5 AUGUSTUS

GEBEURE

1884 – Stigting van die Nieuwe Republiek

Die Vryheid Republiek of Nieuwe Republiek was een van die kleiner Boererepublieke in die huidige Suid-Afrika wat deur die Voortrekkers gestig is nadat hulle die Kaapkolonie, wat onder Britse beheer was, verlaat het. Die Nieuwe Republiek het slegs vir ’n kort tydperk tussen 1884 en 1888 bestaan voor dit in die Zuid-Afrikaansche Republiek opgeneem is as die distrik Vryheid.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Elandsrivier

Dag 2: Genl. Koos de la Rey se spioene is wakker en stel hom betyds in kennis van genl. F Carrington wat op pad is met versterkings. De la Rey kan egter nie meer as 75 man afstaan om die mag van genl. Carrington teë te hou nie. Teen 16:00 begeef laasgenoemde homself ongeveer 3 km vanaf die beleërde kol. Hore se pos. De la Rey het egter reeds met ’n teenoffensief begin. Genl. Carrington se mag loop reg in die vooraf opgestelde hinderlaag vas. Laasgenoemde slaag egter daarin om te ontkom, dog verloor ’n hele paar soldate in die proses.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Harrismith deur die Britse magte beset

Genl. Dowling van genl. MacDonald se mag beset Harrismith sonder weerstand. Tydens MacDonald se defileermars weier landdros P de Villiers om sy hoed te verwyder. Die Britsgesinde dorpsdokter stamp dit van sy kop af en kry dadelik ’n hou teen die mond van die landdros se seun. Die troepe moet ingryp om ’n uitgebreide vuisgeveg te verhoed.

1915 – De Klementie Beweging

Op dié dag berig De Burger dat die vroue-optog die vorige middag in Pretoria om by die Goewerneur-generaal om begenadiging vir die Rebelle-gevangenes te pleit, “ruim vier duizend” sterk was. “Die twee mijlen lange tocht naar het Unie gebouw kenmerkte zich door diepe ernst, kalmte, waardigheid en beslistheid. Vele bejaarde dames waren er onder.” Die Afrikanervroue van regoor die land het in die amfiteater van die Uniegebou vergader. Vooraf is ’n welkomswoord deur die Betogingskomitee uitgespreek. ’n Besielende boodskap van mev. (pres.) Steyn is deur mev. Helgaard Steyn voorgelees. Die versoekskrif aan die Goewerneur-generaal is deur mev. J Roos van die ACVV in Kaapland voorgelees, eenparig goedgekeur en aan die afvaardiging na die Goewerneur-generaal oorhandig. Psalm 146 vers 5 is gesing na ’n gebed deur mev. Kestell. Die afvaardiging na die Goewerneur-generaal was onder die leiding van mev. (genl.) Joubert wat saam met mev. Eloff die Unie verteenwoordig het. Hulle was vergesel deur “de Dochters” mev. Malan en mev. Van Broekhuizen, mev. Roos en mev. Muller namens Kaapland, mev. Kestell en mev. Helgaard Steyn namens die Vrystaat, mev. ds. Neethling en mev. Armstrong namens Transvaal en mev. Coen en mev. Kemp namens Natal. Die afvaardiging het teruggekeer met die Goewerneur-generaal se antwoord dat hy self nie by magte is om aandag daaraan te gee nie, maar dat hy dit na sy ministers sal verwys. Die versoekskrif was deur sowat 40 000 mense onderteken. Die vroue moes daardie dag eers onverrigte sake omdraai en hulle het in gelid na Kerkplein gestap waar hulle Ges. 22 gesing het. Op 5 Augustus het hulle by die dieretuin vergader om op die ministers se antwoord te wag. Daar is die eggenotes van o.m. genls. De Wet, De la Rey, Kemp, Muller en Pienaar en die moeder en weduwee van Jopie Fourie na die verhoog geroep om medelye met hulle te betoon. Toesprake is gehou, daar is gebid en gesing. Die vroue moes nog vier dae wag op die ministers se antwoord. Dit was kort en het gelui: “Ik ben door de Goewerneur-generaal gelast u te melden, dat zijn Ministers niet in staat zijn een rekommendatie te maken totdat alle hoogverraadzaken afgelopen zijn, waarna elke afsonderlik geval op zijn eigen merieten overwogen zal worden.” De Burger sê in sy redaksionele kommentaar in die uitgawe van 10 Augustus “dat de Regering een nieuw bewijs geleverd heeft dat zij met het volksgevoel geen rekening houdt”.

1965 – Suid-Afrika se eerste atoomreaktor geopen

Die destydse eerste minister, dr. HF Verwoerd het Suid-Afrika se eerste atoomreaktor, SAFARI-1 (Suid-Afrikaanse Fundamentele Atoomreaktorinstallasie-1) op 5 Augustus 1965 by Pelindaba, sowat dertig kilometer wes van Pretoria geopen. Pelindaba (Pelile ndaba in Zoeloe “einde van die storie” of “die gevolgtrekking”) is suidoos van die Hartbeespoortdam geleë, sowat 35 km wes van Pretoria, op die plaas wat op ’n tyd aan Gustav Preller behoort het. Die reaktor uit Amerika, het destyds $10.5-mijoen gekos. Daar is aanvanklik gesê dat Pelindaba se doel was om dit tot die land se veiligheid aan te wend en Suid-Afrika in staat te stel om teen 1966 sy eie atoombom te vervaardig. In 1977 het die London Telegraph berig dat Suid-Afrika by magte was om enige tyd sy eie kernwapens te bou. Pelindaba sou destyds die vertrekpunt van samewerking tussen Suid-Afrika en Frankryk wees, wat uiteindelik tot die bou van Koeberg gelei het.

2013 – Radio Rippel se naam verander na Groot FM

 

GEBOORTES

 

STERFTES

1939 – Dr. Hermanus Cornelis Marthinus Fourie, teoloog, volkekundige, bittereinder, rebel (* 5 Julie 1882)

Hermanus Cornelius Marthinus Fourie is in Carolina se distrik gebore as die jongste seun van genl. JC Fourie, wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Fourie was in Nederland vir sy skoolopleiding, maar het met die uitbreek van die oorlog huis toe gekom om sy land te help verdedig. Ná die oorlog is hy terug Nederland toe om sy studie in die teologie by die Ryksuniversiteit in Utrecht te doen. In 1911 word hy predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk se gemeente Erasmus (Bronkhorstspruit). Hy is een van die grondleggers van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, maar het die professoraat wat hom aangebied is, van die hand gewys.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/