27 APRIL

GEBEURE

1902 – Anglo-Boereoorlog: FH Bosch kom te sterwe

Burger FH Bosch was ’n sestienjarige (penkop) krygsgevangene op Bermuda gedurende die oorlog. Hy probeer op hierdie dag om te ontvlug. Hy word egter tydens die poging noodlottig gewond en kom kort daarna te sterwe.

1950 – Apartheid

In Suid-Afrika word die Wet op Groepsgebiede goedgekeur en rasse word formeel geskei.

1994 – Vryheidsdag ingestel

Vryheidsdag ingestel na afloop van die eerste Suid-Afrikaanse demokratiese verkiesing op hierdie dag. Nelson Mandela, verkies tot president onder ANC leierskap, volg FW de Klerk onder NP leierskap op.

 

GEBOORTES

1885 – Karl Bremer, geneesheer en eertydse minister van gesondheid († 18 Julie 1953)

Karl Bremer is op Hopefield gebore en was ’n leidende medikus en politikus. Van 1951 tot 1954 was hy Minister van Gesondheid in die kabinet van dr. DF Malan. Hy het hom beywer vir die verryking van basiese voedsel soos brood, wat die sogenaamde “Bremerbrode” tot gevolg gehad het. Hy sterf in Kaapstad op 18 Julie 1953. Die Karl Bremer-hospitaal in Bellville is na hom genoem.

1897 – Chris Blignaut, ’n legendariese Afrikaanse sanger, musikant, komponis en liriekskrywer († 21 Julie 1974)

Christian August (Chris) Blignaut was ’n Afrikaanse sakeman, sanger en liedjieskrywer. Gedurende 1923 sing hy die eerste keer in Afrikaans op die verhoog met sy vertolking van “Daar oorkant die spruit”. Van toe af het hy die eerste uitvoerende kunstenaar geword van Afrikaanse ligte liedjies. Sy vyf reise deur suidelike Afrika in die jare dertig en veertig was van die mees geslaagde wat enige sanger nog onderneem het. Omstreeks 1923 het hy een van die eerste Afrikaanse sangers geword wat oor die radio uitgesaai is. In 1930 was hy die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat ’n kontrak met ’n platemaatskappy aangegaan het. Blignaut kon ook daarop aanspraak maak dat hy die eerste Afrikaanse sanger was wat in kort rolprente vir die Afrikaanse silwerdoek opgetree het. Kort nadat sy eerste plate in 1929 verskyn het, is hy deur African Films genader om in ’n aantal “praatprentjies” op te tree. Hierin het liedjies soos “Ou tante Koba”, “Daar oorkant die spruit”, “Sarie Marais” en “O Boereplaas” bekend geword deurdat dit aan bioskoopgangers gespeel is.

Sy plate-opnames het vinnig toegeneem en is aanvanklik deur die Columbia-maatskappy behartig en daarna het opnames vir His Master’s Voice gevolg. In 1935 moes hy self na Engeland gaan om opnames te maak aangesien dit goedkoper sou wees as om die opnames in Suid-Afrika te maak en die plate in Engeland te laat druk as om die opnamemasjien na Suid-Afrika te laat kom. Die eerste liedjie wat hy in Engeland opgeneem het was “Hannetjie verjaar”. Uiteindelik is 250 liedjies op 150 kortspeelplate en 120 langspeelplate deur Trutone en Gallo uitgegee. Volgens ’n staat van 28 Maart 1931 het Columbia in een kwartaal 54 853 plate van hom verkoop. Van al sy liedjies het Blignaut se “Ou ryperd” en “O, die donkie” waarskynlik die gewildste immergroen Afrikaanse liedjies geword.

1902 – Dr. Hendrik Johannes van Eck, ingenieur en nyweraar († 19 Februarie 1970)

Hendrik Johannes van Eck wat met reg beskou kan word as die vader van die Nywerheidswese in Suid-Afrika, is op Kimberley gebore. Onder sy besielende en geïnspireerde leiding, veral as voorsitter van die NOK, is positiewe gestalte verleen aan die Suid-Afrikaanse Nywerheidswese. Hy is op 19 Februarie 1970 oorlede.

1932 – Roelof Frederik (Pik) Botha, voormalige minister van buitelandse sake († 12 Oktober 2018)

Pik Botha was van 27 April 1977 tot 10 Mei 1994 die land se Minister van Buitelandse Sake en het die taak gehad om Suid-Afrika se binnelandse beleid van apartheid te probeer verdedig in internasionale forums. Met ’n dienstyd van 17 jaar was hy ook een van die wêreld se langsdienende minister van buitelandse sake.

 

STERFTES

1871 – Sophia Grey, argitek (* 5 Januarie 1814)

Sophia Gray, argitek, en haar eggenoot, eerw. Robert Gray, aanvaar in 1847 die bisdom van die Kaap die Goeie Hoop en hulle kom op 24 Februarie 1848 in die Kaap aan. Sy ontwerp ongeveer 50 kerke, kapelle en pastorieë. Sy laat ook meer as 150 potlood- en waterverfskilderye van landskappe en plekke van argitektoniese belang na.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/