26 FEBRUARIE

GEBEURE

1852 – Die Birkenhead strand

’n Skip, die Birkenhead strand naby Danger Point. Aan boord was gewees 638 passasiers. Slegs 184 sou lewend aan die ramp ontkom. Die meerderheid passasiers aan boord was Britse soldate gewees.

1876 – Die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal gepubliseer

Die voorstanders van Afrikaans het dadelik besef dat ’n Afrikaanse spraakkuns onontbeerlik is. Nog voor die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners skryf Een Ware Afrikaander (ds. SJ du Toit) op 30 Januarie 1875 aan Klaas Waarzegger jr. (CP Hoogenhout) oor die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal onder meer Die eerste vraag sal wees … wat is die Afrikaanse taal? Die eerste boekies is geskryf en gedruk ooreenkomstig ’n bepaling in die statute van die GRA. Die naam van die vroegste werkie is Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal (1876), wat veral die hand van ds. SJ du Toit verraai, maar waaraan ook eerw. JW van der Rijst en CP Hoogenhout meegewerk het. Dit was maar dun en het slegs 29 bladsye leesstof bevat. Ses jaar later is dit herdruk en in 1897 deur ds. Du Toit enigsins omgewerk, toe 6 000 eksemplare van die Fergelykende Taalkunde fan Afrikaans en Engels, soos dit nou heet, gedruk is. In 1902 was ’n herdruk al nodig. Die GRA is op hulle vergaderings gereeld op die hoogte gehou van die vordering wat gemaak is met die skryf en publikasie van Eerste Beginsels.
1901 – Benguella verlaat Delagoabaai

Die Portugese skip, Benguella, verlaat Delagoabaai met ongeveer 700 Boerekrygsgevangenes aan boord.

 

GEBOORTES

1915 – Elisabeth Françoise (Elisabeth) Eybers, bekroonde digter en ontvanger van die Hertzogprys († 1 Desember 2007)

Elisabeth Françoise Eybers was ’n Afrikaanse digteres, en die eerste vrou wat ’n Hertzogprys vir poësie gewen het. Haar belangrikheid in die Afrikaanse poësie is geleë daarin dat sy begin het om die vrou se ervaringswêreld – die kennismaking met die liefde, swangerskap en geboorte, maar later ook besinnings oor die middeljare – te beskryf. Sy sterf in Amsterdam aan hoë ouderdom.

 

STERFTES

1904 – Johannes Henoch Neethling, een van die groot predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die tweede helfte van die 19de eeu (* 4 Desember 1826)

Johannes Henoch Neethling was lid van ’n driemanskap, bestaande uit homself en proff. NJ Hofmeyr en J Murray, wat hulle in die besonder beywer het vir die stigting van opvoedkundige inrigtings. So is in 1866 die Stellenbosch-Gimnasium (Later Paul Roos-Gimnasium) gestig, waarvan ’n gedeelte later ontwikkel het in die Victoria-kollege, en dit het in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword. Die Meisieskool Bloemhof, is in 1875 gestig. Ds. Neethling het in 1863 met die stryd teen die liberalisme in die kerk ’n kragtige bydrae vir die ortodokse standpunt gelewer. Hy is op 26 Februarie 1904 in die bediening op Stellenbosch oorlede.

1935 – August Ahrbeck, predikant en taalstryder (* 15 Augustus 1851)

1956 – Louisa Frederika Meyburgh, geneesheer, beyweraar vir armesorg (* 8 Augustus 1876)

Louisa Frederika Meyburgh was ’n merkwaardige dame. Na haar is reeds verwys as Port Elizabeth se eerste Afrikaanse predikant, Port Elizabeth se vroue-predikant, die moeder van die Moedergemeente (PE), die moeder van die NG Kerk in Port Elizabeth, die goeie Engel van Port Elizabeth, ’n Engel van die Lig en ’n Heldin van die stad. Sy is op 8 Augustus 1876 in Graaff-Reinet gebore en het in Cradock grootgeword. In 1900 het sy om gesondheidsredes na Part Elizabeth gekom, waar sy haar lewensroeping sou vervul. Port Elizabeth was toe ’n buitewyk van die gemeente Uitenhage. ’n Eie NG gemeente in Port Elizabeth is eers in 1907 gestig. Mej. Meyburgh, wat diep godsdienstig was, het haar duidelik die lot van haar verarmde geloofs- en volksgenote aangetrek. Sy het geestelike en maatskaplike werk onder hulle begin doen, want geen Afrikanergesin durf vir kerk en volk verlore gegaan het nie. En weldra word die hele stad haar arbeidsveld. Sy bearbei die gemeente-in-wording feitlik op haar eie. In 1901 het sy met ’n Sondagskoolklas en ’n biduurkring begin. Sy hou selfs dienste, lei begrafnisse en beywer haar met hart en siel vir die stigting van ’n eie NG gemeente in die hawestad. Op die armesorgakker lewer sy ’n bydrae van monumentale omvang. Vir die hulpbehoewende Afrikaner was sy geneesheer, verpleegster, sieketrooster, landdros, raadgeefster, ’n vriendin en ’n moeder. Haar lewe was een van onbaatsugtige naastediens. Ter nagedagtenis van haar is ’n tehuis vir bejaardes, Huis Louisa Meyburg, in 1976 in Port Elizabeth opgerig.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/