BREYTEN BREYTENBACH (1939-2024)
Breyten Breytenbach was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en digter wat ’n groot bydrae tot Afrikaanse letterkunde en poësie gelewer het.
Hy is op 16 September 1939 op Bonnievale in die Wes-Kaap gebore en was die derde van vyf kinders. Met Breyten se geboorte was sy pa ’n boer in die distrik. Toe hy vyf jaar oud was, het die gesin na die plaas Kafferkuilsrivier in die distrik Riversdal verhuis. Hy was ’n leerder aan die Laerskool Langenhoven op dié dorp. Hy het reeds op ’n jong ouderdom begin teken; in 1948 het hy spotprent geteken waarin hy die oorwinning van die Nasionale Party in daardie jaar se algemene verkiesing uitgebeeld het met dr. DF Malan wat genl. Jan Smuts in ’n boksgeveg planke toe gestuur het. Die plaas is in dieselfde jaar verkoop en die gesin het na Wellington verhuis. Breyten se pa het eers ’n winkel langs die spoorlyn naby die dorp besit en daarna het hy tot 1970 die Grevilleas-gastehuis op Wellington bedryf.
In 1957 het Breyten aan die Hoërskool Hugenote op Wellington gematrikuleer, waarna hy twee jaar lank vir ’n BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het. Onder sy dosente in die Departement van Afrikaans en Nederlands was die digters Boerneef en DJ Opperman. In dieselfde jaar het hy aan dieselfde universiteit kuns onder Lippy Lipshitz gestudeer. Hy het per geleentheid betrokke geraak by studenteaktivisme; hy was een van die studente wat betoog het teen verskillende universiteite vir verskillende rassegroepe. Hy het sy studies laat vaar en ’n tyd lank as redaksieassistent van Gerry de Melker, ’n uitgewer by H.A.U.M gewerk, asook in dié uitgewery se boekwinkel. Deur hierdie werk het hy in Kaapstad bevriend geraak met Jan Rabie, Uys Krige, Jack Cope en Ingrid Jonker. Daarna het hy ’n tyd lank deur die land geryloop en tydelik in Johannesburg gewoon. Hier het hy by Ingrid Jonker en haar man, die digter Pieter Venter, geloseer.
In Desember 1959 het hy as vierdeklaspassasier aan boord van die Portugese boot Mozambique, vertrek om die wêreld te verken. Na sy aankoms in die Portugese hoofstad Lissabon het hy per trein deur Portugal en Spanje na die Franse hoofstad Parys gereis. Hiervandaan het hy per boot vertrek na ’n kusdorp in die Engelse kanaal en daarvandaan na Londen, waar sy broer Cloete en sy vrou destyds gewoon het. In Londen het hy onder meer as ’n verpakker in ’n fabriek gewerk en daarna het hy weer na Frankryk vertrek. Daarna het hy werk gekry as ’n kok op ’n plesierboot wat ’n paar maande in die Middellandse See rondgevaar het, totdat die boot teruggekeer het na Londen. Hier het hy sy toekomstige vrou by vriende ontmoet. Teen die einde van 1960 het hy na Noorweë vertrek, waar hy ses maande lank Engels by die Berlitz-skool in Bergen gedoseer het. In Junie 1961 het hy teruggekeer na Parys waar hy as skilder gewerk het en op hierdie manier ’n karige inkomste verdien het, Sy werk is nogtans uitgestal in die Galerie Espace in Amsterdam, asook in Edinburgh, Parys, Minneapolis, Rome, Rotterdam, Brussel en Groningen.
In 1962 is hy in Londen met Yolande, ’n Frans-Paryse vrou van Viëtnamese herkoms, getroud. Hulle het eers in ’n kamer aan die linkeroewer van die Seine-rivier in Parys gewoon, en later in ’n klein woonstel in die Rue Malebranche in Parys. Hoewel sy ’n Franse burger was, is sy in Viëtnam gebore. Sy het van vierjarige ouderdom saam met haar ouers in Parys gewoon, waar haar pa ’n verteenwoordiger van Unesco was. Haar regte naam was Ngo Thi Hoang Lien, wat “geel lotus” beteken. Sy en die lotusblom het prominent in sy digkuns voorgekom. Sy het in Parys as ’n sekretaresse by ’n Amerikaanse maatskappy gewerk. Sy het ’n BA-graad aan die Sorbonne-universiteit in Parys behaal en daarna in die regte en volkekunde gestudeer het. Sy was Frans, Viëtnamees, Engels en Spaans magtig. Breyten het in 1963 ook aan die Sorbonne-universiteit gestudeer terwyl hy ’n bestaan probeer voer het deur middel van sy skilderye. Dit het later beter gegaan nadat ’n agent in Amsterdam hom begin help het en hy uitstallings in België en Nederland gehou het. In hierdie tyd het hy al hoe meer by anti-apartheidsorganisasies betrokke geraak. Dit het veral gebeur nadat ’n visum om Suid-Afrika te besoek sodat hy die A.P.B-prys in ontvangs kon neem, in 1965 aan sy vrou geweier is. In 1967 het hulle Suider-Afrika wel besoek en Swaziland deur Mosambiek binnegegaan. Vriende en familie het hulle daar kom groet en hulle is toegelaat om Kaapstad twee dae lank op die terugreis met die boot te verken. In 1972 is ’n visum wel aan sy vrou toegestaan en die egpaar het in Desember daardie jaar na Suid-Afrika gekom vir ’n besoek van etlike maande. In Februarie 1973 het Breyten in die lesingreeks oor die Sestiger-beweging in Kaapstad opgetree. Hy het sy boek, ’n Seisoen in die paradys, onder die skuilnaam BB Lasarus geskryf; dit het die gebeurtenisse tydens hierdie besoek beskryf.
Op letterkundige gebied was hy van die begin af omstrede. Reeds met die publikasie van sy debuutwerke, Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes, het die Afrikaanse Persboekhandel die proewe na die besturende direkteur verwys omdat hulle gemeen het dat die werke ongesond en ongewens was. Bartho Smit het die besware egter met bestuur behandel en die boeke is gepubliseer, waarna dit die A.P.B-prys verower het. Tydens die toekenning van die CAN-prys in 1968 was DJ Opperman een van die hoofbeoordelaars; dit was vir hom duidelik dat Breyten se werk, Die huis van die dowe, ’n sterk aanspraakmaker was. Met die weiering van die visum aan Breyten se vrou drie jaar tevore het Opperman deur middel van sy vriend Johan Spies verneem of die regering haar sou toelaat om die land binne te kom vir die ontvangs van die prys. Suid-Afrika se destydse Eerste Minister, adv. John Vorster, het groot druk op die beoordelaars uitgeoefen om hul aanbeveling te verander, maar Opperman het geweier. Hy het aan Vorster gesê dat die beoordelaars ’n aantal boeke suiwer letterkundig beoordeel het en nie die persone nie. Opperman was ook nie bereid om dit met ’n amateur te bespreek nie. Indien Vorster die werk verder wou bespreek, het Opperman daarop aangedring dat Vorster drie maande lank klasse by die Universiteit van Stellenbosch moes loop sodat Opperman hom vir die gesprek kon oplei. Nadat die prys aan Breyten toegeken is, het hy in ’n onderhoud met Vrij Nederland gesê dat die prys oëverblindery was en ’n vorm van omkoop was om hom tot stilswye te dwing. Verder het hy gesê dat hy toegang tot Suid-Afrika geweier is weens sy vrou se velkleur en dat hy sy prysgeld sou skenk aan organisasies wat optrede teen Suid-Afrika voorgestaan het. Opperman en die uitgewer Human & Rousseau het aanstoot geneem en in ’n ope brief aan Breyten wat op 18 November 1968 in Die Burger verskyn het, het hulle hom verwerp. Hulle het hulle van sy politieke oortuigings en sy steun vir terreurorganisasies gedistansieer; volgens hulle was dit nie sy vrou se velkleur wat sy koms na Suid-Afrika verhinder het nie, maar eerder sy steun vir ’n “bloedige inval in sy vaderland.” Hierdie brief het ’n vertrouensbreuk tussen Breyten en sy uitgewers veroorsaak en gemaak dat hy sy werk voortaan onafhanklik sou uitgee. In 1971 is daar in die pers bespiegel dat Breyten ’n sterk aanspraakmaker vir die Hertzog-prys was, maar die prys is eerder aan die “veilige” Elisabeth Eybers toegeken. In Junie 1975 het Breyten se digbundel, Skryt: om ’n sinkende skip blou te verf, die eerste Afrikaanse digbundel geword wat ingevolge die streng sensuurwette van destyds verbied is. Die rede hiervoor was veral ’n politieke gedig, gemik teen John Vorster (of J. Vrotstert) onder die titel “Brief uit die vreemde aan slagter”. Die beoordelaars van die Hertzog-prys het Breyten by herhaling oor die hoof gesien wanneer pryse vir poësie toegeken is, en toe sy digbundel Yk in 1984 bekroon is, het hy die toekenning geweier.
Reeds in April 1970 het Breyten ’n artikel vir Sechaba, die mondstuk van die destyds verbode ANC geskryf; hierin het hy rewolusie en die omverwerping van die Suid-Afrikaanse regering openlik bepleit. In 1971 is hy aangewys as die ere-ondervoorsitter van die studenteorganisasie National Union of South African Students, wat hom sterk teen apartheid uitgespreek het. In Junie 1974 het hy erepresident geword. In Frankryk het hy ’n stigterslid geword van die organisasie Okhela (wat “om aan die brand te steek”, beteken); ’n anti-apartheidsorganisasie wat hom veral daarvoor beywer het om blankes in die stryd teen apartheid te mobiliseer. In April 1975 het die Verenigde Volke-organisasie (later die Verenigde Nasies) ’n spesiale seminaar, waaraan Breyten deelgeneem het, aangebied. Hy het Suid-Afrika ’n “terroristestaat” genoem en vir groter steun aan bevrydingsbewegings gepleit. Op 19 Augustus 1975 is hy op die destydse Jan Smuts-lughawe buite Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy op 1 Augustus die land met ’n valse paspoort onder die skuilnaam Christian Jean-Marc Galaska binnegekom het. Sy aanhouding was ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme en vyf van die mense met wie hy na bewering in Suid-Afrika kontak gehad het, is ook aangehou. Die veiligheidspolisie was lank reeds bewus van sy voorgenome besoek aan Suid-Afrika voordat hy geland het aangesien ’n onbekende persoon hom verraai het. Op 10 November het hy te midde van groot plaaslike en internasionale belangstelling vir die eerste keer in die hof verskyn, en die verhoor is tot 21 November uitgestel. Met die aanvang van die verhoor op daardie dag het hy op die hoofaanklag skuldig gepleit; daar was egter wysigings op die klagstaat en hy is eindelik op elf aanklagte skuldig bevind. Op 27 November 1975 het regter PM Cillié hom tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis, al het die staat en die verdediging vir ’n maksimum vonnis van vyf jaar gevra. Verlof tot appèl teen hierdie vonnis is in Desember 1975 en weer in Maart 1976 geweier. Gedurende 1977 is hy ’n tweede keer verhoor op grond van beweerde pogings om te ontsnap en die bevordering van Okhela se doelstellings deur gesprekke met een van die bewaarders. Hy is op die meeste van hierdie aanklagte onskuldig bevind. Hy is slegs skuldig bevind op ’n aanklag van die oortreding van tronkregulasies en daarvoor is hy tot ’n boete van R50 of drie maande se gevangenisstraf gevonnis. Tydens sy aanhouding het die Afrikaanse Skrywersgilde herhaalde pogings aangewend om Breyten toe te laat om in die tronk te skryf en om sy vonnis te versag. Op 4 April 1978 is sy ma onverwags aan ’n hartaanval oorlede en Breyten is toestemming geweier om haar begrafnis by te woon. Nadat hy lank in Pretoria se gevangenis aangehou is, is hy later na Pollsmoor in Kaapstad verskuif, waar sy vrou hom twee keer per jaar kon besoek.
Nadat Breyten omtrent sewe jaar van sy vonnis uitgedien het, is hy op 2 Desember 1982 vrygelaat. Hierna het hy verklaar dat dit vir hom as blanke Suid-Afrikaner feitlik onmoontlik was om deur swart vryheidsvegters as bondgenote in die stryd teen apartheid aanvaar te word. Daarom het hy gemeen dat daar geen rol meer vir hom in die politiek te speel was nie. Hy en sy vrou het weer in Parys gaan woon, en in 1983 het hy ’n Franse burger geword. In die laat 1980’s het hulle ouers van ’n dogter met die naam van Daphnée geword. Benewens ’n kunsateljee in Parys het hulle ook ’n stuk grond aan die voet van die Pirineë gekoop. In April 1985 is hy genooi om by die Universiteit van Kalifornië in die Verenigde State van Amerika op te tree; hier het hy lesings aangebied en uit sy boeke voorgelees. In dieselfde jaar het hy die 48ste PEN-konferensie in New York bygewoon. Toe hy die Rapport-prys in 1986 in ontvangs geneem het, het hy Afrikaners gekonfronteer oor hul instandhouding van ’n polisiestaat. In 1987 was hy saam met dr. Frederik van Zyl Slabbert een van die organiseerders van die ontmoeting tussen die destyds verbode ANC en leidende Suid-Afrikaners in die Senegalese hoofstad Dakar. Hierdie ontmoeting het die weg vir soortgelyke ontmoetings gebaan en die klimaat geskep vir die demokratiese bestel binne Suid-Afrika. In 1989 het hy die veelbesproke Watervalberaad tussen prominente skrywers en die ANC bygewoon en by hierdie geleentheid het hy die slotreferaat in Engels oor Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer. Toe Breyten se pa se gesondheid verswak het, is ’n visum vir vier dae in Julie 1989 aan hom en Yolande toegestaan om Suid-Afrika te besoek. Breyten se pa is in Desember 1989 in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Daarna is visums vir drie dae aan Breyten en Yolande toegestaan om die roudiens op Grahamstad by te woon en vir ’n seremonie in Hermanus, waar sy pa se as by sy ma se graf gestrooi is.
In Mei 1990 is hy as direkteur van Taurus-uitgewers aangestel, met die hoofdoel om ondersoek in te stel na die moontlikheid om Afrika-letterkunde aan die Suid-Afrikaanse publiek bekend te stel. In dieselfde jaar was hy een van die stigters van die Gorée-instituut in Dakar, wat kulturele navorsing doen wat daarop gemik is om burgerlike bemagtiging in Afrika-samelewings te bewerkstellig.
Na 1990 het hy Suid-Afrika meer gereeld besoek nadat dit makliker geword het om toegang tot die land te verkry. Hy het gereeld lesings aangebied, onder meer in Augustus 1990 in Stellenbosch voor die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheidskring en in Oktober 1990 by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad op Langebaan aan die Kaapse Weskus. By die Demokratiese Alliansie se taalberaad van 1998 het hy saam met die destydse partyleier Tony Leon en Neville Alexander, die voorsitter van Pansat, opgetree. In 2001 het hy in kykNET se poësieprogram “Ja-Nee” opgetree, waarin hy met plaaslike letterkundiges, digters en skrywers oor digkuns gesels het. In Maart 2008 het hy aan ’n oop gesprek wat deur die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland gereël is, deelgeneem. Ook in die buiteland het hy verskeie kere in die openbaar opgetree en belangwekkende toesprake gelewer. In November 1993 het hy by Washington-Universiteit in St. Louis in die Amerikaanse staat Missouri dit duidelik gestel dat die komende demokrasie in Suid-Afrika slegs suksesvol sou wees indien die politici beperk word tot hul sleutelrol as dienaars van die samelewing om hul neiging tot uitbuiting van die samelewing teen te werk.
Hy is op 23 November 2024 in sy huis in Parys oorlede, met sy vrou Yolande by hom.
Daantjie Badenhorst