
24 FEBRUARIE
GEBEURE
1862 – Edenburg gestig
Minder as drie jaar ná die stigting van Reddersburg in die Vrystaat in 1859 op die plaas Vlakfontein deur lidmate van die Gereformeerde Kerk, is die nedersetting van Edenburg 26 km daarvandaan, op 24 Februarie 1862 op die plaas Rietfontein gestig om ’n kerk te bou. Oud-senator Lizzie Bezuidenhout wat navorsing oor Vrystaatse plekname gedoen het, het jare gelede vertel dat Edenburg ontstaan het nadat ’n kerktwis op Reddersburg uitgebreek en lidmate opgepak en weggetrek het om ’n nedersetting te stig wat hulle Eden genoem het omdat hulle bevry was van die mense van Vlakfontein. Reddersburg het sy naam gekry omdat die bewoners dit as ’n Redding van Bo gesien het … Die ou Gereformeerde Kerk op Reddersburg, nou die Postmasaal, is die oudste bestaande kerkgebou van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Edenburg kan afgesien van ’n verwysing na die Bybelse Tuin van Eden, ook vernoem gewees het na Edinburg(h) in Skotland waar ds. Andrew Murray gebore is, wat lank die enigste predikant in die Vrystaat was. Die oudste Sendingkerk van die Berlynse Sendinggenootskap staan 16 km noord van dié dorp.
1866 – Die Nederduitsch Hervormde kerkgebou Potchefstroom word deur ds. Dirk van der Hoff ingewy
Op hierdie dag is die huidige kerkgebou van die Nederduitse Hervormde gemeente Potchefstroom deur ds. Dirk van der Hoff ingewy. Die hoeksteen was al op 20 Oktober 1859 gelê, maar binnelandse onrus het die voltooiing van die gebou vertraag. Die plegtige inwyding is ook destyds bygewoon deur die President en die hele Volksraad, wat selfs sy sitting opgeskort het om die feesviering te kan bywoon. In die kerkgebou is ’n pragtige geelhoutpreekstoel wat in Natal gemaak is, terwyl die orrel in 1891 in die kerkgebou geplaas is. Die banke, plafon en beligting dateer ook uit hierdie tyd. In 1965 is hierdie kruiskerk, die oudste kerkgebou in Transvaal, tot ’n historiese monument verklaar. So word hierdie pragtige voorbeeld van ons vroeë kerkboukuns bewaar.
1877 – Diggers News verskyn
’n Koerant, die Diggers News, verskyn in Johannesburg.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Plewman’s Farm, Arundel, Colesberg
1905 – Nederduitsch Hervormde-kerk in Du Toitstraat, Pretoria, ingewy
Die Nederduitsch Hervormde-kerk in Du Toitstraat, Pretoria, word ingewy deur prof. PJ Muller – die eerste predikant in Transvaal om ’n geestelike kleed aan te trek.
1968 – Die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) geopen
Die Randse Afrikaanse Universiteit het tot stand gekom ingevolge Wet nr. 51 van 1966, waarin die Randse Afrikaanse Universiteit omskryf is as Afrikaans in gees en karakter, en dat die beginsels vervat in die aanhef van die Grondwet van die Republiek aan die RAU gehandhaaf sal word. Die Universiteit is op 24 Februarie 1968 amptelik geopen. Sy eerste kanselier, dr. N Diederichs, is ingehuldig, nadat die eerste 741 studente hulle op 3 Februarie begin inskryf het en die eerste lesings op 13 Februarie aangebied is. In die eerste sewe jaar is van ’n tydelike kampus in Braamfontein, Johannesburg, gebruik gemaak totdat die moderne nuwe kampus op 24 Mei 1975 deur dr. Diederichs, Staatspresident en Kanselier van die universiteit, amptelik geopen is. Die RAU is ’n universiteit van die grootstad en staan in die besonder in diens van die Afrikaanse gemeenskap. Deur sy Afrikaanse gees en karakter wil die Universiteit die kultuur, lewensbeskouing en strewe van die Afrikanervolk bevorder en verryk. Hy wil jong Afrikaners help vorm en ontwikkel om volwaardig hul regmatige plek in die intellektuele, kulturele, geestelike, ekonomiese en professionele lewe van ons vaderland in te neem.
GEBOORTES
1882 – Bosman di Ravelli (Jan Gysbert Hugo Bosman), pianis en komponis van kunsliedere († 20 Mei 1967)
Jan Gysbert Hugo Bosman het hom in Leipzig as pianis bekwaam en het onder die skuilnaam Bosman de Ravelli reeds voor 1910 konsertreise deur ons land onderneem. Hy het in 1908 van die heel eerste Afrikaanse kunsliedere gekomponeer. Nadat hy byna vyftig jaar in die buiteland gewoon het, het hy in 1957 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is op 20 Mei 1967 oorlede.
1919 – SJA (Ina) de Villiers, skrywer van seker die bekendste kookboek in Suid-Afrika, Kook en Geniet († 20 September 2010)
Ina de Villiers was die skrywer van die Afrikaanse kookboek, Kook en Geniet, wat ook in Engels vertaal is. Daar is in 2005 geskat dat meer as ’n half miljoen Afrikaanse eksemplare verkoop is. Teen die tyd van die skrywer se dood het verkope in beide tale meer as ’n miljoen oortref, wat dit die suksesvolste Suid-Afrikaanse kookboek ooit maak. Sedert die eerste uitgawe tot die outeur se dood was die boek nooit uit druk gewees nie.
STERFTES
2016 – Leon Rousseau, skrywer en stigterslid van Human & Rousseau (* 5 Maart 1931)
Leon Rousseau was ’n uitgewer en saam met Koos Human medestigter van die uitgewersfirma Human & Rousseau. As Afrikaanse skrywer word hy veral bekend vir sy wetenskapfiksie-reeks oor Fritz Deelman en sy biografie oor Eugène Marais, “Die groot verlange”, waarmee hy die CNA-prys verwerf.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook