24 JULIE

GEBEURE

1839 – Nuwe redakteur

Sir Christoffel (Joseph) Brand volg sy broer, PA Brand, as redakteur van De Zuid-Afrikaan op. Hy was ’n prokureur en een van die stigters van die publikasie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Vredefort/Stinkhoutboom, OVS; Klerksdorp; Groot Olifantsrivier, ZAR

1901 – Anglo-Boereoorlog: C Claassen tereggestel

C Claassen is op Somerset-Oos, Oos-Kaap, skuldig bevind aan verraad en tereggestel omdat hy perde vir ’n Boere-invalskommando opgepas het.

1929 – Suid-Afrika se eerste kommersiële lugredery gestig

Suid-Afrika se eerste kommersiële lugredery was Union Airways, wat op 24 Julie 1929 deur ‘n vlieënier van die Eerste Wêreldoorlog, maj Allister Miller gestig is.. Dit is tussen 1929 en 1934 as ‘n onafhanklike maatskappy bedryf, voor die regering dit oorgeneem en die Suid-Afrikaanse Lugdiens gestig het. Dit was aanvanklik ‘n lugposdiens, maar het twee maande later begin om passasiers te vervoer. Die lugpos is tussen Kaapstad en al die hoofsentra in die land versend, terwyl pos uit Brittanje Maandae van Union Castle-skepe in die Kaapstadse hawe afgehaal is en eers na Port Elizabeth gevlieg is, voor dit verder na Bloemfontien en Johannesburg of na Oos-Londen en Durban geneem is. Union Airways se vloot het aanvanklik uit vyf DH60 Gypsy Moths bestaan met ‘n Fokker Super Universal en twee Puss Moths wat in 1930 bygevoeg is. Al drie het die volgende jaar ongelukke gehad, waarvan twee noodlottig was. Om hulle te vervang, het Union Airways Junkers van die Suidwes-Afrika Lugdiens aangekoop wat deur die Junkers korporasie in Duitsland besit is. Die eerste passasiers was op ‘n vlug tussen Kaapstad en Oos-Londen. Die oorname van die redery deur die regering het afgesien van alle bates, ook 40 personeellede ingesluit.

1964 – Die Johannesburgse stasiebom ontplof

Tydens spitstyd op Vrydagmiddag 24 Julie 1964 het ’n bom by die Johannesburgse stasie ontplof. Een van die beseerdes, ’n bejaarde vrou, is dae later in die hospitaal dood. Die bomplanter, John Harris, is op die dag van die ontploffing gearresteer, voor die einde van 1964 verhoor, skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel. Sy appèl was onsuksesvol en hy is op 1 April 1965 gehang.

 

GEBOORTES

1918 – Dr. Georg Siegfried Johannes (Sieg) Kuschke, Suid-Afrikaanse nyweraar en finansiële deskundige († 27 Julie 1971)

Georg Siegfried Kuschke wat bestem was om een van Suid-Afrika se voorste nyweraars te word, is in Johannesburg gebore. Sy studie in die geologie het hy aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria voltooi. In 1943 word hy by die Nywerontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika (NOK) aangestel en in 1959 word hy hoofbestuurder, in 1964 besturende direkteur en in 1970 voorsitter van die raad – ’n dienstermyn waarin hy veel gedoen het om die ontwikkeling en gedeeltelike finansiering van geselekteerde Suid-Afrikaanse nywerhede te bevorder. Hy is op 27 Julie 1971 in Johannesburg oorlede.

1972 – Franci Swanepoel, aktrise († 16 Oktober 2022)

 

STERFTES

1866 – Ds. Andrew Murray, een van die eerste Skotse predikant en sendeling; vader van dr. Andrew Murray (* 26 Mei 1794)

Ds. Andrew Murray was een van die eerste Skotse predikante wat goewerneur lord Charles Somerset na Suid-Afrika laat kom het om enersyds die tekort aan predikante te help verlig maar andersyds veral lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te help verengels. Hy was ook die vader van vyf seuns wat almal predikant geword het, onder wie dr. Andrew Murray en prof. John Murray, en die stamvader van die Murray-familie onder wie tallose predikante en sendelinge tel.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/