19 AUGUSTUS
GEBEURE
1901 – Anglo-Boereoorlog: Burgers gefusilleer
By Graaff-Reinet word Petrus Jacobus Fourie, Jan van Rensburg en Lodewyk Francois Stephanus Pfeiffer deur ’n Britse vuurpeleton vir verraad en die moord op Britse troepe gefusilleer.
Fourie was ’n 40-jarige, welgestelde en invloedryke boer van die plaas Uitkomst in die Jansenville-distrik. Hy was verhoor op klagtes van hoogverraad, dat hy ’n anderskleurige spioen geskiet het en dat hy vir die dood van ’n Britse soldaat verantwoordelik was, asook brandstigting. Fourie het op al die aanklagte, behalwe hoogverraad, skuld ontken. Niemand kon bewys dat hy verantwoordelik was vir die dood van die anderskleurige (“Kleurling”) spioen nie. Ook kon niemand bewys dat dit hy was wat die twee Britse soldate by Bloukrans geskiet het nie en of hy teenwoordig was toe ene Berrinton se huis afgebrand was nie. Wat wel bewys is, was dat hy onder die Burgers was wat Schobell gevang het. Ook het verskeie getuienis bevestig dat hy in die kommando van Scheepers gesien was.
Jan van Rensburg was afkomstig van Aberdeen. Hy was aangekla van presies dieselfde “misdade” as Fourie. Soos Fourie het hy slegs skuldig gepleit op die klagtes van hoogverraad. Een van hul eie kommandolede wat ook in dieselfde verhoor ter dood veroordeel is, het kroongetuie gedraai teen Van Rensburg. Die man het ondermeer getuig dat Van Rensburg betrokke was in ’n geveg by Ouderplaats in Mei waar ’n Britse soldaat gesneuwel het. Ook sou Van Rensburg ’n paar stewels gesteel het. Soos Fourie was Van Rensburg ook op al die klagtes skuldig bevind.
Pfeiffer was afkomstig van die plaas Leeufontein in die Victoria-Wes-distrik. Hy was aangekla van hoogverraad, poging tot moord en brandstigting. Pfeiffer is op al die aanklagte skuldig bevind en die doodstraf opgelê.
Op die 17de Augustus 1901 het 13 rebelle op die kerkplein van Graaff-Reinet verskyn vir vonnisoplegging. Slegs Fourie, Van Rensburg en Pfeiffer is die doodsvonnis opgelê. Die res van die teenwoordiges het almal óf tronkstraf ontvang óf was verban. Die veroordeeldes is vroeg die oggend na ’n plek buite Graaff-Reinet, bekend as Semelpoort, geneem. Twee en twintig man het aangelê, en drie stoele het agteroor in vooraf bereide grafte geval. Gebluste kalk is oor hul gestrooi en die grafte toegemaak. Die drie burgers se dood was die eerste in ’n reeks en is opgevolg deur talle ander.
1914 – Afrikanerrebellie
Die insident by Nakob op die grens tussen Suid-Afrika en Duitswes-Afrika vind plaas.
1930 – Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) (SAS & H) gestig
Die dertigerjare van hierdie eeu konfronteer die Afrikanervolk op feitlik alle lewensterreine met kultuurproduksie en lewenstyle wat vreemd is aan die tradisionele lewenstyl van die Afrikaner. Hierdie toedrag van sake is sterk in die hand gewerk deur die feit dat die Engelse taal en kultuur op feitlik alle lewensvlakke prioriteit geniet het – ’n erfenis uit die tyd van Rhodes, Milner, Smuts en Botha. Van die staatsdepartemente was die Spoorweë seker een van die belangrikste erfgename van hierdie toedrag van sake. Die ou Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij van die Zuid-Afrikaansche Republiek, wat tydens die Britse militêre bewind deur die Imperial Military Railways van Milner oorgeneem is, het ’n heenkome gebied vir ’n groot aantal Engelse soldate, met die gevolg dat veral die Spoorweë op feitlik alle vlakke tot oorlopens toe gevul is met eentalige Engelssprekende amptenare en personeel. Ook in al drie die ander provinsies was die voertaal van die Spoorweë voor Uniewording in 1910 deurgaans Engels. Juis in hierdie tydperk tree die armblankevraagstuk besonder sterk na vore en is die Spoorweë naas ander staatsdepartemente die instansie wat ’n heenkome bied vir die talle ongeskoolde blanke Afrikaanssprekendes, destyds sogenaamde armlastiges genoem wat hulle toevlug na die stede neem.
As gevolg van hierdie toedrag van sake het die Afrikaanse taal en kultuur by die Spoorweë reeds by voorbaat ’n geweldige agterstand om in te haal. Dit is nog vererger deur die feit dat die meeste senior administratiewe en tegniese betrekkings deur eentalige Engelssprekende amptenare gevul is, terwyl die Afrikaanssprekende werknemer hoofsaaklik ongeskoolde arbeid in die laer range van die Spoorwegdiens verrig het. Juis omdat die Spoorweë onvoldoende omgesien het na die taal- en kultuurbelange van die Afrikaanssprekende werknemer, het die behoefte aan die totstandkoming van ’n kultuurvereniging ontwikkel. Op 19 Augustus 1930 kom die ATKV (SAS & H) onder voorsitterskap van mnr. SJ van der Spuy, later superintendent van Handel en Personeel van die Kaapse Oostelike Afdeling van die Spoorweë, in die Raadsaal van die Spoorweghoofkantoor gebou in Kaapstad tot stand.
’n Handjievol geesdriftige Afrikaners was by hierdie geleentheid teenwoordig. Die nuutgestigte vereniging sou as spreekbuis van die Afrikaners in diens van die SA Spoorweë dien om die taalregte van die Afrikaners in die Spoorweë te beskerm en te bestendig. As een van die vernaamste doeleindes van die Vereniging word gestel: “… om ’n wakende oog … oor die Afrikaanse taalbelange (te) hou.” Die doel en strewe van die Vereniging word in die eerste eksemplaar van die Vereniging se maandblad, Die Taalgenoot, kernagtig geformuleer in die leuse van die Vereniging, t.w. “Handhaaf en bou” en “Praat, lees en skryf Afrikaans”.
Die volledige oorspronklike doelstellings van die Vereniging lui soos volg: (a) Om die gebruik van Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens te bevorder en ’n lewendige belangstelling in Afrikaanse kuns en kultuur aan te kweek; (b) Die bevordering van die intellektuele en kulturele welsyn van sy lede. Die grondslag van die Vereniging is in 1934 bewus soos volg geformuleer: “Die vereniging staan op Christelik-historiese grondslag.” Die Vereniging sien homself as die draer van die gedagte waarin die denkbeeld dat die Afrikanervolk ’n geroepe volk is, sentraal staan. Hierdie roeping hou dan ook onder meer in die handhawing en uitbou van die tradisionele geestesgoedere van die Afrikanervolk.
2002 – Die Erfenisstigting as ’n Artikel 21-maatskappy sonder winsmotief geregistreer
GEBOORTES
1888 – Theo W Jandrell, Afrikaanse onderwyser en inspekteur van skole; skrywer van gedigte en liedjies († 1968)
Theodore Walter Jandrell is op Richmond, Kaapland gebore, matrikuleer aan die Jongenshoërskool, Wellington, en studeer aan die Victoria-Kollege, Stellenbosch. Hy word onderwyser in die distrik Wakkerstroom, Transvaal, hoof van die Pionierskool, Volksrust, en inspekteur van onderwys (1940). Jandrell vereenselwig hom met die gees van die jeug en die skoonheid van die moedertaal. In sy digbundels Die Ou Murasie en Moeder se Kind (albei 1924) het hy die leemte in die Afrikaanse kinderlektuur aangevul. Verdere sukses word behaal in die samestelling van die leesboekies Jong Suid-Afrika en daarna, in samewerking met dr. Hugo Gutsche, die reeks Daeraad-Liederbundels (1932). Vir laasgenoemde skryf hy 59 gedigte. Sy 27 gedigte wat in die FAK-Liederbundel verskyn, soos “Ou Karooland”, “Bolandse nooientjie”, “Die son verrys”, “Met dapper en stapper” en “Dis heerlike lente”, weerspieël liefde en leed, vaderlandsliefde en die natuurskoon. Op ’n intieme, beskeie maar doeltreffende wyse het hy die jeug aangemoedig om Afrikaans te lees en te sing.
1965 – Johan Botha, tenoor († 8 September 2016)
Johan Botha was ’n Suid-Afrikaanse tenoor. Hy maak sy debuut in 1989 op die verhoog van die munisipale teater in Roodepoort as Max in Der Freischütz. Sy internasionale deurbraak kom in 1993 by die Opera de la Bastille as Pinkerton in Puccini se Madama Butterfly. Sedertdien het hy opgetree by toonaangewende operahuise oor die wêreld soos die Metropolitan Opera, Weense Staatsopera, Opera Australia, Royal Opera House (Londen), La Scala, en die Salzburg Festival. Hy is op 8 September 2016 na ’n stryd teen kanker oorlede.
STERFTES
1977 – Betsy de da Porte, Suid-Afrikaanse mezzosopraan (* 1901)
Elizabeth (Betsy) de la Porte was een van Suid-Afrika se grootste sangkunstenaars wat haar besonder onderskei het as uitvoerder van Afrikaanse liedere. Sy was een van die eerste Suid-Afrikaanse sangers wat in 1924 uitgesaai het, en sy het daarna in Londen en München gaan studeer. Deur baie jare heen het sy ’n suksesvolle internasionale sangloopbaan gehad en saam met sommige van die beroemdste dirigente en komponiste opgetree. Talle Afrikaanse liedere is spesiaal vir haar geskryf of aan haar opgedra, en haar sangkuns was ’n aansporing vir die skepping van sommige van die beste Suid-Afrikaanse sangwerke. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n Erepenning vir Sang aan haar toegeken. Sy is op 19 Augustus 1977 in Johannesburg oorlede.
2000 – Harry Frederick Oppenheimer, sakeman en mynmagnaat (* 28 Oktober 1908)
2020 – Jannie Herbst, stigter van motortydskrif Wiel
Sy joernalistieke loopbaan het in 1966 begin, toe hy sy pa gehelp het om die 𝘈𝘭𝘣𝘦𝘳𝘵𝘰𝘯 𝘊𝘰𝘶𝘳𝘪𝘦𝘳 uit te gee, waarna hy hom by 𝘋𝘪𝘦 𝘛𝘳𝘢𝘯𝘴𝘷𝘢𝘭𝘦𝘳 aangesluit het. Hy is later aangestel as redakteur van 𝘋𝘪𝘦 𝘔𝘰𝘵𝘰𝘳 en toe hierdie tydskrif sy deure moes sluit, het hy 𝘞𝘪𝘦𝘭 gestig. Die eerste uitgawe het in Maart 1978 verskyn en dit het ’n leemte in motorjoernalistiek gevul.
Herbst was nie net ’n vindingryke joernalis nie, maar hy het ook verskeie toekennings vir sy uitsonderlike fotografie gewen. Daarby het hy ’n liefde vir motorsport gehad en gereeld profiele oor bekende renjaers geplaas toe hy redakteur van 𝘞𝘪𝘦𝘭 was. Sy skerp humorsin het gereeld in die tydskrif se beriggewing na vore gekom. In 1984 het hy die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se eerste Joernalis van die Jaar-toekenning gewen en in 1990 het hy ’n toekenning van die FAK af gekry vir sy bydrae tot Afrikaans ontvang.
Hy is op 19 Augustus 2020, op sy 72ste verjaardag, oorlede kort nadat hy ’n beroerte gehad het.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.