
25 JANUARIE
GEBEURE
1728 – Tieleman Roos gedoop
Saam met drie ander vooraanstaande Kaapse burgers, is Tieleman (Thieleman) Roos, ’n wynboer van Drakenstein, op 7 Mei 1779 in die geheim deur 404 medeburgers met volmag as afgevaardigdes aangewys om na Nederland te gaan om daar die griewe van die burgers teen die Kaapse regering onder die Here XVII se aandag te bring. Na hulle aankoms in die vaderland, het hulle ’n lywige petisie, gedateer 9 Oktober 1779, opgestel wat hulle ’n week later voorgelê het aan die Here XVII, van wie hulle die belofte gekry het dat die saak ondersoek sou word. Hoewel uiteindelik min deur hierdie poging vermag is, was Roos een van die leiers van die Patriotte-beweging, waarby die eerste tekens van groepsbewussyn onder die Afrikaners na vore getree het.
1838 – Piet Retief vertrek vir die tweede keer na Dingaan
1901 – Pres. MT Steyn word te velde vir ’n verdere ampstermyn as President van die Oranje-Vrystaat herkies
Volgens die Vrystaatse grondwet het pres. Steyn se ampstermyn aan die begin van 1901 verstryk, en omdat die Volksraad vanweë die oorlog nie ’n kandidaat kon aanwys nie, het die algemene krygsraad dit by Doornberg digby Allemanskraal, op hom geneem en is pres. Steyn op hierdie dag vir ’n verdere termyn deur die aanwesige burgers verkies en plegtig voor die huis van genl. APJ Cronjé beëdig.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Viljoen gevang
Generaal Ben Viljoen loop homself vas in ’n hinderlaag naby Lydenburg en word gevang. Twee van sy staf-lede betaal die hoogste prys. Hul was verraai deur ’n anderskleurige persoon wat 5 pond vir sy werk ontvang het. Generaal Chris Muller neem bevel in die noordelike gebied oor. Generaal Viljoen se broer Willem neem bevel oor.
1917 – NH Kerk se predikante-opleiding begin by die ou Transvaalse Universiteitskollege
Op hierdie dag het die Kuratorium vir die Teologiese Opleiding van die NH Kerk dr. JHJA Greyvenstein as eerste professor vir die Teologiese Fakulteit van die ou Transvaalse Universiteitskollege benoem. Dit word dan die begin van hierdie kerk se eie predikante-opleiding.
1981 – Laingsburg-ramp
Op hierdie Sondag het een van die ergste natuurrampe in die Suid-Afrikaanse geskiedenis Laingsburg in die Karoo (Wes-Kaap) getref. ’n Watermassa het op die dorp afgestorm. Die Buffelsrivier het sy walle oorstroom en die water het alles in sy pad meegesleur. Die water het vier meter oor die damwal van die Floriskraaldam gestroom. Altesaam 104 mense is gedood terwyl onder andere 185 woonhuise, die Jan Vorster-ouetehuis, 23 sakegeboue en vier rondawels deur die water weggevee is.
GEBOORTES
1913 – Sidney Robey Leibbrandt, bokser en politieke stormvoël († 1 Augustus 1966)
Sidney Robey Leibbrandt is op Potchefstroom gebore. As bokser bereik hy in 1936 die halfeindronde op die Olimpiese Spele in Berlyn, waar sy bewondering vir die Duitse Führer, Adolf Hitler, gestimuleer is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog bevind hy hom in Duitsland, terwyl die Unieregering Engeland teen Duitsland steun. Met behulp van die Duitse Weermag, keer hy in 1941 in die geheim na Suid-Afrika terug met die seilboot Kyloe en maak kontak met die Ossewa-Brandwag, wat ten sterkste teen die Regering se oorlogsbeleid gekant was. Hy bring ’n kerngroep van 300 man op die been om die Smuts-regering in sy oorlogspoging te verlam. As rebel het hy in die Afrikanersaak geglo en wou hy sy volksgenote (soos Hitler) tot ongekende hoogtes aanspoor. Na sy inhegtenisneming word hy in 1943 ter dood veroordeel, wat later in lewenslange gevangenisskap verander is. Hy is in 1948 vrygelaat, en op 1 Augustus 1966 is hierdie figuur uit die tyd van die Ossewa-Brandwag oorlede.
1942 – Marga van Rooy, aktrise († 15 Januarie 2017)
Ons almal onthou Worsie se ma uit die gewilde komediereeks Vetkoekpaleis. Dié rol is vertolk deur Marga van Rooy, wat ook in ander televisiereekse soos Egoli-plek van goud, 7de Laan en Villa Rosa, en rolprente soos Pappa Lap, Eendag op ’n reëndag en Die windpomp te sien was.
STERFTES
1974 – Stephanus Petrus (SP) le Roux, politikus en ’n minister van landbou (* 4 Maart 1891).
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.