EERSTE AFRIKAANSE BYBELVERTALINGS
Twee GRA-lede het vertalings van Bybelboeke aangepak. CP Hoogenhout het die Markus-evangelie in 1878 vertaal. Dit is egter nie uitgegee nie, maar die geskrewe manuskrip het behoue gebly. In die 1890erjare het SJ du Toit met die hulp van ’n paar ander die vertaling van die Bybel aangepak. Die vertalings van sewe Bybelboeke is tussen 1893 en 1908 gepubliseer, sommige daarvan in Du Toit se godsdienstige tydskrif Stemmen des Tijds.
Di eerste boek van Moses, genoem Génesis het in 1893 verskyn. Luidens die voorwoord het ’n “Broederkring” Donderdagaande Du Toit se vertalings krities bespreek aan die hand van die grondteks en ander vertalings.
Die mense wat die byeenkoms bygewoon het, was ds. SJ en FS du Toit, ’n sendeling, eerw. JPJ Dempers, drie onderwysers, waarskynlik CP Hoogenhout, DF du Toit en J Snibbe van die Hugenote-gedenkskool, ’n dokter, moontlik dr. Josias Hoffmann, asook ’n Jood waarvan die identiteit tans onbekend is. Die volgende Bybelboeke was Di Evangeli vollens Matteus (1895), Di Openbaring van Jesus Gristus (1898), Di Hoogliid fan Salamo, Di Psalme en Di handelinge fan di Apostels wat al drie gepubliseer is in Stemmen des Tijds.
’n Taalkundige, Edith Raidt, oordeel tereg dat Du Toit “beslis ’n kernagtige, pittige Afrikaans gebruik en ’n fris, selfs digterlike benadering tot die probleem van ’n Bybelvertaling” getoon het.
Maar Du Toit het soms Bolands-dialektiese woorde gebruik, of woorde wat nie gepas het in ’n Bybelse styl nie. So vertaal hy Hooglied 7:6: “Hoe mooi is jy en hoe lifelik, o Liifste, om mé te fry.” ’n Rede waarom sy vertalings nie aanvaar is nie, was waarskynlik die radikale spelling wat hy in die 1890’s ingevoer het. En daarby was Du Toit met spelling en al polities gestigmatiseer omdat hy kant gekies het teen die republikeinse Afrikaners.
Baie Afrikaners was in elk geval teen ’n vertaling. Die Vrystaatse en Kaapse sinodes van die NG Kerk het hulle in 1885 en 1886 onderskeidelik teen ’n Afrikaanse Bybelvertaling uitgespreek. Ook voorstanders van Afrikaans het bedenkings gehad.
Maar nie alle predikante was afkerig van Afrikaans nie. In 1887 het drie jong predikante, SJM van Niekerk, JA Joubert en WA du Toit van onderskeidelik Smithfield, Ladybrand en Dewetsdorp, voorgestel dat die Vrystaatse NG Sinode ’n Bybelvertaling in Afrikaans goedkeur. Die voorstellers het dit teruggetrek op aandrang van die Sinode.
Individuele GRA-lede het dikwels op direkte wyse ’n Afrikaanse Bybel bepleit. ’n Moderne teoloog, Jackie Naudé, wys daarop dat Du Toit dit verder gedoen het met sy histories roman, Di Koningin fan Skeba of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia (1898). Dit was die eerste roman in Afrikaans en is gretig gelees. Hierdie verhaal is in tyd en ruimte ver verwyder van die Suid-Afrika van Du Toit. Deur gebruik te maak van buitelandse en antieke kulture, het Du Toit aangetoon dat dit moontlik is om oor enige onderwerp in Afrikaans te skryf en daarin te vertaal, hoe ver dit ook al verwyderd is van die omgangstaal.
Sy plasing van die Ou-Testamentiese Paradys in Midde-Afrika het ’n eeu later polities korrek geword. Die boek is in 1998 in faksimilee herdruk. Die Nederlandse taalkundige DC Hesseling prys Du Toit se fantasie en vernuf. Ongesofistikeerde lesers het gemeen dat die verhaal waar is, ook ’n ou swaer en suster van Du Toit. Toe die storie darem te vergesog raak, het hulle gevra: “Maar is dit dan die waarheid?” “Nee,” het ’n vriend geantwoord, “dis mos ’n roman.” “Maar,” merk die ou swaer op, “Fanie sal tog nie lieg nie!”