7 NOVEMBER
GEBEURE
1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Platrand, Ladysmith
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Witkloof (Leliefontein), Belfast
1901 – “National Scouts Corps” gestig
Aanvanklik het die Britse militêre owerheid Boere wat in die Anglo-Boereoorlog oorgegee het, as spioene en verkenners gebruik maar dan op ’n nie-amptelike basis. Die geringe uitwerking van die Britse proklamasie van 7 Augustus 1901, waarvolgens burgers wat ná 15 September nog met die stryd voortgegaan het, vir altyd uit die land verban sou word of al hulle eiendom sou verloor, het die Britse owerheid egter laat besluit om voortaan meer georganiseerd van hierdie oorlogsmoeës gebruik te maak.
Invloedryke Boere wat reeds die eed van trou aan die Britse kroon afgelê het soos onder andere generaals APJ Cronjé en Piet de Wet, het in Desember 1900 die sogenaamde Burgervredeskomitees gestig omdat hulle die guerilla-oorlogvoering as sinloos en selfvernietigend beskou het.
Aanvanklik was hulle redelik passief, maar teen September 1901 het hulle aangebied om aan Britse kant te veg en burgers wat hulle reeds oorgegee het vir dieselfde doel in eenhede te organiseer. Lord Kitchener het die plan verwelkom en onmiddellik reëlings getref vir die stigting van die “National Scouts” in Transvaal en later ook die “Orange River Colony Volunteers” in die Oranje-Vrystaat.
Hoewel die “National Scouts” eintlik op inisiatief van genl. APJ Cronjé, ’n voormalige aanvoerder van die Potchefstroomse kommando en broer van genl. PA Cronjé, gestig is, het dit onder direkte beheer van die Britse militêre owerheid gestaan. Die “Scouts” is in verskeie afdelings, bestaan tussen 50 en 150 man, georganiseer met een of twee Britse offisiere in bevel wat dan bygestaan is deur ’n aantal Boere-offisiere.
Van elke burger wat ’n lid van die “Scouts” geword het, is verwag om ‘n kontrak te teken waarvolgens hy onderneem om vir ses maande diens te doen. Die aanvanklike vergoeding sou bestaan uit oorlogsbuit, aangevul deur geskenke van die Britse hoofkwartier vir buitengewone dienste gelewer.
Teen die einde van 1901 is ’n vasgestelde vergoedingskaal ingestel wat gewissel het van 5 sjielings per dag vir ’n gewone burger tot 15 sjielings per dag vir ’n offisier. Die uitdeel van geskenke het steeds voortgeduur. Nie-amptelik is ook aan die “Scouts” beloof dat hulle ná die beëindiging van die oorlog voorkeurbehandeling sou ontvang. Die verskil tussen die oorlopers en die onversoenlikes is dan ook by elke moontlike geleentheid sterk benadruk. In die Konsentrasiekampe, wat die vernaamste werwingsplekke vir “National Scouts” was, het die “Scouts” se familielede ook voorkeurbehandeling geniet.
In Februarie 1902 was daar reeds 1000 “National Scouts” in die veld, en teen die einde van die oorlog 1480. Die “Orange River Colony Voluteers” was nooit meer as 480 man sterk nie. Die oorlopers was nooit juis wafferse vegters nie maar hulle waarde was daarin geleë dat hulle die land goed geken het en dus waardevolle diens kon lewer as patrolliegidse, verkenners en spioene. Daarbenewens het hulle die Britse magte se beleid van “verskroeide aarde” help uitvoer deur Boereplase te plunder en af te brand. Die invloed van hul laakbare optrede op die moreel van hulle vroeëre strydmakkers is moeilik te bepaal, maar dit het waarskynlik baie van die nog vegtendes uiteindelik bittereinders gemaak, terwyl ander as gevolg daarvan besluit het om as krygsgevangenes die wapen neer te lê.
Na die Vrede van Vereeniging was die “National Scouts” in ’n onbenydenswaardige posisie. Die bittereinders het hulle verafsku, en in die Konsentrasiekampe is daar selfs spesiale voorsorgmaatreëls getref om gewelddadige optrede tussen die twee groepe te voorkom maar dat slegs enkele voorvalle wel voorgekom het getuig van die afwesigheid aan wraaksug onder die Afrikaners. Helaas, vir die Britse militêre owerheid was die “National Scouts” maar net tydelike hulptroepe wat hulle nou nie meer nodig gehad het nie en vir die Britse regering was hulle maar net nog ’n groep Boere was gerepatrieer moes word. Hulle enigste kampvegter was maj. EHM Leggett, deur wie se toedoen hulle tog spesiale behandeling in die periode van repatriasie ontvang het. Beledigings en kerklike sensuur het nie uitgebly nie, en baie Afrikaanse predikante het daarop aangedring dat die “National Scouts” in die openbaar hulle skuld moes bely. Dit het die sogenaamde “Scout”-kerke tot gevolg gehad maar geleidelik het die kerksensuur verslap en het vereniging plaasgevind.
In 1904 het die Boereleier genl. Louis Botha met ‘n beleid van rekonsiliasie begin, en met die Uniewording in 1910 was die “National Scouts” weer in die gemeenskap opgeneem, maar in die volksmond het hierdie naam ’n skandnaam gebly.
1914 – Afrikanerrebellie
’n Geveg oos van Pretoria tussen rebelle en regeringsmagte vind plaas. Die rebelle word verslaan en beide generaal Chris Muller en ds. HCM Fourie word gevange geneem. Kommandant Koos Wolmarans, wat vroeër ’n lid van die Transvaalse Staatsartillerie was, sneuwel. Daarmee was die rebellie oos van Pretoria verby.
Christiaan Beyers en sy volgelinge word by Gruisdrift aan die Vetrivier deur regeringsmagte aangeval en 400 van hulle word gevange geneem.
Christiaan de Wet en sy volgelinge kamp op die plaas Lindequeskraal, tussen Ventersburg en Winburg, noord van die Sandrivier.
Jan Smuts telegrafeer aan president Steyn dat hulle Beyers opgespoor het en ’n vrygeleide aan hom sou stuur om vir samesprekings na Onze Rust te gaan. Beyers ontvang skynbaar nog dieselfde dag die vrygeleide.
Colin Steyn doen op Onze Rust aan sy vader verslag oor De Wet se bewegings. President Steyn telegrafeer aan Smuts dat hy self te siek is om uit te gaan, maar dat hy weer gesante na De Wet sou stuur om hom te oorreed om na Onze Rust te kom. Colin Steyn en Charlie Fichardt ry dieselfde aand per motor van Onze Rust noordwaarts, dwarsdeur die nag, om president Steyn se boodskap aan De Wet te gaan aflewer.
1938 – Eerste elektriese treinreis tussen Pretoria en Johannesburg
1945 – Suid-Afrika is tot die VVO (later VN) toegelaat
1962 – Nelson Mandela skuldig bevind
In Suid-Afrika word Nelson Mandela skuldig bevind en tot 5 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagtes van “aanhitsing” en verlaat van die land sonder geldige reisdokumente.
GEBOORTES
1849 – Genl. David Johannes (Ou Kat) Joubert, ontdekkingsreisiger († 13 Maart 1903)
David Johannes (Ou Kat) Joubert (gebore op 7 November 1849) sterf op sy terugtog van Shirati na Dar-es-Salaam aan malaria nadat hy grond vir ’n nuwe woongebied by die goewerneur van Duits-Oos-Afrika gekoop het, en word “in ’n eensame graf weggelê, ver van huis en haard, in die weste van Duits-Oos”. Te midde van groot ontberinge het genl. Joubert met ander lede van die landsoekersekspedisie, wat op 7 Januarie 1903 op Ermelo saamgestel is, gepoog om baanbrekerswerk te doen en so die steeds aanwesige trekgees van die Boere te bevredig deur nuwe gesigseinders oop te stel vir verdere trekke en moontlike uitbreiding van Suid-Afrika.
1917 – Helen Suzman, Volksraadslid van die Verenigde Party, Progressiewe Party, Progressiewe Reformisteparty, Progressiewe Federale Party en Demokratiese Party († 1 Januarie 2009)
Helen Suzman was ’n lid van die Volksraad van 1953 tot 1989. Veral nadat sy in 1959 uit die Verenigde Party bedank het weens die amptelike opposisie se halfhartige bestryding van afsonderlike ontwikkeling en van 1961 tot 1974 die Progressiewe Party se enigste Volksraadlid was, was Suzman dikwels die enigste teenstem in die Parlement tydens die aanvaarding van die mees drakoniese apartheidswette. Sy was ook ses jaar lank die enigste vrou in die Unie-Volksraad. Hoewel nie een enkele van haar tientalle mosies in die loop van 36 jaar aanvaar is nie, het sy meer vrae as enige ander LV gestel en so inligting aan die lig gebring oor die regering se toepassing van apartheidswetgewing wat andersins verskuil sou gebly het. Vanaf die tweede helfte van die 1960’s het sy gereeld gevangenisse besoek om ’n verbetering in aangehoudenes se omstandighede te bewerkstellig, iets wat deur haar toedoen geleidelik wel gebeur het.
1923 – Morkel van Tonder, Afrikaanse radio-omroeper († 26 Maart 2013)
Morkel van Tonder was ’n voormalige hoof van die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK en ’n skrywer van radiodramas, kortverhale en romans.
Hy het in 1940 aan die Hoërskool Ladismith in die Wes-Kaap gematrikuleer waarna hy eers by ’n algemene handelaar in Worcester gaan werk het en daarna ’n eenmansaak op De Doorns se spoorwegstasie bedryf het. Nadat die Spoorweë sy huurkontrak opgeskort het, het hy by die CSV-uitgewery op Stellenbosch gewerk. Hy was veral gemoeid met die bemarking van die uitgewery se eie publikasies maar omdat die uitgewery se boekwinkel ook ander werk aangehou het, het hy skrywers soos Ernst van Heerden, Jan Rabie en PJ Schoeman ontmoet.
In 1945 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer; hy het egter sy studierigting van BA (Admissie) na ’n gewone BA-graad verander en sy graad in 1948 verwerf. Twee jaar tevore het hy die assistent-sekretaris van die Westelike Provinsie-rugbyvoetbalunie geword. Omdat rugby op daardie stadium net ’n wintersportsoort was, het hy in die somermaande hoorspele en stories vir tydskrifte geskryf. Nadat hy komiteeklerk van die Goodwood-stadsraad geword het, het een van sy hoorspele ’n hoorspeelwedstryd van die SAUK gewen.
Hy het daarna deeltyds by die SAUK begin uitsaai saam met kollegas soos Pierre Louw, WA de Klerk en Dirk Kamfer en op 1 September 1951 het hy hom voltyds by die SAUK aangesluit as omroeper en regisseur. Benewens sy skryfwerk het hy ook as sportkommentator opgetree. Op 1 Maart 1972 het hy die hoof van die Afrikaanse radiodiens geword. Vanaf 1981 was hy programorganiseerder vir Afrikaanse radio en televisie. Hy het krieket en boks uitgesaai en rugby-opsommings gedoen. Hy het in November 1983 afgetree.
Hy is op 25 Maart 2013 in die ouderdom van 89 jaar oorlede.
1934 – Wille Martin, Afrikaanse skryfster († 25 Junie 2016)
STERFTES
1869 – Ds. Gottlieb Wilhelm Anthonie van der Lingen, stigter van die Paarlse Gimnasium (* 29 Mei 1829)
Gottlieb Wilhelm Antonij van der Lingen is op 29 Mei 1804 in Kaapstad gebore. Na sy teologiese studie in Nederland keer hy in 1832 terug, nadat hy aanvanklik in China sendingwerk wou gaan doen. Hy word predikant van die NG gemeente Paarl, waar hy 38 jaar lank – tot sy dood – diens doen. Hy was in baie opsigte ’n eksentrieke mens, maar ongetwyfeld besonder beginselvas, en het hom as taal- en kultuurleier onderskei. Hy was nie net prediker nie, maar ook volksman, en het ’n groot rol in die onderwys gespeel. Nadat daar in 1857, veral as gevolg van sy ywer, besluit is om in die Paarl ’n middelbare skool onder toesig van die Kerk te stig, is in 1858 met die eerste klasse begin. Dit was sy beleid dat hierdie skool, wat die Gimnasium genoem is, slegs Hollands as medium van onderwys sou hê. Hierdie skool bestaan vandag nog. In sy tyd was hy een van die mees belese Afrikaners en het hy ’n boekery besit van meer as 4000 boekdele. Hy was ook gemoeid met die oprigting van twee tydskrifte, onder meer in 1849 Die Gereformeerde Kerkbode (vandag Die Kerkbode), waarvoor hy na bewering die eerste artikel geskryf het. Hy sterf op 65-jarige ouderdom en word langs die bekende Strooidakkerk in die Paarl begrawe. Van hom het AWJ Pretorius, ’n tydgenoot, geskryf dat hy “een ware Africaan” is.
1900 – Joachim Christoffel Fourie, Boeregeneraal (* 1 Februarie 1855)
Die geboortedag van generaal Joachim Christoffel Fourie te Grahamstad. Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880/81) beklee hy reeds die rang van veldkornet. Ook is hy gedurende 1893 verkies tot lid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaanshe Republiek. Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem hy deel aan die Natalse offensief. Gedurende Maart 1900 word hy bevorder tot die rang van veggeneraal. Daarna veg hy onder meer by Dalmanutha en Chrissiesmeer. Op die 7de November 1900 neem hy deel, saam met genl. Smit-Dorien, aan ’n geveg by Witkloof in die Carolina distrik. Generaal Fourie en kmdt. Hendrik Prinsloo was die dag op die voorpunt van ’n stormloop gewees. Beide van hulle het die dag gesneuwel.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.