18 DESEMBER

GEBEURE

1923 – Suid-Afrika se eerste radio-uitsending vind plaas

1929 – Die FAK word in Bloemfontein gestig

Die rede vir die stigting van die FAK kan teruggevoer word tot 1925 toe Afrikaans naas Engels as amptelike taal deur die Hertzog-regering erken is. Hierdie erkenning het deels bygedra tot ’n nuwe bewuswording onder die Afrikaanssprekendes van sy taal en eiesoortige kultuur. Ná 1925 was daar ook ’n sterk en groeiende behoefte om die kulturele erfenis van die Afrikaner sterker te beskerm teen die indringing van die Engelse taal en kultuur op alle terreine van die samelewing. Op 24 Augustus 1929 word daar onder die beskerming van die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns eenparig besluit om ’n Uniale konferensie op te roep onder die naam:

“Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie, met die doel om simpatieke verenigings en persone saam te bring vir die uitwerk van ’n gesamentlike program vir die handhawing van ons taal op alle gebiede en vir die positiewe ontwikkeling van ons kultuur, met die oog op die uitvoering daarvan deur middel van ’n sentrale verteenwoordigende bestuur en/of gekonsolideerde provinsiale taal- en kultuurorganisasies.”

Hierdie voorgestelde kongres is op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gehou en deur bykans 300 afgevaardigdes van verskillende kultuurorganisasies oor die hele land bygewoon. Daar is besluit om kragte saam te snoer, en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge het hieruit voortgespruit. Sedert sy ontstaan het die FAK sinoniem met die Afrikaanse volkshuishouding geword. Die aktiwiteite en terreine waarop die FAK hom begeef het, was so uiteenlopend dat daar in 1979, vyftig jaar ná sy stigting, feitlik geen vertakking van die volkskultuur was waaraan die FAK nie deel gehad het nie.

In sy vyftigste bestaansjaar was daar meer as 4000 geaffilieerde liggame en meer as 20 000 mense as lewenslange lede of donateurlede by die FAK ingeskakel. Die bydrae wat die FAK tot die beskerming en handhawing van die eiesoortige Afrikaneridentiteit gelewer het, het dr. DF Malan tereg geskets toe hy in 1954 by die FAK se silwerjubileum gesê het: “As die volledige geskiedenis van die opkoms van die Afrikaanse taal en kultuur eenmaal geskrywe word, sal die FAK daarin een van die hoogste ereplekke verkry.”

 

GEBOORTES

1949 – Dawie Malan, Suid-Afrikaanse akteur en toneelregisseur († 1988)

 

STERFTES

2006 – Stanley John (Bertie) Reed, seiljagvaarder (* 19 Januarie 1943)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/