27 JANUARIE
GEBEURE
1861 – Ds. AJ Begemann word as die eerste predikant van Pretoria bevestig
Op hierdie dag is ds. AJ Begemann, gebore op 15 Junie 1831 in Nederland, as eerste predikant van Pretoria in sy amp bevestig. Dit is deur ds. Dirk van der Hoff gedoen in die eerste, ou Hervormde kerkgebou wat op die Kerkplein gestaan het. Hoewel sy koms die predikantenood in die NH Kerk verlig het, was hy as predikant nie altyd ’n sukses nie. Sy enigsins taktlose optrede word die aanleiding, in 1869, tot die stigting van die Konsulentgemeente van Pretoria. In Junie 1872 lê hy die bediening neer. Hy word die eerste bibliotekaris van die Staatsbiblioteek. Hy neem ook aktief deel aan die oprigting van die Staatsbiblioteek. Hy neem ook aktief deel aan die oprigting van die Staatsmeisjesschool in 1894 in Pretoria. Veral op die vlak van die onderwys en opvoeding het hy ’n belangrike bydrae gedoen. Hy sterf op 15 November 1925 in Pretoria.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Dryfjag begin
Die begin van die derde groot De Wet-dryfjag nadat genl. De Wet die Kolonie vir ’n tweede keer binnegeval het.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Goederetrein ontspoor
Generaal Kritzinger se kommando bestaan uit maar sowat 50 man en is onder bevel van Louis Wessels. Hulle saboteer die spoorlyn tussen Cradock en Middelburg. ’n Britse goederetrein word ontspoor en aan die brand gesteek.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Vuisgeveg
Generaal Manie Maritz tesame met agt ander Burgers bevind hul by die Leliefontein-sendingstasie naby Garies. Hulle maak dit aan die anderskleurige inwoners duidelik dat indien hulle neutraal sou bly hulle in vrede gelaat sou word. Hul is egter onverwags deur die inwoners aangeval wat hul probeer vang het. Maritz en diegene by hom was feitlik ongewapen en om daardie rede ontaard die besigheid in ’n erge vuisgeveg. Maritz het die dag ’n teenstander van die grond opgelig en met ’n harde slag teen die kerk se muur vasgegooi. Maritz en sy mense het ontkom.
1903 – Aankoms van die Landsoekers-ekspedisie in Dar-es-Salaam
Ná die stigting van Duits-Oos-Afrika (Tanganjika) en Brits-Oos-Afrika (Kenia), is blanke emigrante uit Suid-Afrika ter wille van die ontwikkeling van die gebiede in Oos-Afrika verwelkom. Talle georganiseerde groepe het ná die Tweede Vryheidsoorlog na Oos-Afrika getrek. In 1903 het die sogenaamde landsoekers-ekspedisie onder PC Joubert en sy broer, genl. D Joubert, van Machadodorp vertrek op ’n verkenningstog, veral na Duits-Oos-Afrika. Hulle kom op 27 Januarie 1903 in Dar-es-Salaam, Tanganjika, aan. Na baie ontberings waartydens genl. D Joubert gesterf het, het die groep met ’n ongunstige rapport teruggekeer. Nogtans het trekkers spoedig na Oos-Afrika begin trek: bittereinders en verbitterdes wat weier om onder die Britse vlag in Suid-Afrika te lewe; avonturiers wat die vryheid en wydsheid van ’n ongerepte land gaan opsoek het … ‘joiners’ en ‘national schouts’ wat ontvlugting gaan soek het. In Julie 1905 kom ’n groot aantal gesinne, onder meer dié van Stephanus Trichardt, kleinseun van die trekkerleier Louis Tregardt, saam met PC Joubert in Tanganjika aan. Hulle het die Afrikaanse taal, kultuur en godsdiens in Midde-Afrika gevestig en jare lank in stand gehou.
1943 – Tweede Wêreldoorlog: Suid-Afrikaanse troepe veg in Europa
Die Suid-Afrikaanse premier, generaal JC Smuts, het die parlement se goedkeuring gevra om troepe na Europa te stuur, in teenstelling met sy belofte in 1939 dat Suid-Afrikaanse troepe slegs in Afrika sou veg. Die Sesde Suid-Afrikaanse Pantserdivisie, die magtigste en bes toegeruste uit die Suid-Afrikaanse afdelings, onder bevel van majoor-generaal WH Evered Poole, het die oorlog in Italië in April 1943 betree. Vir die res van die oorlog het die Sesde Afdeling gedien as deel van die Britse Agtste Leër en die Amerikaanse Vyfde Leër. Die Suid-Afrikaanse troepe was van tyd tot tyd besig met hewige gevegte. Hulle was die eerste wat Rome binnegekom het en die laaste van Duitse verset in die Po-vallei aan die einde van die oorlog skoongemaak het. 753 Suid-Afrikaners is in Italië dood.
1984 – André Stander vlug
André Stander, Suid-Afrika se bekende bankrower, vlug na Fort Lauderdale in die VSA met ’n vals paspoort.
GEBOORTES
1797 – Anna Steenkamp, niggie van Piet Retief en skrywer van ’n dagboek wat die daaglikse lewe en gebeure tydens die Trek beskryf († 1891)
Anna Elisabeth Steenkamp (Steenecamp), gebore op Franschhoek, was die dogter van Francois, broer van die Voortrekker-goewerneur Pieter Retief, en Martha Elisabeth Joubert, wat sterk ondersteuners van die Voortrekker-leraar Erasmus Smit was. Sy was getroud met Johannes D Hattingh. Haar twaalfde kind is op trek gebore. As bemiddelde mense trek hulle met vier waens en groot veetroppe, waarvan veel geroof is. Verby die Oranjerivier dros hul bediende, en Anna moes met haar dogters die waens drywe en vee aanja. Baie vee het in ’n veldbrand omgekom. By haar vader in die Retief-laer aangekom, beleef hulle aanvanklik geen Zoeloe-aanval nie, maar later wel op die De Lange-laer, wat heldhaftig afgeweer is. Haar seun Francois is gestuur om sy oom AWJ Pretorius te oorreed om leiding te aanvaar. Anna hertrou met Thomas Ignatius Steenecamp. Toe hulle laer aan die brand raak, vlug sy met haar kinders uit. Hulle vestig hulle in die Oranjerivier-soewereiniteit waar haar bejaarde man in 1865 deur Basoeto’s vermoor is. ’n Eksemplaar van haar gedenkskrif en Bybel word deur mnr. D Retief, Welvanpas, Wellington gehou. Sy is op 9 September 1891 in die huis van haar seun, CJ Hattingh, oorlede en op Groenvlei, distrik Lindley, in die familiekerkhof begrawe.
1804 – Willem Hendrik Jacobsz, landdros, volksraadslid en mede-ondertekenaar van die Sandrivierkonvensie († 4 Mei 1868)
Willem Hendrik Jacobsz, wat op George gebore is en op 4 Mei 1868 op Middelburg, Transvaal, oorlede is, was ’n vurige republikein, onversetlike demokraat en Voortrekker uit Graaff-Reinet. Hy het as landdros van Weenen (1842–1843) en van Winburg (1847–1848), Volksraadslid in Oorvaal (1848–1853) en ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie ’n belangrike rol in die eenheids- en vryheidstrewe van die Voortrekkers op die Hoëveld gespeel.
STERFTES
2006 – Jan Christiaan (Chris) Heunis, politikus en hervormer (* 20 April 1927)
Chris Heunis was ’n regter, politikus, lid van die Nasionale Party en kabinetslid in die regering van John Vorster en PW Botha.
2012 – Reza de Wet, skrywer en dramaturg (* 11 Mei 1952)
Reza de Wet was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg wat die Hertzogprys twee keer gewen het.
Frederica (Reza) de Wet het in 1970 aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein gematrikuleer en reeds hier met haar loopbaan as aktrise begin. Sy het vanaf 1971 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer en haar BA-graad met Engels en drama as hoofvakke verwerf. In hierdie tyd het sy deurentyd toneel gespeel, en onder meer die rol van Nina in Anton Tschekov se opvoering Die seemeeu vertolk. Op twintigjarige leeftyd het sy haar toekomstige eggenoot, die Ierse akteur en regisseur Lindsay Reardon, wat een van die stigters van die Markteater was, ontmoet.
Nadat sy na Kaapstad verhuis het, het sy haar nagraadse diploma in drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, gevolg deur ’n BA-honneursgraad in Engelse letterkunde. Hulle het egter terug na Johannesburg verhuis, waar sy haar by die eksperimentele Arena Company van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit het.
In 1982 het sy, haar man en haar dogtertjie na Grahamstad verhuis, waar sy aan die Rhodes-Universiteit klasgegee het in drama, en later as medeprofessor aangestel is. Intussen het sy verder gestudeer en haar MA-graad in Engels met lof aan UNISA verwerf met ’n tesis oor die Engelse skrywer Henry James. Op Grahamstad was sy die regisseur van verskeie dramas wat deur die Rhodes-Universiteit se dramadepartement opgevoer is. Aan die einde van 2007 het sy by Rhodes afgetree en in 2011 het sy vir die eerste keer in twintig jaar as aktrise opgetree toe sy in ’n opvoering van haar drama, Die see, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien was.
In Oktober 2011 is bloedkanker by haar gediagnoseer en op 27 Januarie 2012 is sy in die ouderdom van 59 jaar oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.