
30 JULIE
GEBEURE
1854 – Die Kaapse parlement kom die eerste keer byeen
1870 – Klipdrift-republiek word uitgeroep
’n Groot aantal delwers het in 1870-’71 op Griekwaland-Wes toegesak en hulle in die diamantvelde naby die sameloop van die Vaal- en Oranjerivier gevestig. Dit was op grond wat die Griekwas gebruik het om hul veekuddes deur te jaag en wat gesamentlik deur die Griekwaleier, Nikolaas Waterboer, en die Republiek van die Oranje-Vrystaat besit is. Nadat die ZAR-president MW Pretorius in 1870 die diamantgebied as Boere-eiendom verklaar en ’n tydelike regering gestig het, het ontevredenheid oor die administrasie tussen delwers, die Griekwas en die Tswanas begin oplaai tot op ’n punt waar Stafford Parker ’n faksie delwers op die been gebring het om die Transvaalse amptenare uit die gebied te dryf. Op 30 Julie 1870 het hy die Klipdrift-republiek (ook Delwersrepubliek en Republiek van Griekwaland-Wes) uitgeroep met hom as president. Vyf maande later het sowat 10 000 Britte reeds die Republiek hul nuwe tuiste gemaak. Die bestaan was egter van korte duur, want in die volgende jaar het die Boere dit ná onderhandelings teruggeneem. Sir Henry Barkly het die Keate-komitee opdrag gegee om getuienis van al die kante aan te hoor waar téén die Boererepubliek en ten gunste van Waterboer uitspraak gelewer is. Die distrik is op 27 Oktober 1871 as die kolonie van Griekwaland-Wes geproklameer.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. Marthinus Prinsloo gee oor
Generaal Marthinus Prinsloo gee in die Brandwaterkom, naby Clarens, oor. Sommige generaals weier om oor te gee en ontsnap met ongeveer 1 500 mans deur Golden Gate.
1921 – Die Suid-Afrikaanse Reserwebank geopen
1991 – Die Groepsgebiedewet afgeskaf
GEBOORTES
1852 – Prof. Nicolaas Mansvelt, onderwyser en samesteller van die Hollands-Afrikaanse Liedere Bundel († 6 Februarie 1933)
Dr. Nicolaas Mansvelt was die eerste Superintendent-generaal van Onderwys in Transvaal. Hy is in 1852 in Wassenaar, Nederland gebore. Hy bekwaam hom as ’n onderwyser en in 1874 ontmoet hy die beroemde predikant van Suid-Afrika, Jan Lion Cachet wat weer ’n besoek gebring het aan sy geboorteland. Dit loop uit op Mansvelt se aanstelling op die personeel van die Gimnasiumseunskool op Stellenbosch. Hy begin belang stel in en skryf oor Afrikaans en word in 1890 aangestel as sekretaris van die nuwe SA Taalbond. Hy word die jaar daarna na Pretoria gestuur as Superintendent-generaal van Onderwys. Hy herorganiseer die hele stelsel en begin met die plaaslike opleiding van onderwysers. Met die besetting van Transvaal tydens die Anglo-Boereoorlog het hy bedank en na Nederland teruggekeer waar hy in 1933 in Haarlem oorlede is.
1936 – Jan Spies, skrywer, storieverteller, joernalis en akademikus († 4 Januarie 1996)
Johannes Petrus (Jan) Spies (1936-1996) was ’n gewilde Afrikaanse storieverteller en skrywer. Hy is in die distrik Rehoboth in Suidwes-Afrika gebore, waar hy later redakteur van die Afrikaanse koerant Die Republikein word. Saam met PG du Plessis was Spies die aanbieder van die gewilde televisieprogram Spies en Plessie – met permissie, waar ook ánder persoonlikhede, soos Tolla van der Merwe en Nico Nel, bekendheid verwerf het. Spies was die outeur van ’n aantal boeke, en lektor by die Randse Afrikaanse Universiteit.
STERFTES
1945 – Antonie (Anton) van Wouw, beeldhouer (* 27 Desember 1862)
Anton van Wouw was ’n Nederlands-gebore beeldhouer en word beskou as die vader van die beeldhoukuns in Suid-Afrika. Van Wouw was die pleegpa van die bekende skilder Jacobus Hendrik Pierneef.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook