
18 APRIL
GEBEURE
1521 – Luther voor die Ryksdag van Worms
Martin Luther gee beslag aan ’n nuwe bedeling in die Westerse Kerk en samelewing. Hy hervorm dit in die lig van die Skrif, wat hy as die enigste gesaghebbende openbaring van God aanvaar. Hierdie oorlewering in die Kerk en sy geskiedenis maak hy weer beslissend en kom in botsing met die oorlewering waarin die Pous vanuit Rome beslissend optree. Op 18 April 1521 vel hy die beslissing voor die Ryksdag van Worms. Daar verskyn hy op las van die Pous voor die pas verkose keiser. Op weg is hy afgeraai om voort te gaan, terwyl die pouslike gesant op verskeie plekke sy boeke laat verbrand het om hom af te skrik. “Ek sal na Worms gaan,” het hy volgehou, “al is daar ook soveel duiwels soos die dakpanne op die geboue!” So staan hy op 17 April 1521 tereg in die oortuiging dat dit om Christus gaan, om die heil van die mens en die hoogste goed op aarde, om God se Woord. Toe die pouslike gesant van hom eis om sy geskrifte sonder meer te herroep, vra hy tyd om daaroor te dink en te bid. Die volgende aand om sesuur antwoord hy in die lig van brandende fakkels, eers in die taal van sy moeder, die volk, Duits; toe in die taal waaraan die Kerk vasgehou het om alle gelowiges sakramenteel te bedien, Latyn. Soos dit ’n Christen betaam, bely hy en vra om verskoning oor persoonlike belediging in die werke wat hy gerig het teen bepaalde persone wat die Roomse tirannie verdedig. Bewus daarvan dat ’n mens kan dwaal, is hy bereid om sy opvattings oor die leer van Christus te laat toets. Maar dan moet dit uit die Woord van God geskied, want, so kom hy daartoe om te sê: “Deur die Woorde van die Skrif waarna ek verwys, is ek gebind in my gewete en gevange in die Woorde van God.” Hy waarsku die jong keiser om nie sy regering met ’n onregverdige daad te begin nie, want dan sal God hom tot ’n val bring. In die rumoer wat losbars, word beweer dat hy sou afgesluit het asof hy gepreek het: “God help my, amen.” Die groot woord was uitgespreek. ’n Hervorming van die Kerk en samelewing volgens die Skrif kon nie gestuit word nie. Johannes Calvyn het daarin opgegaan. Nederland het sy gereformeerde of skriftuurlike benadering nagevolg en in ’n stryd van 80 jaar onafhanklik geword. Sy nedersetting aan die Kaap het op sy eie ’n inkleding daarvan in die kerk en volk gegee. God se Woord is vertaal in die Afrikaanse taal en is voorgehou as die enigste toetssteen vir kerk en staat.
1658 – Eerste skool aan die Kaap open
Die onderwys beginsel wat die Nederlandse volksplanters uit die Hervorming ontneem het, wou dat elke kind ’n godsdienstig geïnspireerde opvoeding kry. Willem Wijland, die sieketrooster, was in afwesigheid van ’n formele skool aanvanklik verantwoordelik vir die godsdiensonderrig van die kinders aan die Kaap. Die eerste skool was bedoel om die slawe touwys te maak in die Hollandse taal en die basiese beginsels van die Christelike geloof. Daar is vooraf besluit dat die slawekinders nie toegelaat sou word om hulle eie taal te handhaaf nie en om hulle aan te moedig om Nederlands te leer. Trouens, een van die voorwaardes waaronder slawe na 1658 hulle vryheid kon koop, was deur “… sprekende prompt de Nederduytsche tael …” In 1663, ’n jaar na die vertrek van Jan van Riebeeck uit die Kaap, is die eerste skool opgerig, wat ook voorsiening vir blankes gemaak het. Hierdie skooltjie, die latere bekende solderskool, was nieteenstaande ’n beskeie begin met twaalf blanke kinders, vier slawe- en een Hottentotkind, die voorloper van ’n skoolstelsel waarin moedertaalonderrig en Christelike vorming ingebou sou wees.
1832 – Hoeksteenlegging van NG Tamboerskloof
12000 mense woon die hoeksteenlegging van die eerste kerkgebou van die latere NG gemeente Tamboerskloof by
1862 – Skorsing van Stephanus Schoeman as waarnemende Staatspresident van die ZAR
Op hierdie dag het die Volksraad van die ZAR besluit om Stephanus Schoeman uit sy betrekking as waarnemende president en as kmdt.genl. en lid van die Uitvoerende Raad te skors, omdat hy aan “pligsversuim met voorbedagte rade” skuldig bevind is. Schoeman het op 18 April die brief ongeopen aan die Volksraad teruggestuur, omdat dit nie aan hom as waarnemende staatspresident en kmdt.genl. gestuur is nie, maar slegs aan die heer Schoeman gerig is. ’n Deputasie het hom later mondeling van die besluit in kennis gestel, want die brief wou hy nie aanvaar nie. Die Volksraad het nietemin op dieselfde dag vir WCJ van Rensburg eervol uit sy amp as waarnemende kmdt.genl. ontslaan en eenparig as waarnemende president gekies en beëdig. Uit hierdie daad het onder meer ’n ernstige burgeroorlog in Transvaal gevolg, wat in 1864 deur die toedoen van veral kmdt. SJP Kruger met geweld en die dood van talle burgers beëindig is. Van Rensburg is in 1976 in die Heldeakker van Pretoria herbegrawe. Hy was tog in April 1863 wettig deur die volk bo MW Pretorius in die amp van staatspresident verkies.
GEBOORTES
1929 – Dr. Annique Theron, sakevrou en stigter van Annique († 22 Februarie 2016)
Dr. Annique Theron het internasionale bekendheid verwerf deur rooibostee in haar velsorgprodukte en as geneesmiddel te gebruik. Sy het bewus geword van rooibostee se genesingskrag nadat haar dogter met koliek en allergieë gesukkel het en sy rooibostee by haar borsmelk gevoeg het.
STERFTES
1995 – Marthinus Versfeld, filosoof en professor in die Filosofie (* 11 Augustus 1909)
1998 – Stoffel Botha, Suid-Afrikaanse politikus, en minister van binnelandse sake (* 1929)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.