
17 OKTOBER
GEBEURE
1911 – Pres. Steyn deur Louis Botha genooi na byeenkoms om uniale politieke party te stig
Dit is verbasend hoe gereeld pres. MT Steyn deur verskillende politieke partye en kultuurgroepe genader is om sedert 1902 en ook ná 1910 leiding te gee. Toe premier Louis Botha ’n uniale politieke party wou stig, het hy eweneens vir Steyn gevra om teenwoordig te wees, raad te gee en in elke geval vooraf vir Botha met wenke te help. Hy gaan voort om te skryf dat die land se omstandighede so moeilik is as wat dit nog nooit vroeër was nie. Hy het dit veral ook daarop gebaseer dat daar onder goeie vriende en by goeie patriotte nog ’n te sterk provinsialistiese gevoel bestaan het. Hy het dit gesien as die grootste moeilikheid waarteen hy stuit, maar deur billik te regeer en die algemene belange voor oë te hou, sou hy hierdie gesindheid te bowe kom.
1914 – Afrikanerrebellie
Louis Botha versoek vir Christiaan Beyers om na Manie Maritz te gaan om met hom te gaan onderhandel, maar Beyers sien nie kans daarvoor nadat hy in die pers gelees het dat JBM Hertzog se versoek om te gaan deur Botha verwerp is nie.
Maritz bereik ’n ooreenkoms met die Duitse bewindhebbers in Duitswes wat selfs deur die Duitse regering in Berlyn bekragtig word.
1914 – Dr. Tobie Muller bedank weens Afrikaanse preke
Die besonder skrander dr. Tobie Muller het einde 1913 ingestem om die eerste hulpprediker vir Stellenbosch se studente te word. Die moedergemeente se kerkraad was tevrede met sy werk en die studente het hom goed ontvang.
Binne ’n jaar of wat het egter ’n nuwe situasie vir die kerkraad ontstaan nadat ernstige verskille oor Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog tot die Maritz-rebellie aanleiding gegee het. In die CJV-saal (foto), waarin hy dienste vir studente gehou het, het dr. Muller in die nuwe gees van nasionalisme van die reël afgewyk en ’n preek in Afrikaans gelewer. Ook het sekere van sy politieke uitlatings die kerkraad en gemeente in beroering gebring.
Op hierdie dag dien hy sy bedanking in. Op ’n spesiale kerkraadsvergadering is ’n kompromis bereik, waarna hy sy bedanking teruggetrek en onderneem het om nie weer in Afrikaans te preek nie, hoewel hy toegelaat is om Afrikaans te gebruik wanneer hy met kleiner groepies ontmoet.
Dat Stellenbosch graag Hollands wou bly, blyk ook daaruit dat die kerkraad hom uitgespreek het teen ’n beskrywingspunt op die Sinode om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Intussen het dr. Muller sy werk met groot welslae voorgesit. In 1916 het hy ’n beroep na die NG gemeente Philippolis aangeneem sodat die kerkraad opnuut na ’n hulpprediker moes soek.
Daar het hy ’n slagoffer van die Griepepidemie geword, want op 25 Oktober 1918, volgens die skrywer van die gemeente Philippolis se geskiedenis, “was sy worsteling oor en het sy gees teruggekeer tot God om daar die salige rus van ongestoorde en volmaakte aanbidding te geniet”.
1948 – Suid-Afrikaanse vlieëniers neem deel aan die Wes-Berlynse Lugbrug
Op 24 Junie 1948 het Rusland alle verbindingsweë na Wes-Berlyn gesluit in ’n poging om die Westerse moondhede te dwing om hulle aan die stad te onttrek. As gevolg van die sluiting van die verbindingsweë is die toevoer van voedsel en brandstofvoorrade na 2,3 miljoen Duitsers afgesny. Om ’n gereelde toevoer van hierdie voorrade te verseker het die VSA en Brittanje onmiddellik ’n lugbrug ingestel. Toe Brittanje sy dominiums in Augustus 1948 in hierdie verband om hulp nader, het Suid-Afrika 31 vlieëniers na Brittanje gestuur. Op 17 Oktober 1948 het hulle met behulp van Britse Dakotavliegtuie hul eerste voorrade voedsel en brandstof in Wes-Berlyn afgelewer – iets wat hulle die volgende sewe maande, totdat die blokkade opgehef is, gedoen het. Met hierdie optrede het die Nasionale Regering, wat pas aan die bewind gekom het, sy bereidwilligheid getoon om met die Weste saam te werk, onder meer in sy bestryding van Russiese Imperialisme.
1959 – Sintetiese diamant
De Beers kondig aan dat hulle ’n sintetiese diamant vervaardig het.
GEBOORTES
1882 – Petrus Jacobus (Pietie) le Roux, stigter van die Stellenbosch Boerorkes († 29 Januarie 1980)
Petrus Jacobus le Roux, op Moorreesburg gebore, was vanaf 1911 vennoot in ’n algemene handelsaak op Stellenbosch totdat hy in 1928 weens swak gesondheid moes aftree. In die jare 1929-30 het die vrouetak van die Nasionale Party op Stellenbosch gevra om ’n klein orkessie om die party se byeenkomste op te luister. Oom Pietie het voorgestel dat dit ’n Boereorkes moet wees en het een op die been gebring. Die orkes het uit 12 lede bestaan, en dit het in 1933 met groter getalle gegroei tot die Stellenbosch-Boerorkes (let op die spelling Boerorkes). Hierdie orkes het in vakansies toere deur die land onderneem om fondse in te samel vir goeie sake, soos die Voortrekkermonument, Die Reddingsdaadbond, die Universiteit van Stellenbosch ens. Tot 1956, met die laaste toer deur die Noordweste, is net oor die R100 000 bymekaar gemaak. Oud-orkeslede het nog by twee ander latere geleenthede ’n orkes gevorm, nl. met die Uniefees van 1960 en die eeufees van die Universiteit van Stellenbosch in 1966. Behalwe fondsinsameling, was die doel van die orkes om by die publiek waardering te skep vir ons eie Afrikaanse volksmusiek. So is daar gekonsentreer op outydse Boeremusiek, waarin konsertinaspel ’n belangrike rol gespeel het, en op Afrikaanse volksliedjies. Hierdeur is voor groot gehore dwarsoor ons land ’n nuwe begrip en geesdrif gebore vir ons eie musiek. Hy is op 29 Januarie 1980 oorlede.
STERFTES
1890 – Johann Godfried Mocke, onderwyser, boer en Trekker (* 25 Desember 1806)
Johann Godfried Mocke is op Kersfees 1806 gebore, en hierdie Graaff-Reinetter (eers onderwyser en boer) sou uiteindelik Trekker word. In Natal misluk hy as winkelier, hy verhuis na Modderrivier (Mockesdam), van waar hy as vurige republikein Transgariep by Natalia ingelyf probeer kry. ’n Eensydige onafhanklikheidsverklaring misluk, waarna hy tevergeefs help om die Britse anneksasie van Natal in 1843 te keer. Hy bots in 1845 met die Britse magte by Swartkoppies oor die Griekwas en is een van Andries Pretorius se kommandante by Boomplaats (1848), maar verhuis daarna na Ohrigstad-distrik, waar hy hom tot sy dood stil op die boerdery toelê.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.