2 FEBRUARIE

GEBEURE

1653 – Eerste koolkoppe aan die Kaap geoes

Op hierdie dag is die eerste mooi koolkoppe aan die Kaap geoes. Deel van die aandete was kool gewees en almal het ingestem dat dit vorentoe smaak en ’n aangename afwisseling was. Die rooikool was egter nog nie reg om geoes te word nie. Van Riebeeck noem dat verskeie ander groentesoorte goed aard en gereed is vir enige retoervloot. Daar was egter groente, waaronder byvoorbeeld uie, rape en wortels, wat gesukkel het.

1659 – Eerste wyn aan die Kaap gepars

Die eerste wynoes aan die Kaap, wat op hierdie dag deur Jan van Riebeeck onderneem is, was beskeie en het slegs twaalf mengele (ongeveer 14 liter) mos opgelewer. Hy beskryf die druiwe as die Muscadel-tipe, en noem ook dat die Spaanse tipe nog groen is, maar dat die trosse mooi vertoon.

1837 – Piet Retief se manifes word in die Graham’s Town Journal gepubliseer

1838 – Dingane se brief aan Retief

Dingane, koning van die Zoeloes, ontbied die sendeling Owen na sy kraal om ’n brief te dikteer aan Piet Retief. Retief, volgens Dingane, word ingelig dat hy vrede in sy hart het deurdat sy beeste nou almal terug is. Hy versoek Retief om al sy mense na Umgungundlovu te bring, maar sonder hul perde. Ook beloof hy dat sy weermag in geheel teenwoordig sou wees, en dat laasgenoemde sou sing en dans. Hy onderneem ook om Retief van slagvee te voorsien by elke staning. Dingane het ook onderneem om grond aan Retief en sy mense af te staan.

1864 – Jan Brand as vierde President ingehuldig

Johannes Henricus (Jan) Brand word in Bloemfontein as die vierde President van die Republiek van die Oranje-Vrystaat ingehuldig.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Modderfontein

Generaal Smuts het die Britse pos by Modderfontein ingeneem. Brigadier-generaal Cunningham loods ’n aanval op Modderfontein, dog genl. Smuts slaan dit af. Cunningham word gedwing om te onttrek.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Kol. Grabe word aangeval

Die kommando’s van genl. Wynand Malan, Hugo, Pyper, Lategan en Smit val gesamentlik die mag van kol. Grabe aan. Grabe staan sy man, maar word gedwing om te onttrek. ’n Agterhoede-geveg is die gevolg waar 21 van Grabe se man sneuwel. Grabe slaan teen skemeraand naby “Waterval Farm”, Fraserburg distrik kamp op en grawe homself in. Grabe se posisie is egter nie baie goed nie en hy het etlike ernstige gewondes. Genl. Malan gee aan ’n Britse dokter vry pas na Fraserburg met die gewondes.

1915 – Afrikanerrebellie

Die oorgawe van Jan Kemp en Manie Maritz se rebelle vind by Upington plaas. Kemp self is so siek aan swartwaterkoors dat hy met ’n ambulans na Upington geneem is waar hy twee weke in die hospitaal deurbring.

1931 – Die ATKV gestig

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), voorheen die ATKV (SAS&H), is in Johannesburg gestig.

1937 – Die weekblad Die Brandwag verskyn

Met die verskyning van Die Brandwag in 1937 (eers as ’n tydskrifbylae by die dagblad Die Vaderland en vanaf September 1937 as ’n selfstandige tydskrif) herleef die strewe van die eerste Afrikaanse weekblad van hoë gehalte in die Noorde wat onder dieselfde naam, van 1910 tot 1922, die eerste pioniersbydraes in die ontwakende jong taal Afrikaans gepubliseer het. Hierdie nuwe Brandwag, begin met mnr. OE Schwellnus as redakteur, het spoedig, ook onder die redakteurskap van mnr. AM van Schoor, uitgebloei tot een van die twee grootste weektydskrifte in Afrikaans. Dit het bestaan tot September 1965 toe dit as tydskrifbylae by die Sondagblad Dagbreek en Landstem ingelyf is.

1990 – Ontbanning van ANC

President FW de Klerk kondig by die opening van die parlement aan dat die ANC en ander groepe ontban sou word en dat Nelson Mandela vrygelaat sou word. Dit lei tot die einde van apartheid en die daarstel van volle demokrasie in Suid-Afrika.

GEBOORTES

1787 – Charles Etienne Boniface, skrywer, musiekonderrig, dramaturg en joernalis († 10 Desember 1853)

Hy is in Parys, Frankryk, gebore, maar verlaat die land tydens die Franse Revolusie en kom in 1807 na vele omswerwinge in Kaapstad aan. Hier het hy hom by die Franse toneelgeselskap aangesluit. Hy was egter dikwels in een of ander vorm van onenigheid betrokke wat later tot sy ondergang sou lei. In 1844 vertrek hy saam met die drukker C Moll na Durban en rig ’n weekblad in Pietermaritzburg op. Hy lewer joernalistieke bydraes in Durban en talle skimpskrifte het uit sy pen gekom, waarvan baie as venynig en beledigend beskou was. As toneelmeester het hy baie jare ’n leidende rol gespeel en het ook ’n goeie musiekkennis gehad wat hy dikwels in sy toneelopvoerings met welslae aangewend het. Sy grootse triomf as satiriese skrywer was sy blyspel in vier bedrywe: De Nieuwe ridderorde, of de temperantisten (1832). De Temperantisten was die eerste gepubliseerde en ook oudste bestaande oorspronklike drama in Suid-Afrika. Die bewering word gemaak dat hy daarmee ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het. Hy is op 2 Desember 1853 in Durban oorlede.

1820 – George William Stow (†17 Maart 1882)

1857 – Johann Friedrich Bernhard (Johann) Rissik, landmeter en eerste administrateur van Transvaal († 26 Augustus 1925)

Johann Rissik was die eerste administrateur van Transvaal nadat die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gekom het, en hy was verantwoordelik vir die uitleg van Johannesburg en Benoni. Hy het in 1917 afgetree en is in 1925 oorlede.

1897 – Prof. Izak Daniël Bosman, professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria († 30 Maart 1947)

Izak Daniël Bosman, op 2 Februarie 1897 in die distrik Frankfort gebore, het hom as onderwysman en studentevriend maar ook as kultuurdraer en kultuurskepper onderskei. Hy het aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein gestudeer en in 1931 aan die Universiteit van Amsterdam in die Geskiedenis gepromoveer. Hy het onderwys gegee op Reddersburg, Vredefort en Bothaville voordat hy in 1935 professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria geword het waar hy tot met sy skielike heengaan op 30 Maart 1947 gewerk het. Izak Bosman met sy groot Boerehart het orals waar hy hom bevind het, offervaardig gedien, miskien die meeste deur die mooi voorbeeld wat hy gestel het. Die Afrikaanse kultuurlewe het hy verryk, hetsy deur steun te verleen aan bestaande organisasies of die skepping van nuwes. Teenoor die Afrikanerjeug het hy nooit onverskillig of afsydig gestaan nie.

STERFTES

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/