7 DESEMBER
GEBEURE
1885 – Stigting van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk
Sedert die vyftigerjare van die vorige eeu het die kerklike toneel in Transvaal gestaan in die teken van kerklike diversiteit. As gevolg van baie faktore het drie Afrikaanse kerke naas mekaar te staan gekom, te wete die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Nederduits Hervormde Kerk, en die Gereformeerde Kerk. Hierdie toedrag van sake het baie min bevredig en so was daar verskeie pogings van kerklike kant om die onderlinge verdeeldheid te beëindig, maar sonder sukses.
Teen 1880 sou ’n motivering tot eenheid buite die kerklike erf ontstaan. Hier dink ons aan die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881. Die Afrikanernasionalisme is in daardie tyd soos nog nooit vantevore gestimuleer nie, en in Transvaal was daar ’n sterk politieke eenheid aanwesig. Politieke leiers uit verskillende kerke, wat saam aan die stryd deelgeneem het, laat hulle toe ook uit ten gunste van eenheid op kerklike gebied. Op hulle aandrang begin die gesprek tussen die drie Afrikaanse kerke oor die moontlikheid van eenheid.
Die Gereformeerde Kerk het heelwat administratiewe probleme ervaar en die entoesiasme was nie baie groot nie, sodat slegs die ander twee kerke deur middel van kommissies die gesprek voortgesit het. Na baie beraadslaging het die twee kerke amptelik besluit tot eenwording. Die naam van die nuwe verenigde kerk is voorlopig vasgestel as “Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk”.
Op 7 Desember het die eerste Sinode van die verenigde kerk bymekaar gekom. Hierdie kerklike eenheidspoging was egter van korte duur, want in 1892 het die paaie uitmekaar gegaan, en tot vandag is daar steeds die drie Afrikaanse Kerke op Suid-Afrikaanse bodem met ’n vierde wat in 1987 gestig is, naamlik die Afrikaanse Protestantse Kerk.
1912 – Hertzog se De Wildt-toespraak
Op hierdie dag het genl. JBM Hertzog sy bekende toespraak by die stasie De Wildt in Transvaal gehou op ’n politieke vergadering wat sowat 100 mense bygewoon het. Die toespraak het gedagterigtinge tussen Suid-Afrikaanse nasionalisme en Britse imperialisme, wat reeds in genl. Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party en Kabinet sigbaar was, tot ’n punt gebring. Genl. Hertzog het sy toespraak in Nederlands gelewer, en die hoofpunte daarvan was: Wanneer ’n mens oor landsake praat moet die vraag te alle tye gestel word of Suid-Afrika daarby baat vind. Suid-Afrika moet deur die Afrikaner geregeer word. Die tyd het aangebreek om Suid-Afrika nie langer deur nie-Afrikaners te laat regeer nie, mense wat geen ware liefde die land het nie. Die leier van die opposisie (sir Thomas Smartt van die Unionisteparty) het gesê hy is eers imperialis en Afrikaner. “Imperialisme is voor mij net goed zover’t dienstig is voor Zuid-Afrika. Waar’t in botsing komt met de belagen van ZA, ben ik er ‘n besliste tegenstander van. Ik ben bereid mij toekomstige loopbaan als politikus te laten afhangen van deze leer,” was genl. Hertzog se woorde. Hy sê voorts dat hy nie een van diegene is wat altyd oor konsiliasie en lojaliteit praat nie want dit is ydele woorde wat niemand bedrieg nie. Ook het hy gesê dat die vlag (Britse Union Jack) daar is en dat dit maar kan bly. “Ik heb mij onderworpen en wie mij niet loyaal noemt, voor hem heb ik geen tijd.”Genl. Hertzog het in dieselfde toespraak as Minister van Naturellesake ook daaroor gepraat. Sy uitlatings oor trou aan Suid-Afrika bokant trou aan die Ryksgedagte, het die wekroep laat ontstaan van “Suid-Afrika eerste!” – ’n slagspreuk wat eers na die sogenaamde “Mishoop”-vergadering vir die eerste keer deur genl, Hertzog uitgespreek is.
1939 – Veka Beperk gestig
Veka Beperk is laat in die dertigerjare as Volks-Hemde en -Klerefabriek gestig en lewer belangrike pionierswerk wat die Afrikaner se toetrede tot die nywerheidswese betref.
GEBOORTES
1905 – Thomas Ochse (TO) Honiball, spot- en strokiesprentkunstenaar († 22 Februarie 1990)
Thomas Ochse Honiball het bekendheid verwerf onder oud en jonk met strokiesprente soos Oom Kaspaas, Adoons-hulle en Jakkals en wolf. Die opnames wat Dana Niehaus van die Jakkals-en-Wolf-verhale gemaak het, is op langspeelplaat uitgereik terwyl Groep Twee ’n liedjie daaroor gesing het wat deur Gert van Tonder geskryf is. Aan die beginjare van televisie is 26 episodes van Oom Kaspaas, asook van Adoons-hulle vervaardig en uitgesaai terwyl albei verhale ook in boekvorm verskyn het. Hy is op 22 Februarie 1990 in die ouderdom van 84 jaar oorlede.
STERFTES
1882 – Dr. Philip Eduard Faure, teoloog en eerste predikant van die NG gemeente Wynberg (* 1811)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.