INTELLEKTUELE EN POPULÊRE TYDSKRIFTE EN KOERANTE

‘nNuwe intellektuele tydskrif, Standpunte, het in Desember 1945 die eerste keer verskyn. Die broers NP van Wyk Louw en WEG Louw het hulle lank vir so ’n blad beywer. Hulle was die oprigters en saam met die kritikus en digter HA Mulder die eerste redaksie. In 1946 het die Nederlandse digter en kritikus Jan Greshoff bygekom. Greshoff het hom in 1939 in Suid-Afrika gevestig, was in die oorlog ’n paar jaar in Amerika maar het in 1945 teruggekeer. Louw het in die eerste hoofartikel geskryf dat Standpunte die vrye geestelike en intellektuele lewe wil dien. “Ons doel is nie om ’n standpunt te propageer nie, maar om die vrye bespreking van die grondslae van hierdie aktiwiteite in Suid-Afrika moontlik te maak.” Die redaksielede, het soms verskil, maar Standpunte het die toonaangewende Afrikaanse intellektuele tydskrif gebly totdat dit in 1986 gestaak is.

Natuur- en geesteswetenskaplike artikels het darem sedert 1922 verskyn in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, opgerig en lank geredigeer deur DF Malherbe, en vanaf 1925 “offisiële orgaan” van die Akademie. Die Nuwe Brandwag (1929–1934), hoofsaaklik vir letterkunde en visuele kunste, is in 1935 gevolg deur Ons Eie Boek onder FEJ Malherbe van Stellenbosch. Dit het nuwe boeke in Afrikaans en ander tale bespreek.

Die jare 40 het die eerste Afrikaanse Sondagblad gebring. In 1946 het ’n mynmaatskappy Strathmore Die Werkman se Weekblad, ’n blaadjie van die Arbeidersparty, oorgeneem en omskep tot ’n Sondagblad Die Weekblad. Dit is weer opgeneem in ’n nuwe Sondagblad Dagbreek waarvan die eerste nommer op 29 Junie 1947 verskyn het. Die uitgewer was Dagbreekpers met Marius Jooste as besturende direkteur. Die volgende Sondag het ook die eerste nommer van Sondagnuus van die Afrikaanse Pers-Boekhandel die lig gesien. Dagbreekpers het die APB genader om saam te werk en APB het sy Sondagblad teen £10 000 aan Dagbreekpers verkoop. Van Desember 1947 af was Dagbreek en Sondagnuus die Afrikaanse Sondagblad. Twee tydskrifte Fleur en Die Ruiter is daarin opgeneem. Willem van Heerden het redakteur gebly tot 1962. Hy het hom van die 1930’s af (toe was hy redakteur van Die Vaderland) – beywer vir ’n verandering van wit mense se gesindheid teenoor bruin en swart mense. Die blad was ’n groot sukses.

APB het in 1946 ’n slag geslaan toe hy die nuwe vroueblad Rooi Rose in die hande gekry het. Dit is opgerig deur die populêre skrywer Mark Preston (skuilnaam van Hendrik Potgieter). Hy het dit ná een nommer verkoop aan twee APB-manne, Marius Jooste en AM van Schoor, redakteur van Die Brandwag, in hul persoonlike hoedanigheid. Van Schoor moes een keer per maand Kroonstad toe ry waar Rooi Rose verskyn het. Dit was ’n sukses en APB het die blad in 1946 oorgeneem. ’n Ander vroueblad, Die Huisvrou (gestig 1922), het in 1944 ’n nuwe redakteur gekry (tot 1954) wat groot bekendheid as skrywer sou verwerf: Audrey Blignault. En in 1949 het Naspers met ’n vrouetydskrif, Sarie Marais, begin onder Fred le Roux, toneelkenner en tegniese redakteur van Standpunte.

In 1943 het ook die eerste deel verskyn van die Afrikaanse Kinderensiklopedie. Dit was een van die mees ambisieuse uitgewersprojekte wat tot dan aangepak is (deur Naspers). Die redakteur was dr. CF Albertyn, redakteur van Die Jongspan. NP van Wyk Louw was redakteur en vernaamste skrywer van die afdeling “Kunsskatte van die wêreld”.