TOTIUS (1877-1953)
Totius was ’n Afrikaanse digter, predikant en hoogleraar wat veral vir sy aandeel in die vertaling van die Bybel in Afrikaans en vir sy Psalmberymings onthou sal word.
Jacob Daniël du Toit is op 21 Februarie 1877 in Paarl gebore en het sy studie aan die Hugenote-gedenkskool in Daljosafat, die teologiese skool op Burgersdorp en in die Nederlandse hoofstad Amsterdam voltooi. Hy was die seun van SJ du Toit, die vader van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Hy wou aanvanklik ’n myningenieur word, maar sy stiefma het hom oortuig dat die amp van predikant eerder sy roeping was. Daarom het hy aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp gaan studeer, waar prof. Jan Lion-Cachet sy leermeester geword het. In 1899 het hy belydenis van geloof afgelê en die proponentseksamen geslaag.
In Oktober 1899 het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek en teen sy pa se wil het hy hom as veldprediker by die Boeremagte aangesluit. Op 11 Desember 1899 het hy aan die Slag van Magersfontein deelgeneem maar ’n maagaandoening het gemaak dat hy na Burgersdorp teruggekeer het. Op sterk aandrang van vriende, veral uit Nederland, het hy in Mei 1900 na Nederland vertrek vir verdere studie nadat hulle vir hom finansiële hulp aangebied het. Hy het sy studie aan die Vrije Universiteit van Nederland, ’n stigting van dr. Abraham Kuyper, wat op Gereformeerde beginsels gefundeer is, voltooi. Hier het hy met die vernaamste Calvinistiese teoloë in Nederland in aanraking gekom. In ’n brief aan sy Burgersdorpse studiegenoot, prof. JA van Rooy, het hy egter sy bedenkinge uitgespreek oor die gees van teologie in Amsterdam en Kampen uitgespreek en die noodsaaklikheid om ’n eie Gereformeerde teologie in Suid-Afrika uit te bou, beklemtoon. Nadat hy in 1903 met die proefskrif, “Het Methodisme” gepromoveer het, is hy getroud met Maria Postma, die jongste dogter van die stigter van die Gereformeerde Kerk, ds. Dirk Postma. Twee dogters en vier seuns is uit hierdie huwelik gebore.
In September 1903 is hy bevestig as predikant van die Potchefstroom-gemeente wat omtrent die hele Wes-Transvaal beslaan het. Weens die na-oorlogse toestande van verarming en die gebrekkige vervoermiddels van destyds was dit ’n uiters veeleisende taak. Daarby is hy dadelik betrek by Het Kerkblad, waarvan hy redakteur en gereelde medewerker geword het. Verder was hy ’n gesogte spreker wat die Christelik-nasionale beginsel op alle terreine van die lewe, maar veral die onderwys, uitgedra het.
Die Teologiese Skool is, veral deur sy toedoen, na Potchefstroom verplaas, en in 1911 het hy hoogleraar aan dié instelling geword. In die tydperk van 38 jaar het hy al die teologiese wetenskappe, asook Hebreeus, gedoseer. Hy was ’n gesaghebbende op die gebied van die Gereformeerde leer en kerkreg. Gevolglik het hy nie net in sy eie kerk ’n leidende rol gespeel nie, maar ook advies na buite gegee, onder meer in verskeie hofsake.
Deur die verband wat bestaan het tussen die Teologiese Skool en die Potchefstroomse Universiteitskollege wat uit die Literariese Afdeling ontstaan het, het hy saam met prof. Ferdinand Postma die grondslag gelê vir die stigting van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, waarvan hy die eerste kanselier was. Hy was as hoogleraar besonder gewild onder die studente; hy het sy hele lewe lank gestudeer en die kuns verstaan om sy studente met liefde vir die studie te inspireer.
Reeds tydens die Eerste Taalbeweging het hy in Patriot-styl onder die skuilnaam “Jaduto” gedig en vertaalwerk gedoen. Na die Anglo-Boereoorlog het hy as ware digter onder die deursigtige skuilnaam Totius te voorskyn gekom. Ten eerste wou hy met sy poësie deur geloof sin en betekenis gee aan nasionale gebeure en sy bekommernis uitspreek oor sy volk se afval van die God van die vadere en die opgaan van wat hy as volksvreemde idees en sedes beskou het. Tweedens wou hy sy persoonlike leed en innige stemmingslewe verwoord. In 1920 is twee van sy kinders oorlede en in sy digbundel Passieblomme, wat in 1934 verskyn het, is die twee gedigte wat hy hieroor geskryf het, naamlik “Ag, sy het nie gesterwe” en “O die pyn gedagte” ingesluit.
Totius se ontwikkeling as digter het gelei tot die vervulling van sy ander lewenstaak. Net soos die sangers van die Ou Testament het hy die lief en leed van sy volk beleef, tesame met die smart in sy eie lewe. Hy het die dikwels onbegryplike, selfs verwarrende bestel van God in die mens se lewe as gelowige ervaar en vorendag gekom met die beryming van al 150 Psalms, wat van 1937 tot 2001 deur die susterskerke gebruik is. Daarby was hy verantwoordelik vir ’n aantal Skrifberymings, wat in die Gereformeerde Kerk saam met die Psalms pleks van gesange gesing is. Die Psalmboek wat tans in die Gereformeerde Kerk gebruik word, bevat die Skrifberymings asook ander goedgekeurde liedere uit die Liedboek van die Kerk.
Hy het sy belangstelling in Bybelvertaling by sy pa geërf en het grootgeword in die atmosfeer van taalstryd, Bybelvertaling en drukpers. Laasgenoemde het van hom ’n uitstekende drukproefleser gemaak; hy was later hiervoor verantwoordelik ten opsigte van die Bybelvertaling. Deur sy vorming as teoloog was hy uitstekend toegerus vir die taak as Bybelvertaler; hoewel hy ten eerste ’n Ou Testamentikus en Hebraïkus was, kon hy ook met gesag oor die Nuwe Testament en dogmatiek praat. Die Bybelvertalers van 1933 moes baanbrekerswerk verrig, want tydens die Eerste Taalbeweging het ds. Du Toit, Totius se pa, soveel moontlik by die spreektaal gehou, wat tot die mislukking van daardie vertaling gelei het. In 1923 is ’n proefuitgawe met die vier Evangelies en die Psalms in die styl van die Statevertaling gepubliseer maar weer eens was dit ’n mislukking.
Totius en die Bybelvertaling was onlosmaaklik aan mekaar verbind. Hy het in 1916 op die betreklik jong ouderdom van 39 jaar daarmee begin en teen 1923 het hy aan die voorpunt daarvan gestaan. Die mislukte pogings van voorheen het hom gemotiveer om alles moontlik te doen om te verseker dat sy toekomstige pogings suksesvol sou wees. Hy het selfs sy familielewe agterweë gelaat en die eensaamheid opgesoek om hierdie taak te verrig. Hy het nie net sy oorspronklike siening dat die Bybel uit Nederlands vertaal moes word, hersien nie; hy het ook seker gemaak dat sy medewerkers soveel tyd as moontlik tot hulle beskikking moes hê. Die eerste besending Afrikaanse Bybels is op 29 Mei 1933 in Suid-Afrika ontvang en vanaf die verskyning van die eerste uitgawe was hy aanhoudend besig met die hersiening daarvan. Hy het op hoogte gebly met die jongste kommentare, woordeboeke en aflewerings van die Nederlandse vertaling terwyl hy steeds die raad van taaladviseurs ingewin het. Selfs siekte kon hom nie daarvan weerhou om met die hersiening van sy werk voort te gaan nie. Die hartaanval wat sy lewe op die ou einde geëis het, het juis gebeur terwyl hy besig was met die finale afronding van die hersiene weergawe van die Afrikaanse Bybel. Sy medewerkers, onder meer prof. BB Keet en dr. JD Kestell was dit eens dat hy die stukrag en siel van die vertalers en die praktiese mens onder hulle was. Hoewel hy ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk was, het die wel en wee van die ander twee susterskerke ook altyd op sy hart gelê met die gevolg dat al drie kerke met dankbaarheid aan hom dink.
Hy is op 1 Julie 1953 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst