
28 FEBRUARIE
GEBEURE
1706 – Adam Tas in hegtenis geneem
In die nag van 27/28 Februarie 1706 is Adam Tas deur landdros Starrenburg in hegtenis geneem. Dit is belangrik om daarop te let dat Adam Tas in 1697 as vrye burger na die Kaap gekom het. Hy was dus, in teenstelling met so baie ander Vryburgers, nooit in diens van die Kompanjie nie. In sy stryd teen die Goewerneur en sy aanhangers, het Tas die ondersteuning gehad van baie Franse Hugenote wat, net soos hy, as vrye burgers na die Kaap gekom het. Adam Tas was vir sy tyd ’n belese man, soos blyk uit die boekery wat hy nagelaat het. Hy was ’n vaardige man met die pen en dus die aangewese persoon om die klagskrif teen die Goewerneur op te stel. Na sy aankoms aan die Kaap het hy as boekhouer van sy oom en invloedryke boer, Henning Hüsing, opgetree. Toe die Goewerneur en van sy amptenare op groot skaal begin boer, het dit die Vryburgers baie benadeel, aangesien daar reeds ’n oorproduksie van wyn, graan en vleis aan die Kaap was. Die afsetprobleem is vererger deurdat die Goewerneur dit so bewerk het dat die wyn- en vleispag in die hande van sy handlangers gekom het. Verset hierteen was onvermydelik. Tas het die klagskrif opgestel, wat deur 63 burgers onderteken is. Die landdros van Stellenbosch het sterk vermoede gehad dat Tas die opsteller is en het derhalwe op hom toegeslaan. Gelukkig is hierdie eerste Stryd van Recht deur die burgers gewen.
1883 – Stephanus Roos word geskiet
Stephanus J Roos word geskiet op patrollie in die Middelburg-distrik, oostelike Transvaal (nou Mpumalanga), ’n paar maande na kmdt. Senekal op dieselfde manier dood is. Die dorp Roossenekal word na hulle vernoem. Hulle het albei in die oorlog teen die Mapoch-stam (1882-83) geval.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Ladysmith
Die Boere se beleg van Ladysmith in die Anglo-Boereoorlog wat 118 dae geduur het, is op 28 Februarie 1900 beëindig, ’n dag nadat genl. Redvers Buller se magte deur die Boerelinies gebreek het. Die beleg het op 2 November 1899 begin, byna ’n maand ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Die Boere het die dorp omsingel en die spoorlyn na Durban opgeblaas waarmee die beleg begin het. Die Boere het ook Ladysmith se watertoevoer afgesny sodat slegs die modderwater uit die Kliprivier beskikbaar was. ’n Neutrale militêre hospitaal, Intombi, is ná ’n ooreenkoms tussen genl. Piet Joubert en George White vyf kilometer buite die dorp opgerig waar meer as 10 600 soldate van beide kante behandeling ontvang het. Nadat die Britte onder Buller op 27 Februarie deur die Boerestellings gebreek het, het majoor Hubert Gough, vergesel deur die oorlogkorrespondent Winston Churchill, Ladysmith die aand van die 28ste te perd binnegery.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger na Natalse front
Ten spyte van sy ouderdom en ’n pynlike ooginfeksie verlaat president Kruger Pretoria met die trein na die Natalse front in ’n poging om die vloedvlugtige burgers wat huiswaarts stroom, te stuit.
1922 – Mynwerkersopstand
Die Rand-mynwerkers se opstand vererger wanneer drie mynwerkers buite die tronk in Boksburg geskiet en doodgemaak word.
1933 – Koalisie-ooreenkoms aangekondig
Die ekonomiese depressie van 1929 tot 1932 het verreikende politieke gevolge vir Suid-Afrika gehad. Genl. Jan Smuts het aangedring op die bedanking van die Hertzog-regering sodat ’n ware nasionale regering gevorm kan word. Genl. JBM Hertzog was nie hiervoor te vinde nie en het ook enige koalisiegerugte ontken. Nasionaliste was gevolglik verslae toe Hertzog op 14 Februarie 1933 plotseling sewe punte bekend gemaak het waarop hy bereid was om met Smuts ’n koalisie aan te gaan. Die punte het onder meer gegaan oor die handhawing van die Unie se soewerein onafhanklike status. En op 28 Februarie het Hertzog in die Volksraad aangekondig dat hy en Smuts ooreengekom het om ’n koalisieregering saam te stel.
GEBOORTES
1839 – Sytze Wopkes Wierda, argitek († 10 Desember 1911)
Na ervaring as timmerman, argitek en spoorwegaanleg-opsigter in Nederland, bedank hy in 1887 as hoofopsigter en word daarna deur pres. Kruger aangestel as Gouvernements Ingenieur en Architekt en Hoofd van Publieke Werken van die ZAR. Hy was dus een van die Kruger’s Hollanders wat ’n belangrike plek in die ontwikkelingsgeskiedenis van die ZAR ingeneem het, deur sy ontwerp en beplanning van verskeie geboue, waaronder die bekende kultuurhistoriese Raadsaal op Kerkplein, Pretoria, talle brûe (waarvan sommige vandag nog gebruik word), sowel as die ontwerp van die Paardekraal-monument by Krugersdorp. Hy is op 10 Desember 1911 in Seepunt, Kaapstad, oorlede.
1883 – Stephanus Johannes Roos, Boereveldkornet by Amajuba en in die Mapogoorlog (*21 Julie 1844)
Stephanus Johannes Roos, Boereveldkornet by Amajuba en in die Mapogoorlog, is op Kaspersnek aan die Blyderivier gebore. Sy vader word in 1860 assistent-veldkornet van die wyk Krokodilrivier. Roos word toe in 1874, na sy vader se dood, aangestel as assistent-veldkornet. Hy onderskei hom reeds in 1876 as ’n dapper krygsoffisier in die veldtog teen Sekoekoenie. Dit was egter die beslissende slag by Amajuba (27 Februarie 1881) dat veldkornet Roos bewys lewer van sy inisiatief en manmoedige optrede. Hy was ook van die eerste manne wat die kruin bereik het. Die ZAR was in 1882 tot 1883 in die Mapogoorlog gewikkel. Terwyl Roos op 28 Februarie 1883 in die Middelburgse distrik op patrollie uit was, word hy noodlottig deur ’n vyandelike koeël getref. Kmdt. Senekal het in November 1882 op dieselfde wyse gesneuwel. Die dorp Roossenekal is na hierdie twee dapper offisiere genoem.
1898 – Johannes Jacobus Fagan, komponis van meestal orkesmusiek († 13 Julie 1920)
Johannes Jacobus Fagan, gebore op Tulbagh en oorlede op 13 Julie 1920 in Londen was lid van ’n welgestelde en invloedryke familie. Na sy skoolopleiding op Somerset-Wes, studeer hy aan die SA College of Music, Kaapstad (1914) en in 1916 verower hy ’n driejarige beurs om aan die Royal College of Music, Londen te studeer. Weens swak gesondheid keer hy terug na Suid-Afrika en in 1919 geniet sy Prelude vir Orkes sy première deur die Kaapstadse Munisipale Orkes onder leiding van Theo Wendt. Dit was ’n groot prestasie vir ’n 21-jarige. Hy keer terug na Londen, maar as gevolg van toenemende gesondheidsprobleme, gepaard met die dood van sy jong verloofde, het hy selfmoord gepleeg – ’n groot verlies vir Suid-Afrikaanse musiek. Sy broer, Gideon, publiseer Johannes se Soos die windjie wat suis en Die soekende moeder (1931), albei belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse kunslied. Johannes is die eerste Suid-Afrikaanse komponis wat hom op die gebied van orkesmusiek onderskei het.
1911 – Justus Cornelius (Cor) Dirks, skrywer († 15 Oktober 2000)
Cor Dirks was ’n Afrikaanse skrywer van jeugboeke. Hy was die skrywer van ’n paar reekse gewilde boeke oor Die Uile van Kranskop, Die Otters en Joof. Hy word veral onthou vir Die Uile waarmee hy derduisende kinders aan die lees gekry het.
1928 – Thomas William Seymour (Tommie) Meyer, rolprentregisseur en -vervaardiger († 6 November 2017)
Thomas William Seymour Meyer was ’n Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger, wat menigmaal met Jamie Uys en op sy eie onder die naam Tommie Meyer Films Suid-Afrikaanse rolprente vervaardig het.
STERFTES
1832 – Ds. Meent Borcherds, leraar, skrywer en amateurkomponis (* 3 September 1762)
Hy was ’n predikant uit Oos-Friesland, word in 1786 predikant van Stellenbosch en in 1826 Moderator van die Sinode van die NG Kerk. Op versoek van die redakteur van die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (NZAT), skryf hy die geskiedenis van Stellenbosch. Voor sy dood boekstaaf hy ook die geskiedenis van die volksplanting aan die Kaap vir die vroegste tydperk (1652 tot 1673). Hy publiseer ’n Hollandse gedig “De maan; een leerdigt” wat as die eerste letterkundige voortbrengsel wat aan die Kaap gedruk is, beskou word. Ondanks hulle literêre gebreke, is sy gedigte uit kultuurhistories oogpunt uniek. ’n Aantal minuette is ook deur hierdie interessante figuur gekomponeer. Hy is op 2 September 1762 in Oos-Friesland, Nederland, gebore en sterf sewentig jaar later op Stellenbosch.
1883 – Stephanus Johannes Roos (* 21 Julie 1844)
Stephanus Johannes Roos, Boereveldkornet by Amajuba en in die Mapogoorlog, is op Kaspersnek aan die Blyderivier gebore. Sy vader word in 1860 assistent-veldkornet van die wyk Krokodilrivier. Roos word toe in 1874, na sy vader se dood, aangestel as assistent-veldkornet. Hy onderskei hom reeds in 1876 as ’n dapper krygsoffisier in die veldtog teen Sekoekoenie. Dit was egter die beslissende slag by Amajuba (27 Februarie 1881) dat veldkornet Roos bewys lewer van sy inisiatief en manmoedige optrede. Hy was ook van die eerste manne wat die kruin bereik het. Die ZAR was in 1882 tot 1883 in die Mapogoorlog gewikkel. Terwyl Roos op 28 Februarie 1883 in die Middelburgse distrik op patrollie uit was, word hy noodlottig deur ’n vyandelike koeël getref. Kmdt. Senekal het in November 1882 op dieselfde wyse gesneuwel. Die dorp Roossenekal is na hierdie twee dapper offisiere genoem.
1935 – Jacobus Albertus du Plessis, professor in teologie aan Potchefstroomse Universiteit vir CHO (* 23 Oktober 1873)
Jacobus Albertus du Plessis was ’n bekende teoloog in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In die jare na die Anglo-Boereoorlog, wat hy as veldprediker aan Boerekant meegemaak het, het hy hom sterk vir die Christelik-nasionale onderwys van die Afrikanerjeug beywer en onder meer op Reddersburg in CNO-skool tot stand gebring. In 1921 word hy hoogleraar aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom, en vanaf 1927 tot met sy dood in 1935 redakteur van Die Kerkblad. Nie slegs was hy skrywer van verskeie boeke nie, maar hy het ook met die vertaling van die Bybel in Afrikaans en met die Afrikaanse Psalmberyming gehelp. Hy was ’n begaafde en belese mens met ’n onwrikbare Calvinistiese lewensbeskouing. Hy is op Rustenburg gebore en op 28 Februarie 1935 op Potchefstroom oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook