3 MEI
GEBEURE
1751 – Ds. HH van der Veen word verbied om die kansel te bestyg
In die kerkraadsnotule van die NG gemeente Malmesbury is daar ’n verwysing na ds. Herman Haike van der Veen wat verbied is om die kansel in hulle leraar, ds. Voltelen, se afwesigheid te bestyg. Dit is gedoen om die goeie orde ontwil en tot stigting van die gemeente. Ds. Van der Veen was eintlik op pad na Batavia en het om gesondheidsredes ’n tydperk eers aan die Kaap oorgebly. Maar aan die Kaap was hy spoedig ’n kerklike verleentheid, omdat hy sterk piëtistiese neigings geopenbaar en op ’n dramatiese wyse gepreek het. Daarom is hy nie toegelaat om langer in Kaapstad te preek nie. Hy het toe ander geleenthede probeer gryp, maar sy reputasie het hom telkens gestuit. Die betrokke voorval het Van der Veen egter by elke moontlike gesagsliggaam laat beswaar aanteken, maar hy het telkens die swakste daarvan afgekom. Goew. Tulbagh het hom ten einde raad verplig om die Kaap te verlaat, maar dit was eers met bedreiging van militêre geweld dat hy inderdaad ’n skip na Batavia gehaal het. Met sy vertrek het hy nietemin ’n hartroerende boodskap vir ’n dertigtal ondersteuners gelewer en hulle vermaan om in die geloof te volhard, ongeag die vervolging wat ook hulle – soos hy reeds ondervind het – kon verwag.
1781 – Piet Retief gedoop
Die bekende Voortrekkerleier, Piet Retief, is op hierdie dag in die Drakenstein gemeente gedoop.
1900 – Opmars van Bloemfontein na Pretoria
Die opmars van Bloemfontein na Pretoria deur die Britse leër, onder bevel van Lord Roberts, begin en die liedjie “We are marching to Pretoria” is die eerste keer gehoor.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Stryd tussen Lord Roberts en De la Rey
’n Stryd vind plaas tussen die Britse magte onder Lord Roberts en die Boere onder genl. De la Rey by Brandfort OVS. De la Rey trek teen die aand terug.
1921 – Tweede sensus vir Unie van Suid-Afrika
Die Unie van Suid-Afrika hou vir die tweede keer sedert die ontstaan ’n sensus.
1933 – Gedenkseëls
Die Voortrekkermonumentseëls wat die eerstes in Suid-Afrika was met ’n byheffing, is op 3 Mei 1933 vrygestel. Die heffing is gebruik om te help met die boufonds van die monument en was meer as vyf jaar lank in omloop. Dit is op 31 Oktober 1938 gestaak toe die Eeufees- en herdenkingsseël uitgebring is. Die stel het uit vier posseëls bestaan wat afgesien van die sigwaarde, ook ’n monumentfondswaarde gehad het. Die stel seëls was om die beurt in Afrikaans en Engels gedruk. Die 1d. seël was groen met die Geloftekerk te Pietermaritzburg daarop afgebeeld, die 1½ d. seël was pienk met ’n afbeelding van ‘n kakebeenwa op die ou Cradock-pas, die 3d. seël was pers met die beeld van ’n sittende burgerwag en die 4½d. seël was blou met ’n peinsende Voortrekkervrou.
GEBOORTES
1894 – Prof. Francois Ernst Johannes (FEJ) Malherbe, dosent en literêre kritikus († 5 Julie 1979)
Francois Ernst Johannes Malherbe is in die distrik Paarl gebore. Hy het grootgeword in die omgewing van waar die Genootskap van Regte Afrikaners – waarvan die stigterslede van vaders sowel as van moederskant naverwant was – die grootste gedeelte van hulle werksaamhede van stapel laat loop het. Hy het sy opleiding aan die Hoër Jongenskool in die Paarl en aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. Na ’n vyfjarige studie in Amsterdam, Nederland, in die Germaanse Filologie, Nederlandse Taal- en Letterkunde en Kunsgeskiedenis, het hy in 1924 aan die Stedelike Universiteit in Amsterdam die doktorsgraad behaal. Van 1924 tot 1929 was hy dosent en van 1930 tot sy emeritaat in 1959 professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As inspirerende dosent, geesdriftige essayis en gesaghebbende literêre kritikus, het hy ’n diepgaande invloed op sy studente en op jong skrywers, veral in die dertigerjare, gehad. Hy is op 5 Julie 1979 oorlede.
1896 – Petrus Johannes Lemmer, komponis en koordirigent († 1989)
Petrus Johannes Lemmer is op Hartbeesfontein in Transvaal gebore. Hy ontvang sy musiekonderrig o.m. by PK de Villiers in Bloemfontein en aan die Royal Academy, Londen. Hy het baie musie betrekkings met onderskeiding beklee (o.m. as dosent aan die Onderwyserskolleges van Bloemfontein en Wellington en as Direkteur van Musiek by Voortrekkerhoogte), maar sy blywende invloed as pedagoog was tussen 1940 en 1955 toe hy (as Musiek inspekteur van skole) ’n musiektradisie in die Vrystaat geskep het wat groot vrugte afgewerp het. Van sy byna 200 komposisies vir solostem, koor, klavier en simfonieorkes is sy kunslied, Kokkewiet, sy koorwerke (o.m. Bergrivier) en sy talle kinderliedere die gewildste. Hy was UNISA se eerste Afrikaanse musiekeksaminator (1932), was verantwoordelik vir die eerste aanbieding van Hansie en Grietjie in Afrikaans. Sy hele lewe lank was hy in aanvraag as koordirigent en kunswedstryd-beoordelaar en is in 1949 tot Fakulteitslid van die SA Akademie gekies.
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook