22 AUGUSTUS

GEBEURE

1650 – Die Here XVII besluit om verversingspos aan die Kaap te stig

Hierdie besluit het gelei tot die vestiging van die blankes in Suid-Afrika. Verskeie geografiese en politieke faktore het gelei tot hierdie belangrike besluit. Vir die handelskepe van die VOC op hul maande lange seereise na die Ooste was ’n verversingspos ’n vereiste. So ’n verversingspos was nodig vir die inneem van vars water, groente en vrugte en kon aan die siek en vermoeide seevaarders ’n kans bied om uit te rus en te herstel. Aangesien die seilskepe verplig was om van die heersende winde gebruik te maak, was Tafelbaai die aangewese plek vir so ’n “halfwegstasie”. Lank voor 1650 het Nederlandse vlote Tafelbaai gebruik om vars water in te neem en slagvee van die Khoi te ruil. Ook het die Engelse handelsvlote die baai gebruik, en in 1619 het die twee handelsmaatskappye daaraan gedink om ’n gesamentlike verversingspos daar te stig. Vanaf 1923 het die Engelse vlote meer begin handeldryf met Indië en minder na die Oos-Indiese eilande geseil. Vir die Nederlanders het Tafelbaai egter belangriker geword toe St. Helena-eiland se voorraad varke deur wildehonde uitgeroei is. Intussen het betrekkinge tussen Engeland en Nederland teen die middel van die sewentiende eeu so begin versleg dat daar vir oorlog gevrees is. Die Nederlandse maatskappy het besef dat hy die Engelse moet voorspring en die strategiese Tafelbaai moet beset. In Maart 1647 het ’n Nederlandse skip die Haarlem in Tafelbaai gestrand. Die bemanning het gelukkig die strand bereik en het daarin geslaag om voorrade van die skip te berg, maar hulle moes feitlik ’n hele jaar hier vertoef. Tydens hul verblyf is groentetuintjies aangelê, wild gejag en vee van die Khoi geruil. Selfs ’n fortjie is as verblyfplek gebou. Hierdie geval het die Here XVII beweeg om ernstige aandag aan ’n permanente verversingspos te gee. Die bevelvoerder van Haarlem is gevra om ’n verslag op te stel. Die verslag wat deur Janszen en Proot onderteken is, was so gunstig dat die Here XVII besluit het om die verversingspos te stig.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Roodepoortpas (Warmbad), ZAR

1952 – Die Ossewa-Brandwag (OB) amptelik ontbind

Die OB is aanvanklik gestig as kultuurorganisasie. Later het dit ontwikkel as politieke organisasie wat deelname teen die Tweede Wêreldoorlog sterk teengestaan het. Die OB is in 1942 deur die regering as verbode organisasie verklaar.

1997 – Potchefstroomse studente verbreek ’n 60 jaar lange kerkverbod op dans

 

GEBOORTES

1831 – Catharina Felicia van Rees, skryfster van die Volkslied van die ZAR († 1 April 1915)

Catharina Felicia van Rees is op 22 Augustus 1831 op Zutphen gebore. Omstreeks 1855 was sy lid van ’n kring musiserende jong mense van Utrecht, waartoe ook die Kaapse teologiese student Thomas Francois Burgers destyds behoort het. Hul liefde vir musiek het tot ’n lewenslange vriendskap gelei. Sy was nie net ’n begaafde komponiste nie, maar ook die outeur van ’n groot aantal artikels en boeke. Haar bekendste werk as komponiste is “De Transvaalsche Volkslied”, in 1875 in Bonn geskrywe en getoonset op versoek van Staatspresident Burgers. Op 14 Oktober het sy die volkslied aan hom oorhandig, waarna dit op 7 Januarie 1876 op Arnhem in die openbaar gespeel en later in dieselfde jaar deur die Transvaalse Volksraad as Volkslied aanvaar is. Van toe af het dit naas die Vierkleur – ’n besondere plek in die lewe van die Boerevolk verower en ook in Westerse lande bekendheid verwerf, soms in vertaalde vorm.

1853 – Ds. Bernard Petrus Jacobus Marchand, predikant († 5 Oktober 1917)

Ds. Marchand was predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en een van die stigters van die arbeidskolonie op Kakamas, ’n besproeiingskema waarvan die doel was om armblankes op te hef. In dié omgewing is die NG gemeente Marchand na hom genoem.

1909 – Pierre de Wet, rolprentregisseur, vervaardiger en skrywer († 24 Junie 1990)

Pierre de Wet word as die vader van die Afrikaanse rolprent beskou.

Hy was ’n legendariese akteur, draaiboekskrywer en regisseur wat in 1931 sy debuut as akteur in 𝘔𝘰𝘦𝘥𝘦𝘳𝘵𝘫𝘪𝘦, die heel eerste Afrikaanse rolprent, gemaak het. In 1946 het hy 𝘗𝘪𝘯𝘬𝘪𝘦 𝘴𝘦 𝘦𝘳𝘧𝘦𝘯𝘪𝘴, die eerste van sy 21 rolprente, vervaardig. In 1949 het hy vir die eerste keer met Al Debbo en Frederik Burgers saamgespan toe hy met 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥, die eerste Afrikaanse musiekrolprent, vorendag gekom het.

Hul vennootskap het daarna rolprente soos 𝘏𝘪𝘦𝘳’𝘴 𝘰𝘯𝘴 𝘸𝘦𝘦𝘳, 𝘈𝘭𝘭𝘦𝘴 𝘴𝘢𝘭 𝘳𝘦𝘨𝘬𝘰𝘮, 𝘈𝘭𝘵𝘺𝘥 𝘪𝘯 𝘮𝘺 𝘥𝘳𝘰𝘮𝘦 en 𝘋𝘪𝘴 𝘭𝘦𝘬𝘬𝘦𝘳 𝘰𝘮 𝘵𝘦 𝘭𝘦𝘸𝘦 opgelewer. Hy het egter die regie van ander Afrikaanse rolprente ook behartig, onder meer 𝘕𝘰𝘰𝘪 𝘷𝘢𝘯 𝘮𝘺 𝘩𝘢𝘳𝘵, 𝘖𝘶𝘱𝘢 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘱𝘭𝘢𝘢𝘴𝘯𝘰𝘰𝘪𝘦𝘯𝘵𝘫𝘪𝘦, 𝘔𝘢𝘵𝘪𝘦𝘭𝘢𝘯𝘥, 𝘌𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘰𝘯𝘬𝘦 𝘴𝘱𝘢𝘵 en 𝘗𝘪𝘦𝘵 𝘴𝘦 𝘵𝘢𝘯𝘵𝘦.

Sy laaste optrede as akteur was in die eerste reeks van Franz Marx se uiters suksesvolle reeks 𝘈𝘨𝘵𝘦𝘳 𝘦𝘭𝘬𝘦 𝘮𝘢𝘯, waarin hy die rol van Albert Jooste vertolk het. Hy is op 24 Junie 1990 in die ouderdom van tagtig jaar aan ’n hartaanval oorlede.

 

STERFTES

1942 – Pieter Gert Wessel (Piet) Grobler, politikus en adviseur vir pres. Paul Kruger (* 1 Februarie 1873)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/