
17 JULIE
GEBEURE
1828 – Afskaffing van Hottentot-wetgewing
Die aankondiging van Ordonnansie 50 is deur die waarnemende goewerneur, sir Richard Bourke, gemaak. Dít het gevolg op ‘n jarelange veldtog van veral dr. John Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskap. Die ordonnansie het die bestaande Hottentot-wetgewing grotendeels vervang. Daarvolgens mag geen vrye bewoner van die Kaapkolonie op grond van kleur in sy bewegingsvryheid, woonreg, lewenswyse of werk beperk of tot arbeid gedwing word nie. Vrye gekleurdes het die reg verkry om grond te besit. Hierdie wet het onder meer rondswerwery en leeglopery van nie-blankes, sowel as ’n arbeidsvraagstuk, tot gevolg gehad – iets waaraan die Afrikaners na 1828 blootgestel was. Die gevolge van dié wet het later bygedra tot die Afrikaners se ontevredenheid met die Britse regering. Die Groot Trek het gevolg.
1890 – Cecil John Rhodes word premier van die Kaapkolonie
1916 – Slag by Delvillebos
Die Slag by Delvillebos in Frankryk het van 15 tot 20 Julie 1916 geduur. Die nag van 17 tot 18 Julie het die Suid-Afrikaners waarskynlik die hardste getref. Op 15 Julie 1916 het die Suid-Afrikaanse Brigade onder bevel van genl.maj. HT Lukin bevel gekry om Delvillebos en omgewing teen die vyand te verdedig. Die Duitse magte moes uit Delvillebos verdryf word om te kan verseker ’n groep van die United Kingdom Brigade kon beskerm word. Op 15 en 16 Julie is Delvillebos bestorm. Die Suid-Afrikaners het geen tyd gehad om enige skuiling te soek of om hulle in te grawe nie. Die vyand het dadelik met sy hele mag ’n teenaanval geloods. Die Suid-Afrikaanse Brigade het egter geen duim teruggeval nie. In die nag van 17 en 18 Julie was die Suid-Afrikaners die teiken van hewige artilleriebombardemente. Die aanvalle het toegeneem. Op 20 Julie het net drie offisiere en 140 man uit Delvillebos teruggekeer. Van die oorspronklike 3 433 mense in die Suid-Afrikaanse Brigade het minder as 750 oorgebly.
1932 – ’n Goederetrein met dinamiet ontplof
’n Goederetrein met tussen 320 en 330 ton dinamiet het op 17 Julie 1932 by Leeudoringstad in die destydse Wes-Transvaal (Noordwes) ontplof. Aanvanklike berigte het die tonnemaat op meer as ’n duisend gestel, maar dit is later afwaarts aangepas. ’n Ondersoek het bevind dat daar 32 goederetrokke was en dat die drywer rook uit die middel van die trein sien kom het. Hy het die trein tot stilstand gebring om ondersoek te gaan instel toe die eerste van ’n rits ontploffings voorgekom het. Hy het die lokomotief ontkoppel en die waens sowat ’n kilometer van die stasie af agtergelaat. Wat hom en die stoker gered het, was die destydse regulasie dat daar drie leë trokke tussen die lokomotief en die eerste ammunisiewa gehaak moes wees. Vier van die vyf oorledenes was saam in ’n plaashuis naaste aan die spoorlyn. Talle van die gesin se vee is ook gedood.
1950 – Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme gepubliseer
Die Nasionale Regering van dr. DF Malan het na 1948 te kampe gehad met toenemende ontevredenheid en onrus in die geledere van die swart bevolking. In die lig hiervan het die Regering die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, Wet No 44 van 1950, aangeneem. Hierdie wet is op 26 Junie 1950 goedgekeur en op 17 Julie in ‘n Buitengewone Staatskoerant gepubliseer. Hiervolgens is die Kommunistiese Party van Suid-Afrika tot onwettige organisasie verklaar. Die Regering het nou wye magte gekry wat optrede betref teen Kommuniste, die verbied van publikasies, die belet van openbare byeenkomste en die uitsetting uit die land van ongewenste ingesetenes.
GEBOORTES
1896 – Hendrik Andries Hanekom, baanbreker van Afrikaanse toneel († 11 Januarie 1952)
Hendrik Andries Hanekom (1896-1952) was saam met sy eggenote Mathilde ’n baanbreker in die Afrikaanse beroepstoneel. In 1925 stig die egpaar Die Afrikaanse Toneelspelers, ’n Afrikaanse toneelgeselskap wat vir 27 jaar regoor die land getoer het. Tamboere in die nag, waarin hy ’n prominente rol speel, is die eerste Afrikaanse vervolgverhaal deur die SAUK uitgesaai. In 1945 ken die SA Akademie die eerste Erepenning vir Toneel aan hom toe.
STERFTES
1942 – Marthinus Johannes (Tinus) de Jongh, bekende skilder (* 31 Januarie 1885)
Tinus de Jongh, meer bekend as Tinus was ’n bekende Suid-Afrikaanse skilder.
1943 – Sir Patrick Duncan, goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika (* 21 Desember 1870)
Sir Patrick Duncan was die sesde goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en die eerste bekleër van dié amp wat deur Suid-Afrika self aangewys is.
1999 – Christoffel Coetzee, skrywer, joernalis en dosent in politieke wetenskap (* 10 November 1945)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook