“DIE WONDER VAN AFRIKAANS” MET FEESTE GEVIER
Afrikaners was in die jare vyftig positief oor hul taal en sy prestasies. Die Burger (27 Junie 1955) het die Afrikaanse kulturele en ekonomiese lewe “die moderne wonder van Suid-Afrika” genoem. Engelssprekendes was pessimisties oor hul taal en party het – hoe ongelooflik dit ook mag klink – gemeen dit kan agteruitgaan en uitsterf. Dit het geen Afrikaner van betekenis geglo nie, hulle was eerder bekommerd oor wat vir hul eie taalgemeenskap voorlê. Daarvan getuig GD Scholtz se opsienbarende boek Het die Afrikaanse volk ’n toekoms?
Die “Wonder van Afrikaans”-feeste van 1959 het baie mense in die land aangegryp. Die Akademie het in 1959 vyftig jaar geword, en om dit te vier, het die FAK taalfeeste gereël wat van 6 April tot 30 Mei 1959 gevier is. Die eerste fees was op 6 April in Kaapstad en by die Van Riebeeckskool by Thomson’s Falls in Kenia. Van dié twee plekke af suid- en noordwaarts is feeste in byna elke dorp gehou. Skares van tot 8000 mense het op party plekke opgedaag. In Welkom, die nuwe stad wat in die Vrystaat verrys het, is ’n taalfeesmonument onthul. Op 29 Mei het die plakkate van die Rand Daily Mail gelui: “Vandag praat ons Afrikaans”. In ’n Afrikaanse berig onder aan sy voorblad het die koerant geskryf: “Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wêreld is ons ook Boere.” Die koerant se hoofartikel was in Afrikaans, met darem ’n Engelse vertaling onderaan. Die FAK het ná die feeste ’n rolprent oor Afrikaans, Doodkry is min (1961) bekend gestel, wat tot in 1978 deur twee miljoen mense gesien is.
Op 6 April het ’n bylae, Die wonder van Afrikaans, in Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig verskyn waaraan verskeie skrywers meegewerk het. MER het vertel waarom sy in Afrikaans begin skryf het, en NP van Wyk Louw het gewaarsku teen mense wat Afrikaans wil inperk tot die voorkamer, soos vroeër tot die kombuis. As dit deur sensuur beperk word tot die oppervlakte, en mense daarin nie ook die verborge dinge van die lewe kan leer ken nie, raak dit ‘n wonder van kortstondigheid. Ook Opperman het (in ’n Uniefees-bylae in 1960) gewaarsku: Afrikaners se verhouding met die verskillende groepe het versleg: “Die Afrikaner het gebou aan sy eie wêreld, het hom sterk gemaak en in dié proses die Engelsman, Kleurling en Bantoe van hom vervreem.”
Sowat 60 000 mense het die vierings op Saterdagaand 30 Mei 1959 in die Amfiteater van die Voortrekkermonument bygewoon. Drie Lugmag-vliegtuie het oor die terrein gedreun en in die naglug het die woorde Die Van Afrikaans gepryk. Die Wonder het weens ’n tegniese haakplek verdwyn. Die hoofspreker, dr. HF Verwoerd, het Afrikaans “die taal van ons wonderlike toekoms” genoem.
In ’n sobere radiorede “Laat ons nie roem nie” het Van Wyk Louw gesê ons kan die dinge wat Afrikaans bereik het, noem – “nie met grootspraak nie, maar ook nie sonder die beskeie trots waarop ons geregtig is nie.” Maar profeteer sou vermetel wees: “Oor wat ons taal sál word, of oor wat ván hom sal word, kan ons dus nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange.”