20 OKTOBER

GEBEURE

1859 – Hoeksteen van kerkgebou

Die hoeksteen van die oudste kerkgebou in Transvaal, die NG Kerk in Potchefstroom, gelê.

1885 – Die Boererepubliek Upingtonia kom tot stand

1899 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Talana

Baie vroeg op hierdie dag was die toneel gereed vir die eerste veldslag van die Tweede Vryheidsoorlog in Natal. Genl. Lucas Meyer se afdeling sou van Talanaheuwel die Britse magte onder genl-maj. W Penn Symons by Dundee aanval. Uit die noorde sou genl. DJE Erasmus ondersteun, terwyl genl. JHM Kock aan die suidekant moontlike Britse versterkings per spoor sou ontwrig. Ondanks akkurate artillerievuur vanaf Talanaheuwel deur kapt. JL (Lood) Pretorius se kanonne, kon die Boere geen beslissende oorwinning hier behaal nie, hoofsaaklik vanweë gebrekkige ondersteuning deur Erasmus. Genl. Penn Symons het weliswaar gesneuwel, terwyl sy opvolger, genl. JH Yule, besluit het om Dundee weens strategiese oorwegings te ontruim.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Frederikstad wat tot 25 Oktober 1900 sou duur

1915 – Tweede algemene verkiesing in die Unie (die eerste waaraan die Nasionale Party deelgeneem het)

Die verkiesingstryd wat hierdie algemene verkiesing voorafgegaan het, was buitengewoon heftig. Dit het geskied teen die agtergrond van die 1914-Rebellie en die opbloei van die Afrikaanse taalbeweging, wat gesamentlik meegewerk het tot ’n opstuwing van Afrikanernasionalisme en steun vir die Nasionale Party. In die verkiesingstryd het die Nasionale Party veral die Botha-bewind gekritiseer oor sy steun aan die Britse oorlogspoging en die regering se eenstroombeleid wat, volgens die Nasionale Party, die Afrikaner nog steeds in ’n posisie van ongelykheid gehou het. Die regering se optrede met die Rebellie het ook tot groot ontevredenheid gelei. Gevolglik is Louis Botha en die SAP daarvan beskuldig dat hulle hoofdoel was om die Britte tevrede te stel – al was dit ook ten koste van die Afrikanervolk. In die verkiesing het die SAP 94 000 stemme gekry en die Nasionale Party 78 000. In die Volksraad het die SAP 54 setels verower, die Unioniste 40, Nasionaliste 26, Arbeiders 4 en Onafhanklikes 6. Hoewel die Nasionale Party dus nog ’n minderheidsparty in die Volksraad was, was dit reeds duidelik dat dit die steun van ’n meerderheid Afrikaners geniet het.

GEBOORTES

1723 – Martin Melck, weldoener van die Lutherse Kerk in Suid-Afrika († 23 Februarie 1781)

Hy was een van die merkwaardigste figure aan die Kaap in die agtiende eeu. Hoewel hy in 1746 as arm soldaat in diens van die VOC na die Kaap gekom het, was hy 30 jaar later een van die welvarendste en mees gerespekteerde burgers in die land. As gebore Duitser het hy sy liefde vir sy vaderland en die Lutherse godsdiens nooit vergeet nie. Ten spyte van die teenkanting van die VOC, het hy aan die Lutherse gemeenskap twee erwe en ’n gebou geskenk wat in 1780, nadat die Kompanjie sy toestemming tot die stigting van ’n Lutherse gemeente gegee het, die Lutherse kerk aan die Kaap geword het. Op die erwe is die pastorie – tans bekend as Martin Melck-huis – en ’n kosters woning opgerig. Hierdie geboue kompleks staan vandag nog in Strandstraat, Kaapstad, ’n waardige monument vir ’n buitengewone man. Hy is in Memel, Oos-Pruise, gebore en op 23 Februarie 1781 op Stellenbosch oorlede.

1891 – Prof. Stephanus Petrus (SP) Engelbrecht, teoloog en kerkhistorikus († 20 Augustus 1977)

SP Engelbrecht is in die Standertonse distrik gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Middelburg (Tvl.) en Potchefstroom en studeer 1913 tot 1920 in Nederland. Hy was ’n groot vriend van Nederland en het hom beywer vir noue kerklike, akademiese en kulturele bande tussen Nederland en Suid Afrika. Van 1921 tot 1956 was hy professor in Kerk- en Dogmageskiedenis aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Sy hoofwerk was sy proefskrif aan die Rijksuniversiteit van Utrecht, Die Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (uitgebrei in 1925, 1936, en 1952). Hierdeur en deur die publikasie van talle gemeentegeskiedenisse, sy biografie Thomas Francois Burgers (1933, Engels 1947) en sy Historiese Album oefen hy as kerk-historikus, en ook as teoloog en kerkleier, groot invloed in ons land en veral in die kerk uit. Hy was lid en voorsitter van die staat se Argiefkommissie, sekretaris van die SA Akedemie vir Wetenskap en Kuns in 1930–1932 en het talle eretoekennings, ook van buite Suid Afrika gekry. Sy versameling boeke en argiefstukke in die SP Engelbrecht-museum en -argief word tereg landwyd van belang geag.

1920 – Peter Henry (PH) Nortjé, storieverteller en skrywer († 8 Junie 2012)

PH Nortjé was ’n skoolhoof en later vise-rektor van Wellington Onderwyskollege. As skrywer raak hy veral bekend vir sy jeugverhale en sy outobiografiese sketse en anekdotes.

1930 – Prof. Louis Cornelius Eksteen, leksikograaf († 13 Oktober 2001)

Louis Eksteen was ‘n Afrikaanse taalkundige en digter. Hy is in Windhoek gebore. Hy het aan die Universiteit van Pretoria en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer. Daarna was hy redaksioneel verbonde aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

1938 – Jan Scholtz, draaiboekskrywer, regisseur en rolprentvervaardiger († 20 Junie 2015)

Jan Scholtz was ’n Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger van rolprente en verskeie TV-reekse. Hy was die skrywer en/of regisseur van 20 vollengte rolprente.

STERFTES

1959 – Johan Lambertus Machiel Franken, kultuurhistoriese skrywer (* 10 Mei 1882)

Johan Lambertus Machiel Franken is op 10 Mei 1882 in Pretoria gebore. As kultuurhistoriese skrywer het prof. Franken op grond van deeglike argiefnavorsing waardevolle bydraes oor die Afrikaanse taal, Franse Hugenote aan die Kaap en die algemene Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer. Sy Taalhistoriese Bydraes is ’n waardevolle naslaanwerk. Die Argiefjaarboek van 1978 woord aan prof Franken gewy en bevat sy waardevolle bydraes oor die Franse Hugenote aan die Kaap.

1999 – Prof. Petrus Johannes (Piet) Cillié, latere redakteur van Die Burger en voorsitter van die Nasionale Pers (* 18 Januarie 1917)

Piet Cillié was van 1954 tot 1977 redakteur van die dagblad 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳, wat in Kaapstad gepubliseer word.

Hy was ’n stoere ondersteuner van die Nasionale Party en is beskou as “die mees invloedryke denker” naas dr. Hendrik Verwoerd in die vroeë tydperk van apartheid. Hy het in 1935 sy loopbaan as joernalis begin en het sy hele loopbaan lank by 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳 gewerk, eers as joernalis en later as hoofsubredakteur, buitelandse redakteur en toe as assistentredakteur totdat hy in 1954 redakteur geword het. Hy het ook die politieke rubriek onder die skuilnaam “Dawie” behartig.

Na sy aftrede as redakteur was hy verbonde aan die nagraadse departement van joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch wat op sy inisiatief gestig is. Hy was van 1978 tot 1983 verbonde aan hierdie departement, waarna hy van 1984 af lid van die raad van die Universiteit van Stellenbosch was. Hy het in 1981 die NP van Wyk Louw-gedenklesing gelewer onder die titel “Van Wyk Louw se rol in die vrymaking van die Afrikaner”.

Hy is op 20 Oktober 1999 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/