28 SEPTEMBER

GEBEURE

1683 – Vryburgers versoek skool en kerk

Vryburgers vanuit die Stellenbosch omgewing rig ’n versoek aan die Politieke Raad van die Kaap. Hulle vra ondermeer ’n skool vir hul kinders, asook ’n eie kerk. Die versoek word toegestaan. Sybrand Mankadan was die eerste onderwyser asook sieketrooster en voorleser.

1899 – Boeremagte vertrek na die Z.A.R. en O.V.S. se grense

1902 – Goudpermitte

Dit word bekend gemaak dat 15 000 aansoeke per week ontvang word vir goudpermitte in en om Johannesburg.

1978 – PW Botha word eerste minister

Na ’n tydperk van verraad, moord op dr. Verwoerd en talle politieke intriges sedert 1966, is PW Botha op hierdie dag as agtste Eerste Minister van Suid-Afrika in die plek van Johan Vorster gekies wat die tuig neergelê het.

 

GEBOORTES

1862 – Paul Hendrik Roux, NG predikant en Vrystaatse generaal († 8 Junie 1911)

Paul Hendrik Roux is op Hopetown in Kaapland gebore. Ná sy teologiese opleiding was hy predikant in die gemeentes Vredefort (1891-1897), Senekal (1897-1905) en Beaufort-Wes (1905-1911). Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het ds. Roux hom geroepe gevoel om te gaan veg. Hy het as veldleraar in Natal, waar die meeste van sy gemeentelede geveg het, op kommando gegaan. Hy het die burgers voortdurend bemoedig en hom altyd met hulle vereenselwig. Hy is deur pres. Steyn en genl. De Wet tot kommandant en later veggeneraal bevorder. Ds. Roux het nie werklik geleentheid gekry om sy militêre leierskap te toon nie, want op 28 Julie 1900, terwyl hy met besoek aan kmdt. Haasbroek by Golden Gate was, het genl. M Prinsloo hom en sy manskappe aan die Engelse oorgegee. Genl. Prinsloo en sy manskappe, waarvan ds. Roux een was, is saam met ander krygsgevangenes na Ceylon gestuur waar hulle in die krygsgevangenekamp Dyatalawa aangehou is. Ds. Roux was een van drie predikante wat toegelaat is om te werk, maar hy het hom die gramskap van die Britse owerheid op die hals gehaal weens sy preke wat ’n “opstandige gees” onder die krygsgevangenes aangewakker het. Hy is later na Nuware Elija oorgeplaas. Met die vredesluiting in Suid-Afrika het hy aan sy burgers in Dyatalawa geskryf om hulle te bemoedig. Hy het hom met sy verblyf in Ceylon beywer vir ’n kampskool omdat hy heelwat probleme in die katkisasieklasse ondervind het. Die grootste deel van die jong manne het dit onmoontlik gevind om die lesse weens hul gebrekkige lees- en skryfkennis te volg. Uiteindelik is ’n groot skool in Dyatalawa met Schalk Pienaar en Gielie Theron as onderwysers begin.

 

STERFTES

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/