningshuis in gevaar gestel. Toe Dinizulu se troon deur ondergeskikte kapteins bedreig is, moes hy iewers om hulp gaan aanklop. Hulle het ’n uitnodiging aan Lukas Meyer en ander Transvaalse burgers gerig om die vrede te herstel, wie Zoeloeland in April 1883 binnegegaan het, daarna vir Dinizulu as Cetshwayo se opvolger aangewys het, en toe gehelp het om Zibhebhu te verslaan en groot grondgebiede vir hulle dienste ontvang het.

Op 16 Augustus 1884 het hulle die sogenaamde Nieuwe Republiek uitgeroep oor die gebied wat later die distrikte Vryheid en Utrecht beslaan het. Lukas Meyer is aangestel as kommandant-generaal en waarnemende president. Nadat genl. Piet Joubert, wat tot president verkies is daarvoor bedank het, is Meyer in hierdie amp verkies en op 5 Augustus 1885 beëdig.

Die Afrikaner se sterk republikeinse ideaal spreek nie slegs duidelik uit die oprigting van nog ’n republiek nie, maar ook uit die staatsregtelike opset daarvan. Die grondwet wat op 31 Julie 1884 aanvaar is, het voorsiening gemaak vir ’n verkose Volksraad, ’n uitvoerende raad en ’n regstelsel bestaande uit ’n landdros, heemrade en jurielede.

Pogings om die Republiek erken te kry, het aanvanklik misluk, maar die nuwe regering het voortgegaan en die grense van die nuwe staat is op 26 Oktober 1885 geproklameer. ’n Jaar later het Brittanje die onafhanklikheid van die gebied erken, maar die Republiek moes sy verklaarde protektoraat oor Zoeloeland laat vaar. Die res van Zoeloeland is in Mei 1887 deur Brittanje geannekseer. Weens toenemende finansiële probleme het die regering van die Nieuwe Republiek met Transvaal begin onderhandel, en op 14 September 1887 is ’n verdrag van vereniging tussen die twee republieke onderteken. Op 20 Julie 1888 is die Nieuwe Republiek by Transvaal ingelyf as die distrik Vryheid.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Magatonek; Olifantsnek, ZAR

1968 – Die Federale Vroueraad Volksbelang (FVRV)

Onder voorsitterskap van mev. JM Raath het die FVRV in Kaapstad tot stand gekom as breëre kultuurvlerk van die Federale Vroueraad, samesnoerende liggaam van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, Oranje-Vrouevereniging en Natalse Christelike Vrouevereniging. Die FVRV, bestaande uit sy vier konstituerende verenigings, met sy 25 geaffilieerde ledeliggame, werksaam op nasionale, provinsiale, streeks- en landelike basis dien so as spreekbuis van ’n breë verteenwoordiging van die Afrikaanse vrou in sake van volksbelang. Die FVRV beywer hom in die algemeen vir die heil van die Afrikaanse volk op geestelik-godsdienstige, sedelike, kulturele en stoflike gebied en in die besonder om eenheid van denke en optrede van Afrikaanssprekende vroue te bevorder.

1993 – Suid-Afrika handig die Walvisbaai-eksklave aan Namibië oor

2012 – Die Marikana-slagting vind by die Lonmin-myn in Marikana, Noordwes, plaas

 

GEBOORTES

1928 – Louis le Grange, politikus, kabinetsminister en lid van die Nasionale Party († 25 Oktober 1991)

Louis le Grange word in 1966 tot die Parlement verkies vir die kiesafdeling Potchefstroom (1966-1991). Hy sluit by die kabinet aan in 1975, as adjunkminister van Inligting (1975–1978), Binnelandse Sake en Immigrasie (1975-1978), asook Openbare Werke (1978) tydens die bewind van John Vorster. Later word hy bevorder tot Minister van Toerisme en Openbare Werke (1978–1979), Gevangenisse (1979–1980), Polisie (1979–1982) en Wet en Orde (1982–1986) in die verskeie kabinette van Eerste Minister PW Botha. Hierna val die eer hom te beurt om as Speaker van die Parlement op te tree (1987–1991). Hy is aan ’n hartaanval oorlede in Potchefstroom, in die ouderdom van 64. ’n Hoofstraat wat noordwaarts uit Potchefstroom loop is na hom vernoem.

 

STERFTES

1933 – Joseph James Cheere Emmett, generaal in Anglo-Boereoorlog en politikus (*19 Januarie 1866)

Generaal Joseph James Cheere Emmett op hierdie dag in die Swellendam-distrik gebore. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 was hy veldkornet van Wyk II in die Vryheid-distrik. Hy neem deel aan die Natalse offensief en gedra hom uitstekend. Daarna veg hy in Oos-Transvaal waar hy bevorder word na kommandant. Hy word in Desember 1900 bevorder na die rang van veggeneraal. Op 13 Maart 1902 word hy met 20 van sy burgers by die Ngotiheuwels gevang en as krygsgevangenes weggestuur. Na die oorlog het hy onder meer weer begin boer, was hy ook skaapinspekteur en voorsitter van die Transvaalse Landraad. Later het hy ook volksraadslid vir Vryheid geword. Hy is oorlede op 16 Augustus 1933.

1979 – Stephanus Andrew Louw, taalgeografis (* 8 Augustus 1908)

Stephanus Andrew Louw is op Krugersdorp gebore, waar hy aan die Hoërskool Monument onderrig ontvang het. Na voltooiing van sy studie aan die Universiteit van Pretoria, promoveer hy in 1938 in Utrecht met sy proefskrif Dialekvermenging en taalontwikkeling. Van 1940 tot 1973 doseer hy Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, waarna hy hom steeds aan navorsing wy. In 1971 is hy vereer met die eerste Republiekprys ter herinnering aan dr. HF Verwoerd, vir sy onoortreflike taalgeografiese atlas, waarmee hy onteenseglik getoon het dat hy ons grootste gesaghebbende op die gebied van taalgeografie is. Prof. Louw is op 16 Augustus 1979 in Pretoria oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/