
3 JULIE
GEBEURE
1652 – Van Riebeeck neem intrek in die fort
1967 – FAK se eerste Kongres oor Skoolmusiek en -sang
Ná uitgebreide onderhandeling oor musiekonderrig met veral die Transvaalse Onderwysdepartement en die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste, hou die FAK deur sy Musiekkomitee sy eerste Kongres oor Skoolmusiek en -sang van 3 tot 5 Julie 1967 in Johannesburg. Die tweede kongres is in Julie 1969 op Kroonstad, die derde in April 1972 op Stellenbosch en die vierde in April 1974 in Port Elizabeth gehou. Hierdie kongresse het ongetwyfeld rigtinggewende invloed op Afrikaanse musiek en sang in Afrikaanse onderwysinrigtings uitgeoefen.
1900 – Anglo-Boereoorlog
Lord Roberts beveel kol. Baden-Powell om Rustenburg te ontruim en Kommandonek en Silkaatsnek te beset.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Tot die bittereinde!
Op 3 Julie 1900, tien maande nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, stuur staatsekretaris van die ZAR, FW Reitz, ’n telegram via die Transvaalse konsul in Lourenço Marques aan die koerant Sun in Amerika. Hierin stel hy Transvaal se standpunt oor die oorlog duidelik en skryf: “President and people always desired and still most earnestly desire peace. Condition: complete independence and amnesty [for] Colonials who have fought with us. Otherwise fight [to the] bitter end.”
GEBOORTES
1897 – Louis Wybren (LW) Hiemstra, taalkundige en woordeboekmaker († 12 Julie 1978)
Louis Wybren Hiemstra is op Lydenburg gebore. Hy studeer aan die Transvaalse Universiteitskollege en die Universiteit van Kaapstad. Ná sy studies word hy ’n joernalis by Die Volkstem, Die Burger en Die Volksblad. As lid van die Taalkommissie van die SA Akademie, taalkundige redakteur van Nasionale Pers (van 1946) en voorsitter van die Tweetalige Woordeboek, speel hy ’n belangrike rol in die bevordering van taalsuiwerheid in Afrikaans. Die Universiteit van die OVS het ’n eredoktoraat aan hom toegeken. Hy is op 12 Julie 1978 oorlede.
1909 – Prof. Willem Kempen, taalkundige en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns († 23 Julie 1986)
Willem Kempen is op Prieska gebore. Hy was een van die voorste Afrikaanse taalkundiges in Suid-Afrika. Kempen was lank voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie en ’n belangrike taalraadgewer by die vertaling van die Bybel in Afrikaans. In 1967 is die Besondere Erepenning vir Afrikaanse Taal- en Letterkunde aan hom toegeken. Hy het in 1970 die Langenhoven-prys vir Taalkunde van die SA Akademie en in 1979 die FAK se Halfeeufees-toekenning vir volgehoue taalbevordering ontvang.
STERFTES
1948 – Johannes Friedrich Wilhelm (JFW) Grosskopf, skrywer en dramaturg (* 25 November 1885)
Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf, skrywer van vier lang dramas, elf kortspele, verhalende prosa en verskeie artikels, se eerste liefde was die literatuur en sy skeppingswerk ter wille van estetiese genot. Hy was ’n kenner van die drama en die tegniek van die teater en van toneelwerke. Hy is in Bloemfontein gebore en studeer later aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy studie oorsee is in Berlyn, Leipzig en Wenen (Lettere) en Leiden (Regte) voortgesit. Terug in Suid-Afrika, neem hy deel aan die Rebellie, word gevang en bring agt maande in die tronk in Pretoria deur. Van 1915 tot 1918 dien hy in die redaksie van Ons Vaderland en later as hoofredakteur van Die Volksblad, totdat hy professor in Staatsinhoudkunde op Stellenbosch word. Sedert sy studiejare toon hy ’n lewende belangstelling in drama en toneel, ’n belangstelling wat as grondslag dien vir verskeie toneelstukke wat later deur hom geskryf word. In 1926 is die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken. Van sy bekendste dramas is In die wagkamer, As die tuig skawe en Oorlog is oorlog. Hy is op 3 Julie 1928 in Pretoria oorlede.
2015 – Fredi Nest, sanger (* 25 Maart 1959)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.