AFRIKAANS 100 – 1966 tot 1985
Hierdie artikel is die derde van vyf wat ’n oorsig gee van belangrike gebeure in die ontwikkeling van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis. Enkele hoogtepunte tussen 1966 en 1985 is die uitbreiding van die Afrikaanse letterkunde en musiek, die GRA-eeufees en die koms van die televisie.
1966: Onse Mimi ontvang internasionale toekennings
Mimi Coertse
In Januarie 1955 deputeer Mimi Coertse as die Eerste Blommemeisie in Richard Wagner se Parsifal by die Teatro San Carlo in die Italiaanse stad Napals. Die volgende jaar het sy die eerste keer by die Weense Staatsopera gesing toe sy die rol van die Koning van die Nag in Die Towerfluit van Mozart vertolk het. Coertse het vinnig in die Europese gehore se harte geklim en die bynaam “Unsere Mimi” (Ons Mimi) ontvang. In 1966 het die Oostenrykse regering die titel van Kammersängerin aan haar toegeken. In dieselfde jaar het die Oostenrykse Bondsministerie vir Wetenskap en Kuns die Österreichisches Ehrenkreuz (Oostenrykse erekruis) in die eerste klas aan haar toegeken. Dit is die hoogste eerbewys wat ’n kunstenaar in daardie land kan ontvang.
Lees gerus meer oor Mimi Coertse: https://afrikanergeskiedenis.co.za/mimi-coertse/
1967: Die sukses van Hoor My Lied
In 1967 maak die sanger Gé Korsten sy rolprentdebuut in die film Kruger Miljoene, waarin hy teenoor Min Shaw speel. Dit sou egter eers later in dieselfde jaar wees wat een van die mees suksesvolste Afrikaanse rolprente tot vandag toe vrygestel word. Gé het die hoofrol in die musiekblyspel Hoor My Lied vertolk. Dit was die eerste Afrikaanse film wat meer as R1 miljoen verdien het. Die klankbaan het liedjies soos “Die ABC” (saam met Lindie Roux) en “Die heidelied” (saam met Min Shaw) bevat. Van die plaat van hierdie klankbaan is meer as 130 000 kopieë verkoop. Gé het hiermee sy eerste goue plaat ontvang. Hierdie film is in die buiteland onder die titel Hear My Song uitgereik.
Lees gerus meer oor Gé Korsten: https://afrikanergeskiedenis.co.za/ge-korsten-1927-1999/
1968: Kinderboeke
Die sestigerjare was ’n tyd van vernuwing vir Afrikaanse kinderboeke. Onder aanvoering van Leon Rousseau verskyn Die mooiste Afrikaanse sprokies van Pieter W. Grobbelaar in 1968. Die eerste oplaag het uit 10 000 boeke bestaan en dit is drie keer herdruk – in 1984, 1993 en 2006. In hierdie bundel is die verhaal van Jakkals-en-Wolf, Hasie Kalbasie en Van Hunks. Die illustrasies is gedoen deur Katrine Harries, een van Suid-Afrika se beste illustreerders.
1969: Dirkie
In 1969 is die gevierde Afrikaanse filmvervaardiger en -regisseur Jamie Uys se film Dirkie vrygestel. Die rolprent handel oor ’n seuntjie se stryd om oorlewing in die woestyn nadat die vliegtuig waarin hy gereis het in die Kalahari neerstort. Uys het die idee daarvoor gekry tydens ’n vlug oor die Kalahari na Namibië. In dieselfde tyd was daar ’n berig van ’n seuntjie wat die enigste oorlewende was toe ’n klein vliegtuig neergestort het. Die hoofrol is vertolk deur Jamie Uys se eie seun, Wynand Uys. Die film is in die buiteland vertoon onder die titel Lost in the desert.
1970: Rondom eie werke en die dood van N.P. van Wyk Louw
Van September 1961 tot September 1962 het N.P. van Wyk Louw die poësie-program Verse en gedagte aangebied. Die praatjies het sowat ’n halfuur in beslag geneem. Die Transvaler het berig dat Louw “’n nuwe en dieper insig in Afrikaanse verse gegee het”. Louw se laaste praatjies was Rondom eie werke. Dit is tussen Februarie en April 1970 uitgesaai. Omdat hy so swak was, is dit in sy studeerkamer opgeneem. Weens die gewildheid daarvan het die SAUK die reeks as ’n plate-album uitgegee. Tafelberg-uitgewers het dit ook in boekformaat uitgegee. Op 18 Junie 1970 sterf N.P. van Wyk Louw. Hy word vandag steeds beskou as die grootste Afrikaanse digter en dramaturg.
Lees gerus meer oor NP van Wyk Louw: https://afrikanergeskiedenis.co.za/np-van-wyk-louw-1906-1970/
1971: Groep Twee en ware liefde
In 1971 neem Gert van Tonder en Sias Reinecke (bekend as Groep Twee) die liedjie “Daar’s niks soos ware liefde” op. Die treffer was ’n Duitse komposisie met Afrikaanse woorde. Die liedjie het ongekende sukses behaal en was agttien weke op die Top 20 treffersparade. Dit was ’n groter sukses as hul ouer treffer, “Die Oukraalliedjie”, wat in 1966 vir vyftien weke op Springbokradio se treffersparade was. In 2012 is die lied opgeneem in die FAK-Sangbundel Volume 2.
1972: Die POORT-skryfkompetisie die eerste keer aangebied
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat reeds in 1909 gestig is, het in 1972 die eerste POORT-skryfkompetisie aangebied. Hierdie skolekompetisie is daarop gerig om ontluikende skrywers en digters onder skoliere te slyp en aan te spoor. Sedert die eerste POORT-skryfkompetisie het duisende skoolleerders deelgeneem en is dit steeds vandag een van die mees gesogste literêre toekennings vir skoliere.
1973: NALN
Reeds in 1970 het die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) begin met uitstallings in die Ou Goewermentsgebou in Bloemfontein, asook ’n dokumentasiesentrum vir taal en lettere. In 1972 kondig die Administrateur van die Vrystaat, advokaat G.F. van L. Froneman, die vestiging van ’n Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) aan. Op 24 Maart 1973 is NALN amptelik deur meneer J.P. van der Spuy, die toenmalige minister van nasionale opvoeding, geopen.
NALN is die bewaarplek van letterkundige skatte. Die Museum beskik oor manuskripte, boeke, foto’s en persoonlike items van feitlik elke Afrikaanse skrywer. Die versameling bestaan uit sowat 84 000 titels (’n geskatte 100 000 eksemplare). Die Beeldetuin huisves vele borsbeelde van groot Afrikaanse skrywers soos C. Louis Leipoldt, A.G. Visser en C.J. Langenhoven.
Lees gerus meer oor NALN: https://afrikanergeskiedenis.co.za/nasionale-afrikaanse-letterkundige-museum-en-navorsingsentrum-bloemfontein/

Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
1974: Sonneblom Films
In 1974 stig die rolprentvervaardiger Katinka Heyns haar eie maatskappy Sonneblom Films. Deur hierdie onderneming word van die beroemdste Afrikaanse films vervaardig. Dit sluit in: Fiela se kind (1987), Die storie van Klara Viljee (1991), Paljas (1997) en Die Wonderwerker (2012). Paljas was die eerste Suid-Afrikaanse film wat vir ’n Academy Award (“Oscar”) genomineer is. Al die draaiboeke vir Katinka se rolprente is deur Chris Barnard, haar man, geskryf.
1975: GRA-eeufees
Die jaar 1975 was die eeufeesherdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875, sowel as die 50ste viering van Afrikaans as ’n amptelike taal. Tafelberg, Perskor, Human & Rousseau en J.L. van Schaik het in 1975 dertig boeke oor die taalbewegings gepubliseer, sommiges was heruitgawes of faksimilees van boeke wat deur die GRA-lede geskryf is. Die Huisgenoot het ’n Taalfees-album uitgegee wat deur Chris Barnard saamgestel is. Die huis van Gideon Malherbe, waarin in die GRA gestig is, is gerestoureer en op 14 Augustus 1975 as Taalmuseum geopen.
Die hoogtepunt van die feesjaar was die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op 10 Oktober. Die argitek was Jan van Wijk en sy ontwerp is geïnspireer deur uitsprake van C.J. Langenhoven en N.P. van Wyk Louw.
Lees gerus meer oor die Taalmonument: https://afrikanergeskiedenis.co.za/afrikaanse-taalmonument-paarl/
1976: Suid-Afrika kry televisie
Televisie in Suid-Afrika is op 5 Januarie 1976 geloods. Dit was later (nadat ander kanale bygekom het) bekend as TV1. In die volgende vyf jaar is hard gewerk om dienste in vyf ander inheemse tale op die been te bring. By TV1 is gestreef na die gelyke behandeling van Afrikaans en Engels. Op Maandag-, Woensdag- en Vrydagaande het die uitsendings aanvanklik om 18:00 in Engels begin en die nuus is ook daarin aangebied. Om 20:30 het Afrikaans oorgeneem en daarin uitgesaai tot omstreeks 23:00. Op Dinsdag-, Donderdag- en Saterdagaande het die uitsending om 18:00 in Afrikaans begin en om 20:30 is daar na Engels oorgeskakel.
Lees ook: https://afrikanergeskiedenis.co.za/1-desember-suid-afrika-kry-televisie/
1977: Kootjie Emmer

Skermgreep uit Kootjie Emmer
In 1977 word die Afrikaanse rolprent Kootjie Emmer vrygestel. Die rolprent is gebaseer op André P. Brink se boek, Oom Kootjie Emmer wat in 1973 uitgegee is. Die hoofrolle is vertolk deur Tobie Cronjé (as Kootjie Emmer), Siegfried Mynhardt (as Oom Sening van Wyk) en Trix Pienaar (as Koekie Rautenbach). Die verhaal handel oor ’n nagwadrywer wat groot verandering op die dorp Witgatworteldraai bring. Die regisseur van hierdie komedie is Koos Roets.
1978: Nuwe Psalm- en Gesangeboek
In 1978 het die nuwe Psalm- en Gesangeboek die lig gesien. Dit was die tweede amptelike gesangbundel in Afrikaans, naas die eerste een van 1944. In die nuwe gesangeboek is die Totius-beryming van die Psalms onaangeraak gelos. Nuwe gesange is egter bygevoeg soos “Kom dank nou almal God” (Gesang 5) en “Grote God aan U die eer” (Gesang 10). Ds. Attie van der Colf en dr. I.L. de Villiers was hoofsaaklik verantwoordelik vir die teks. Sommige gesange se bewoording is aangepas, soos “O die goeie tyding” (voorheen “O die vrolike o die salige”) en “Herders op die ope velde” (voorheen “Herders op Bethelems ope velde”). Die 1978-Gesangeboek was vir 23 jaar in gebruik voor dit in 2001 deur die Liedboek van die Kerk vervang is.
1979: Kinders van die wind
In 1979 het die Musiek-en-Liriekbeweging ’n omwenteling in Afrikaanse musiek veroorsaak. Die rolprentvervaardiger Katinka Heyns het besluit om Koos du Plessis se musiek te gebruik vir die televisiereeks Phoenix en Kie. Op die voorstel van aktrise Jana Cilliers is Laurika Rauch genader om die temalied “Kinders van die wind” te sing. Die lied is reeds in 1968 deur Koos du Plessis gekomponeer. Kort daarna stel Laurika Rauch ’n solus-sewe weergawe van die lied vry. Binne die eerste week van bekendstelling moes die plaat twee keer herdruk word. Skaars sewe weke later ontvang Laurika en Koos gou plate vir verkope van meer as 25 000. Koos du Plessis was die eerste Afrikaanse komponis wat ’n goue plaat ontvang het. Laurika se opname van “Kinders van die wind” het in September 1979 in die 17de plek tot Springbokradio se Top 20 toegetree en het 13 weke op die trefferslys gebly.
Die lied is in die FAK-Sangbundel Volume 2 opgeneem en is in 2013 as Maroela Media se Grootse Afrikaanse Liedjie aangewys.
1980: Debuutbundel van T.T. Cloete

T.T. Cloete
Reeds van jongs af skryf T.T. Cloete gedigte. Van sy gedigte verskyn in die Tydskrif vir Letterkunde en later in Standpunte. Hy gebruik egter sy oupa se naam as skuilnaam, T. Jansen van Rensburg. Eers op die ouderdom van 56 jaar verskyn sy debuutdigbundel, Angelliera, in 1980. Hiermee verwerf hy die Ingrid Jonker-prys en die W.A. Hofmeyr-prys in 1981 en is in dieselfde jaar op die kortlys vir die toekenning van die Louis Luyt-prys. In 1990 word hierdie bundel saam met Jukstaposisie met die Rapportryersprys bekroon.
Lees gerus meer oor T.T. Cloete: https://afrikanergeskiedenis.co.za/tt-cloete-1924-2015/
1981: David Kramer maak naam
David Kramer se eerste langspeelplaat, Bakgat!, verskyn reeds in 1981. Weens die sterk taal en politieke satire wat daarin voorkom, word dit deur die regering verbied. In 1981 verwerf hy bekendheid met die album Die verhaal van Blokkies Joubert. Die titelsnit “Blokkies Joubert” en “Royal Hotel” was beide op die treffersparade van verskeie Suid-Afrikaans radiostasies.
1982: Hennie Aucamp ontvang Hertzog-prys
In 1982 het die skrywer Hennie Aucamp die Hertzog-prys vir prosa ontvang vir sy gepubliseerde prosawerke tot op daardie datum: Een somermiddag, Die hartseerwals, Spitsuur, Karnaatjie, ’n Bruidsbed vir Tant Nonnie, Hongerblom, Wolwedans, Dooierus, Enkelvlug en Volmink. Aucamp het al sy oeuvres met die hand geskryf en nooit ’n tikmasjien of ’n rekenaar gebruik nie.
1983: Verskyning van nuwe Bybelvertaling
In 1983 het ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling verskyn, waarby ander brontekste as in 1933 bygewerk is. Dit het vinnig bekend gestaan as die “Nuwe Vertaling”. Die 1983-vertaling is ’n baken van Afrikaanse vertaalwetenskap met ’n dinamies-ekwivalente metode. Dinamies-ekwivalensie verwys na ’n groter balans tussen die brontaal en die doeltaal. Die poging was om ’n makliker verstaanbare vertaling ten doel te stel waarby moderne lesers kon aanklank vind. Weens geskille oor vertaalmetodes is die 1983-vertaling deur sommige kerkverbande verwerp.
1984: Kringe in ’n bos; internasionale treffer
In 1984 verskyn Daleen Matthee se Kringe in ’n bos. Hierdie roman is een van die grootste skatte in die Afrikaanse letterkunde. Die boek is die eerste in ’n reeks van Matthee wat in die Knysnawoud afspeel. Nadat André P. Brink die Afrikaanse manuskrip gelees het, beveel hy dit by sy Londense agent aan en Dalene Matthee vertaal die roman voor die publikasie daarvan reeds in Engels. Buite die Engelse regte word ook die Nederlandse, Portugese, Sweedse en Israelse regte verkoop voor publikasie van die boek in Afrikaans. Die roman het oornag ’n internasionale treffer geword. Sedertdien is die boek in veertien tale vertaal.
Lees gerus meer oor Dalene Matthee: https://afrikanergeskiedenis.co.za/dalene-matthee-1938-2005/
1985: Agter Elke Man
Op 5 September 1985 is die TV-reeks Agter Elke Man vir die eerste keer op TV1 uitgesaai. Na die tweede reeks in November 1988 geëindig het, is die program in 1990 met die rolprent Agter Elke Man opgevolg. Dit was juis in hierdie reeks wat die jong akteur Steve Hofmeyr beroemdheid verwerf het in sy rol as Bruce Beyers. Ander akteurs wat gespeel het in die reeks is Dulsie van den Berg (as tannie Stienie), Cyrilene Slabbert (as Leana), Kim de Beer (as Doreen) en Deon van Zyl (as Steve Anderson).