AFRIKAANS 100 – 1946 tot 1965
Hierdie artikel is die tweede van vyf wat ’n oorsig gee van belangrike gebeure in die ontwikkeling van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis. Enkele hoogtepunte tussen 1946 en 1965 is die ontwaking van die Afrikaanse toneel, die Wonder van Afrikaans-feeste en die eerste uitgawe van die HAT.
1946: Eerste Afrikaanse regshandboek
In 1946 verrig LC Steyn baanbrekerswerk met die publisering van Uitleg van Wette. Dit is die eerste Afrikaanse regshandboek. Kort daarna is Kontraktereg deur JC de Wet gepubliseer. Afrikaans sou verder uitbrei as ’n regstaal en akademiese taal. Voorheen het advokate gehuiwer om Afrikaans te gebruik, uit vrees dat dit hul saak sal benadeel en omdat dit makliker was om in Engels ’n betoog te lewer wanneer dit oor regsvraagstukke gehandel het omdat al die bronne in Engels was.
1947: Die ontwaking van Afrikaanse toneel
Siegfried Mynhardt
Die toneelwêreld het in 1947 ’n nuwe fase betree met die ontstaan van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO). Die stigting van die NTO was ’n uitvloeisel van die Federasie van Amateurtoneelverenigings in Suidelike-Afrika (Fatsa). Hulle het ontstaan uit verskillende amateurgroepe wat hulle beywer het vir staatsondersteuning. Die NTO het Afrikaanse en Engelse stukke opgevoer. Hul eerste Afrikaanse drama was My liefste, ’n vertaling van Minna von Barnhekm, ’n klassieke Duitse blyspel van Gotthold Lessing. Die spelers het André Huguenet, Siegfried Mynhardt en Gert van den Bergh ingesluit.
Lees gerus meer oor André Huguenet: https://afrikanergeskiedenis.co.za/andre-huguenet-1906-1961/
1948: Eerste Afrikaanse saketydskrif
In 1948 het die sakeman Anton Rupert pionierswerk verrig toe die eerste volwaardige Afrikaanse saketydskrif, Tegniek, onder sy leiding op die been gebring is. Die doel was om Afrikaners in te lig oor verwikkelinge in die sakewêreld aangesien die meeste Afrikaanse koerante op daardie stadium nie eers die beurspryse gepubliseer het nie. In die eerste uitgawe van Tegniek voorspel Rupert groot sukses vir die Afrikaner in die sakewese. “Ons het die meganiese aanleg en kan arbeid hanteer.” Die tydskrif het later bekend gestaan as Finansies & Tegniek.
1949: Sarie Marais maak woning in harte

Die eerste uitgawe van Sarie Marais
In die vroeë 1940’s het verskeie Afrikaanse vrouetydskrifte die lig gesien. Dit was egter eers in 1949 wat die Nasionale Pers sy eerste vrouetydskrif, Sarie Marais, bekend gestel het. Bekende skrywers wat onder die eerste jare se medewerkers is, sluit in: Audrey Blignault, Alba Bouwer, Elise Muller, Anna M Louw, Elsa Joubert, Henriette Grové, Minnie Postma, Dot Serfontein, Petra Müller, Dalene Matthee en Esta Steyn. Alba Bouwer was vanaf 1949 redaksielid en tussen 1952 en 1964 assistentredakteur.
Lees ook gerus: https://afrikanergeskiedenis.co.za/2-november-intellektuele-en-populere-tydskrifte-en-koerante/
1950: Die Vaktaalburo gestig
Na ’n konferensie oor vaktaal in 1948 het die regering die verantwoordelikheid aanvaar vir ’n vaktaaldiens met die ondersteuning van die SA Akademie. Dit het gelei tot die stigting van die Vaktaalburo. Die staat het jaarliks £3 500 voorsien. Prof. SPE Boshoff is as die eerste direkteur van die Vaktaalburo aangestel. Onder sy leiding is daar binne die eerste twee jaar vier terminologielyste bekend gestel, naamlik Bouterme, Skeikundige Terme, Opvoedkundige en Sielkundige Terme en Ontleedkundige (Anatomiese) Terme.
1951: Verseboeke

DJ Opperman
In 1951 is een van die invloedrykste werke van DJ Opperman gepubliseer. Dit was die Groot verseboek, Junior verseboek en Senior verseboek waarvan hy die samesteller was. Hierdie bloemlesings strek van die eerste Taalbeweging tot die 1940’s. Elke uitgawe gee erkenning aan nuwe skrywers om in die Afrikaanse kanon bevestig te word. Die versboeke het vinnig volksbesit geword en het bygedra tot die bewusmaking en ontwikkeling van Afrikaanse poësie.
1952: FA Venter se Swart pelgrim
In 1952 is Swart pelgrim deur FA Venter gepubliseer. Die roman handel oor ’n swart man wat van die Transkei na Johannesburg verhuis om geld te verdien. Die roman spreek kontroversiële onderwerpe van die dag aan. Swart pelgrim is die tweede roman uit Venter se pen. In 1961 ontvang hy die Hertzogprys vir prosa vir Swart pelgrim en die eerste boek van sy Groot Trek-reeks, Geknelde land.
1953: Hersiende Bybelvertaling
Byna dadelik na die verskyning van die 1933-Bybelvertaling is daar begin werk aan ’n hersiende weergawe. Hierdie vertaling staan vandag bekend as die 1933/1953-vertaling en is steeds ’n baie gewilde tradisionele vertaling wat uit die Hebreeuse en Griekse brontekste vertaal is.
1954: Die Briels en die gryse ou moeder
Op 24 Augustus 1954 neem Frans en Sannie Briel (bekend as Die Briels) hul eerste album, My gryse ou moeder, op. Hulle was van die eerste Afrikaanse sanggroepe wat hul eie liedjies gekomponeer het en nie Engelse liedere vertaal het nie. Die sanger-egpaar was beide weeskinders uit die depressiejare. Hul droewige musiek het gou byval gevind by ouer luisteraars, maar is deur ander weer as ’n verleentheid beskou. Later was hulle bekend vir liedjies soos “Drie wit kissies”, “Trein na Pretoria”, “Ter nagedagtenis aan 435 mynwerkers” en “Mynerslied”.
1955: Trust Bank
Trust Bank is in 1955 deur die inisiatief van Jan Marais gestig. Hy het die bank begin met ’n kapitaal van net oor die £10 000. In 1964 het sy bates oor die R200 miljoen beloop. Dit was spoedig een van die groot vyf banke in Suid-Afrika. Trust Bank het Afrikaans in die sakewêreld as ondernemingstaal versterk. Dit is in 1991 in Absa opgeneem.
1956: Ingrid Jonker stel haar eerste digbundel vry

Ingrid Jonker
In 1956 begin Ingrid Jonker by die Uitgewery Culemborg te werk. In dieselfde jaar publiseer sy haar debuutdigbundel, Ontvlugting, by Uitgewery Culemborg. Dit was een van slegs drie digbundels uit Ingrid se pen waarvan die laaste een in 1966 postuum uitgereik is. In haar gedig wat dieselfde naam dra as die bundel, Ontvlugting, lui die slotstrofe “My lyk lê uitgespoel in wier en gras; op al die plekke waar ons eenmaal was.”
Lees gerus meer oor Ingrid Jonker: https://afrikanergeskiedenis.co.za/ingrid-jonker-1933-1965/
1957: Inrybelange verseker Afrikaanse films
Die maatskappy Inrybelange (Edms.) Beperk is in 1957 gestig omdat feitlik alle beheer oor die rolprentverspreiding in Suid-Afrika deur Amerikaanse maatskappye beheer is. Inrybelang het die verspreiding van plaaslike Afrikaanse rolprente aangemoedig. In 1962 het Sanlam besluit om die maatskappy finansieel by te staan. Inrybelange het uitgebrei en later bekend gestaan as Ster-films. In 1969 het Sanlam al 20th Century Fox se belange in Suid-Afrika oorgekoop en Kinekor gevestig. Die twee maatskappye het later saamgesmelt en staan vandag bekend as Ster-Kinekor.
1958: Fratse in die vloot
Fratse in die vloot is ’n komediese wit-en-swart film wat in 1958 op die silwer skerm verskyn het. Die hoofkarakters is vertolk deur Al Debbo en Frederik Burgers wat as Suid-Afrika se eie “Laurel en Hardy” beskou is. Die regisseur was Pierre de Wet, wat beskou word as die vader van die Afrikaanse rolprentbedryf. Debbo en Burgers het saam in verskeie komediefilms verskyn soos Hier’s ons weer (1950) en Alles sal reg kom (1952).
1959: Die Wonder van Afrikaans
Die jaar 1959 was gekenmerk deur geesdrif en landswye feesvieringe. Daardie jaar het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hul 50ste en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) hul 30ste bestaansjaar gesamentlik gevier. Op 6 April het die fees in Kaapstad en by die Van Riebeeckskool by Thomson’s Falls in Kenia begin. Die feesvieringe is week na week noordwaarts, uit die Kaap, en suidwaarts, uit Kenia, verskuif en ’n hoogtepunt op 30 Mei bereik in die amfiteater van die Voortrekkermonument. Hierdie geleentheid is deur 60 000 mense bygewoon. Die leuse “Die Wonder van Afrikaans” en die Taalfeesembleem het duisende se verbeelding aangegryp. In dieselfde jaar is die hoeksteen van die Taalmonument in Welkom gelê, wat die volgende jaar onthul is.
Lees gerus ook: https://afrikanergeskiedenis.co.za/15-november-die-wonder-van-afrikaans-met-feeste-gevier/
1960: Germanicus verower die Hertzogprys
Reeds in 1941 het NP van Wyk Louw begin werk aan sy versdrama Germanicus. Hy voltooi dit in 1944, maar dit kort egter nog baie skaafwerk. In 1946 en 1951 is fragmente in Standpunte gepubliseer. Op navrae van die SAUK het Louw ernstig aan die werk gespring om dit te voltooi en dit word uiteindelik in 1956 gepubliseer. Germanicus handel oor die Romeinse bevelvoerder, Germanicus, wat die Germane oorwin het en die ambisie gehad het om Rome by sy oom Tiberius oor te neem. Die versdrama word beskou as een van die bestes uit NP van Wyk Louw se pen en verower in 1960 die Hertzogprys vir drama.
1961: Reusesukses vir Doodkry is min
Jamie Uys het die film Doodkry is min in opdrag van die FAK vervaardig. Dit vertel die verhaal van die ontwikkeling van Afrikaans sedert 1860. Met die première op 29 April 1961 was daar ’n gehoor van bykans 50 000 mense in die amfiteater van die Voortrekkermonument. Tot vandag toe is dit die grootste skare wat ’n première van ’n film kon lok in Suid-Afrika. Die film is in byna elke inrybioskoop in die land vertoon. In dieselfde jaar nog het ongeveer ’n miljoen mense die rolprent gesien. Die oggend na die vrystelling het selfs die Engelse Sunday Times met groot lof oor die film berig. Een van die bekendste tonele uit die film is waar ’n seuntjie ’n bord om sy nek kry met die woord “Donkey”, omdat hy Afrikaans en nie Engels nie in die klas gepraat het.

’n Skermgreep uit Doodkry is min
1962: Afrikaanse radio kry FM
Die SAUK het 1962 as een van die merkwaardigste jare in sy geskiedenis beskou omdat die BHF-FM-diens ingestel is. Die BHF staan vir “baie hoë frekwensie” en FM vir “frekwensie-modulasie”. Die amptelike opening van die FM-stelsel was op 15 September 1962. Skaars vier jaar tevore, in 1956, is radioprogramme vir die eerste keer tussen 14:15 en 16:00 ononderbroke aangebied na jare se onderbreking. Afrikaanse radiodienste en plaaslike radiostasies lewer vandag steeds onmisbare bydraes tot die ontwikkeling van Afrikaans.
1963: Ruiter in die nag op die silwer skerm
In 1963 is Suid-Afrikaners se verbeelding aangegryp met die rolprent Ruiter in die nag. Die verhaallyn is gebaseer op Mikro se boek met dieselfde titel en die opvolg, Kaptein Gereke, wat reeds in 1936 en 1937 verskyn het. Die regie en die draaiboek is deur Jan Perold behartig. Die Spaanse film El Jinete de la Noche (1965) en die Amerikaanse film The Rider in the Night (1968) is deur hierdie Afrikaanse rolprent geïnspireer. Van die akteurs het ingesluit: Johan van Heerden, Brian O’Shaughnessy, Willie van Rensburg, Gert van den Bergh, Jan Bruyns, Arthur Hall, Bill Brewer en Dulcie van den Bergh.
1964: Breytenbach en Die Sestigers

Breyten Breytanbach en Yolande, sy vrou
In die 1960’s het ’n vernuwing in Afrikaanse letterkunde plaasgevind. Dit is vermag deur ’n groep skrywers en digters wat na hulself verwys het as Die Sestigers. Hul werke het gefokus op die onreg van die apartheidsbeleid. Een van die skrywers wat ’n groot bydrae gelewer het tot die Sestigers is Breyten Breytenbach. Tussen 1961 en 1964 het hy enkele verse en prosasketse in Contrast en Sestiger gepubliseer. Dit was egter eers in 1964 wat hy sy debuutbundel Die ysterkoei moet sweet en eerste prosawerk, Katastrofes, bekendgestel het. In die jare wat sou volg, sou Breyten se werke tot groot kontroversie in literêre kringe veroorsaak.
Lees gerus meer oor Breyten Breytenbach: https://afrikanergeskiedenis.co.za/breyten-breytenbach-1939-2024/
1965: Die verskyning van die HAT
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) het die eerste keer in 1965 verskyn. Hierdie boek het meer as 1000 bladsye beslaan, en was op dieselfde lees geskoei as die WAT, dog kleiner van omvang en meer beperk in opset. Die HAT is telkens opgedateer en bygewerk, sodat die sesde uitgawe, ’n halfeeu na die eerste, in 2015 kon verskyn. Dié boek bestaan uit meer as 1600 bladsye, 200 meer as sy voorganger. Deurdat die HAT saam met Afrikaans groei en ontwikkel, is dit baie meer as slegs ’n taaldokument. Dit dien ook as ’n historiese opname, en is daarom ’n belangrike stuk kultuurgeskiedenis. Sedert 2008 is die HAT ook elektronies beskikbaar.