24 APRIL

GEBEURE

1652 – In houthutte op strand

Die vroue en kinders wat saam met Jan van Riebeeck aangekom het aan boord van die drie skepe, die Reijger, die Goede Hoop en die Drommedaris in Tafelbaai, word van die skepe na houthutte op die strand verskuif.

1822 – Hoeksteen van Nederduitse Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet gelê

Die hoeksteen van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet, die 6de oudste kerkgebou in SA, word gelê. Dit is nou die Hester Rupert Kunsmuseum.

1900 – Ammunisiefabriek ontplof in Johannesburg

Vrese dat die Boere Johannesburg se goudmyne in die Anglo-Boereoorlog sou opblaas om die Britse opmars in Transvaal te stuit, het die inwoners van Johannesburg om halfses die aand van 24 April 1900 regop laat sit toe ’n oorverdowende slag die stad geruk het. Vlamme het 100 m hoog die lug ingeskiet, gevolg deur ’n wit rookkolom en groen paddastoel wat dit moeilik gemaak het om asem te haal. Dit was egter nie die myne nie maar die Begbie-ammunisiefabriek wat saam met huise deur ’n ontploffing verwoes is. Twaalf mense is dood en 30 beseer. Niks is ooit bewys nie, maar alle Engelse wat nog daar gewoon het, is teruggetrek. Net sowat 100 onmisbare tegnici, het agtergebly. Herstelwerk het dadelik begin en volle produksie kon hervat word voor Johannesburg vyf weke later binnegeval is.

 

GEBOORTES

1889 – Pieter Johannes Hendrik Coetsee, onderwyser, toneelmens en een van die eerste Afrikaanse omroepers († 15 Mei 1964)

Pieter Coetsee is in die Noordoos-Kaap as seun van ’n Kaapse rebel gebore in die dae toe dominee MPA Coetsee jr. leraar was van die plaaslike Gereformeerde kerk en professors Dirk Postma en Jan Lion Cachet die dosente aan die Teologiese Skool Burgersdorp. In die moeilike jare ná die Rebellie (1914), die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die arbeidsonluste aan die Rand (1922) het oom Pieter, soos hy algemeen bekendgestaan het, waardevolle kulturele vormingswerk in die suidelike voorstede van die Goudstad verrig.

Hy was onderwyser aan die Turffonteinse Afrikaansmediumskool, ’n kerkraadslid van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid, ’n toneelmens en toegewyde afrigter van deelnemers aan die kunswedstryde van die Afrikaanse Kunsvereniging. Die Turffonteinse Asafkoor, wat later wyd bekend sou word, is in 1924 aan sy huis gestig en in die beginjare van die Afrikaanse radio was hy dikwels agter die mikrofoon. Hy het blykbaar ook in die rolprent Die bou van ’n nasie (1938) opgetree.

 

STERFTES

1980 – William Ewert Gladstone (WEG) Louw, digter en letterkundige (* 31 Mei 1913)

WEG Louw was ’n Afrikaanse digter en die jonger broer van die skrywer en digter NP van Wyk Louw.

Hy is op 31 Mei 1913 in Sutherland in die Noord-Kaap gebore en het van 1931 tot 1935 aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Hy het sy MA-graad behaal met ’n verhandeling oor die poësie van JH Leopold. Hy het sy studies aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland voortgesit, waar hy ’n DLitt-graad behaal het.

In November 1938 het hy teruggekeer en nog ’n doktorsgraad verwerf, hierdie keer met ’n verhandeling getiteld “Die invloed van Goter op Leopold”. In 1944 is hy met die komponis Rosa Nepgen getroud. Die volgende jaar het hy die onafhanklike tydskrif 𝘚𝘵𝘢𝘯𝘥𝘱𝘶𝘯𝘵𝘦 saam met sy broer NP van Wyk Louw en HA Mulder begin.

2012 – Annake de Villiers, violis (* 19 Junie 1975)

Annake de Villiers was ’n veelsydige Suid-Afrikaanse violis. Sy het solo-uitvoerings aangebied en saam met verskeie simfonieorkeste opgetree. Sy het ook saam met talle kunstenaars, waaronder Lize Beekman, Rocco de Villiers, Coenie de Villiers en die pianis Janine Neethling opgetree.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook