26 MAART

GEBEURE

1840 – Wellington kom tot stand

Wellington, aanvanklik bekend as “Wagenmakersvallei”, is op hierdie dag aangelê. Die naam is moontlik afgelei van die feit dat ’n wamaker daar woonagtig was, of andersins omrede die bome in die omgewing wat geskik was om waens van te maak. Hoe ook al, vanaf 1840 het die dorp bekend gestaan as Wellington. Wellington se huidige naam is afgelei van die Hertog van Wellington wat Napoleon in 1815 by Waterloo verslaan het. Die Hugenoteplaas “Champagne” was reeds in 1838 vir hierdie doel aangekoop omrede daar ’n behoefte aan ’n kerk was.

1842 – Eerste gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal gestig

Op hierdie dag het ds. Daniël Lindley wat deur die Voortrekker-Volksraad in Natal as predikant van die onafhanklike Voortrekkerkerk aangestel is, sy eerste godsdiensoefening in Potchefstroom gehou. By die geleentheid het hy die sewe kerkraadslede, wat op 23 Februarie deur die Volksraad goedgekeur is, in hulle ampte bevestig. Dit kan as die stigtingsdatum van die eerste gemeente in Transvaal beskou word en die begin van die georganiseerde kerklike lewe aldaar. Hierdie eerste kerkraad het bestaan uit die ouderlinge FG Wolmarans en PJ van Staden en die diakens PF Strydom, P du Preez, G Maree en SP Viljoen. By die godsdiensoefeninge is vir die eerste maal in Transvaal die Nagmaal bedien, terwyl 189 kinders gedoop is en 103 lidmate belydenis van geloof afgelê het. Die gemeente Potchefstroom het aanvanklik die hele Voortrekkergebied noord van die Vaalrivier omvat. Uit hierdie gemeente het die ander gemeentes voortgekom wat in 1853 sinodaal saamgesnoer is deur die eerste Algemene Kerkvergadering van die Ned. Hervormde Kerk.

1861 – Engelse regering hang Hans (Dons) de Lange op

1878 – Sabie-wildtuin gestig

Die eerste wildtuin ter wêreld en die voorloper van die Kruger Nasionale Park, naamlik Sabie-wildtuin, is gestig.

GEBOORTES

1846 – Kmdt. Christoffel Cornelis Froneman, Vrystaatse bevelvoerder en stigter van die dorp Marquard († 12 Maart 1913)

Christoffel Cornelis Froneman, gebore op 26 Maart 1846, het op jeugdige ouderdom aan die laaste Basoeto-oorlog deelgeneem en dwarsdeur die Anglo-Boereoorlog as Vrystaatse kommandant en assistent-hoofkommandant aktief en dapper die stryd meegemaak. As een van die Vrystaatse afgevaardigdes by die vredesonderhandelings by Vereeniging, verklaar hy dat hy kans sien om minstens nog ’n jaar aan die stryd deel te neem. Na die oorlog vestig hy hom in die distrik Marquard waar hy hom beywer vir die stigting van die dorp Marquard.

1856 – Christiaan Willem Hendrik van der Post, lid van die Volksraad in die Vrystaat, konsul van Nederland en digter († 20 Augustus 1914)

Christiaan Willem Hendrik van der Post is in Leiden, Nederland, gebore. Hy kom as driejarige saam met sy ouers in 1859 na SA. As gevolg van sy vader se sieklikheid moes Christiaan op vyftienjarige ouderdom na drie maande formele skoolopleiding in 1871 begin werk. Sy ouers se onderrig stel hom in staat om as private onderwyser te begin werk. Hy studeer intussen en behaal sy onderwyssertifikaat, waarna hy as onderwyser na Philippolis, OVS, vertrek. Na ’n aantal jare as onderwyser aan Grey-Kollege lê hy hom in 1881 op die regte toe en vestig hom as vennoot in ’n groot regspraktyk op Fauresmith. In 1885 trou hy met Johanna Lubbe, en hy word in 1887 gekies tot lid van die Volksraad van die OVS. Hy tree op as konsul vir Nederland, ’n pos wat hy in die oorlog verruil vir ’n kommandantskap. Hy word gevange geneem en vertrek op parool na die Kaapkolonie. In 1906 vestig Van der Post hom weer op Philippolis sonder om die Eed van Getrouheid af te lê en verteenwoordig Philippolis van 1907 tot 1910 in die Parlement. Na Uniewording onttrek hy hom aan die politiek. Uit sy pen kom Piet Uys en Ignas Prinsloo en ook talle gedigte en vertalings uit Engels.

STERFTES

1861 – Johannes Hendrik (Hans Dons) de Lange, Voortrekkerverkenner (* 8 Desember 1799)

Johannes Henricus de Lange (sy bynaam Hans Dons was waarskynlik toe te skryf aan sy yl koperblonde kennebaard) is in Graaff-Reinet gebore. Hy het hom uit die distrik Albanie by die Groot Trek na Natal aangesluit. Natal, wat hy in 1832 op ’n jagtog en in 1834 as lid van Piet Uys se verkenningstog besoek het, het hom bekoor. Hierdie skoonseun van Piet Retief was ’n groot, ruwe, onverskrokke jagter, baasverkenner en krygsman, wat hom o.m. in die Slag by Bloedrivier onderskei het. Elf dae later het hy die Trekkers van uitwissing gered deur die Karel Landman-kommando, wat uit sowat 300 ruiters bestaan het, uit ’n Zoeloe-hinderlaag in die Wit Umfolozi-vallei te red. In sy avontuurlike verblyf van 23 jaar in Natal het hy die wel en wee van die Trekkers meegemaak. Sy seun, Johannes Hendrik (gedoop op 10 Desember 1837), was die eerste Trekkerkind wat in Natal gebore is. Op 26 Maart 1861 is Hans Dons de Lange in Ladysmith tereggestel weens beweerde moord op ’n swart man, Ncatiya. Hy is begrawe op die plaas Driefontein, van sy skoonseun Izak (Leeuboud) van Niekerk, waar op 31 Mei 1955 ’n gedenkteken onthul is.

1965 – Emile Hullebroeck, liedjieskrywer en toonsetter van Afrikaanse liedjies (* 20 Februarie 1878)

Die Vlaamse orrelis, koorleier, komponis en sanger, Emile Hullebroeck, is op 20 Februarie 1878 in Gentbrugge in Vlaandere gebore en het ’n besondere geneentheid teenoor die Afrikaner geopenbaar. Hy het Suid-Afrika in 1920 besoek, liederaande landwyd gehou, en daarna veel gedoen om die bande tussen Vlaandere en Suid-Afrika nouer te trek. Bekende Afrikaanse liedjies soos “Lamtietie, damtietie”, “Trou”, “Vryheidslied”, “Grietjie” en “Die studentejare gaan verby”, is van sy toonsettings.

1902 – Cecil John Rhodes, Brits-Kaapse mynmagnaat, imperialis en eerste minister van die Kaapkolonie (* 5 Julie 1853)

2013Morkel van Tonder, radio-omroeper en skrywer (* 7 November 1923)

Morkel van Tonder was ’n voormalige hoof van die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK en ’n skrywer van radiodramas, kortverhale en romans.

Hy het in 1940 aan die Hoërskool Ladismith in die Wes-Kaap gematrikuleer waarna hy eers by ’n algemene handelaar in Worcester gaan werk het en daarna ’n eenmansaak op De Doorns se spoorwegstasie bedryf het. Nadat die Spoorweë sy huurkontrak opgeskort het, het hy by die CSV-uitgewery op Stellenbosch gewerk. Hy was veral gemoeid met die bemarking van die uitgewery se eie publikasies maar omdat die uitgewery se boekwinkel ook ander werk aangehou het, het hy skrywers soos Ernst van Heerden, Jan Rabie en PJ Schoeman ontmoet.

In 1945 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer; hy het egter sy studierigting van BA (Admissie) na ’n gewone BA-graad verander en sy graad in 1948 verwerf. Twee jaar tevore het hy die assistent-sekretaris van die Westelike Provinsie-rugbyvoetbalunie geword. Omdat rugby op daardie stadium net ’n wintersportsoort was, het hy in die somermaande hoorspele en stories vir tydskrifte geskryf. Nadat hy komiteeklerk van die Goodwood-stadsraad geword het, het een van sy hoorspele ’n hoorspeelwedstryd van die SAUK gewen.

Hy het daarna deeltyds by die SAUK begin uitsaai saam met kollegas soos Pierre Louw, WA de Klerk en Dirk Kamfer en op 1 September 1951 het hy hom voltyds by die SAUK aangesluit as omroeper en regisseur. Benewens sy skryfwerk het hy ook as sportkommentator opgetree. Op 1 Maart 1972 het hy die hoof van die Afrikaanse radiodiens geword. Vanaf 1981 was hy programorganiseerder vir Afrikaanse radio en televisie. Hy het krieket en boks uitgesaai en rugby-opsommings gedoen. Hy het in November 1983 afgetree.

Hy is op 25 Maart 2013 in die ouderdom van 89 jaar oorlede.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/