1 JUNIE

GEBEURE

1824 – Biljet met beskuldiging van onnatuurlike verhouding

’n Biljet is op 1 Junie 1824 in die Heerengracht in Kaapstad opgeplak met die beskuldiging dat die goewerneur Lord Charles Somerset ’n onnatuurlike verhouding het met die militêre dokter, James Barry, wat ook sy gesin se persoonlike arts was. Somerset was ’n 57-jarige wewenaar met ses kinders en Barry was 35. Die inwoners het nie geweet dat Barry ’n vrou was wat haar as ’n man voorgedoen het om dokter te word nie – dit het eers ná haar dood aan die lig gekom. Barry is dikwels in die geselskap van Somerset gesien waar hulle na die bekende Round House in Vlaggemanskloof (Kloofnek) op pad was vir jagtogte. Somerset is in 1831 in Engeland oorlede en Barry in 1865.

1836 – Charles Darwin kom in Kaapstad aan

1874 – Amptelike stigting van die Vrystaatse dorp Hoopstad

1891 – Die Adendorff-trek na Banjailand (suidelike Rhodesië) begin

Die sogenaamde Adendorff-trek na Banjailand (suidelike Rhodesië) sou op die dag begin het. Die trek was ’n uitvloeisel van kontak op godsdienstige terrein en die jagveld tussen Transvaalse Boere en die Sjonas noord van die Limpoporivier. Reeds in 1880 is Transvalers uitgenooi om die Banjais teen die aggressiewe Matebeles te beskerm. Eers Augustus 1890 is ’n grondkonsessie onderteken, terwyl Rhodes se British South African Company Masjonaland beset het. ’n Trek na Banjailand is vir 1 Junie 1891 gepropageer. Aangesien ’n besetting van Banjailand Masjonaland van die suide sou afsny, het Rhodes diplomatieke kragte teen die ZAR ingespan, alle Limpoporivier-deurgange bewaak en Britse soldate na Botswana verskuif. Pres. Paul Kruger, wat Britse steun vir ’n Swaziland-oorname begeer het, het ’n amptelike verbod teen die trek uitgevaardig. Op 24 Junie het 110 trekkers tog by Florisdrif (naby Messina) opgedaag, waar dr. LS Jameson hulle namens die BSAC toegang tot Rhodesië geweier het. Amptelike besware is deur die trekkers ingedien en, in samewerking met die Kaapse Afrikanerbond, ’n geregtelike ondersoek na die wedersydse grondaansprake van die trekkers en Rhodes aangevra. Britse voorwaardes vir so ’n ondersoek het neergekom op trekkerkapitulasie, al sou hulle aansprake die enigste geldige wees. Die gebeurtenis was die eerste groot Afrikaner- nasionale saamtrekking teen Rhodes se imperialisme. Afrikaners sou ook voortaan slegs tot Rhodesië toegelaat word as hulle uitdruklik die Britse gesag sou aanvaar.

1903 – Grobbelaar-Versekeringsmaatskappy (Edms) Beperk gestig

EJ Grobbelaar-Versekeringsmaatskappy (begrafnisversekering) is die oudste Afrikaanse versekeringsmaatskappy en word beskou as die beginpunt van die huidige Rentmeester groep wat met sy uitgebreide belange portefeulje vandag gevestig is as ‘n bekende Afrikaanse sake-onderneming.

1931 – Suid-Afrika vier Kultuurdag

Nasionale feesdae is geleenthede wanneer die Suid-Afrikaanse volk by herhaling besondere gebeurtenisse in sy verlede herdenk. Die waarde van sulke geleenthede lê daarin opgesluit dat dit hernieude nasietrots en nasiebewustheid laat ontbrand. As volksorganisasie is dit dus vanselfsprekend dat die FAK ’n indringende rol in hierdie verband speel. Die geesdrif wat die Eerste Taal- en Kultuurkongres op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gekenmerk het, het die eerste ampsdraers van die FAK daarvan oortuig om die besieling wat daarvan uitgegaan het, aan die volk oor te dra. Die behoefte was dat elke Afrikaner op praktiese wyse die geleentheid gegun moet word om aktief aan die kultuurstryd deel te neem en sy geringe bydrae te lewer tot die vestiging van Afrikanertrots. Die Uitvoerende Komitee van die FAK het onderneem om praktiese uitvoering aan hierdie ideaal te gee. By monde van die FAK-voorsitter, dr. NJ van der Merwe, is in ’n landwye radiorede die volk opgeroep om deel te neem aan die viering van Kultuurdag op 1 Junie 1931. Geesdriftig is aan hierdie versoek gehoor gegee, en in groot getalle het die Afrikanervolk op hierdie dag deelgeneem aan die feesvieringe en opnuut besieling daaruit geput.

1994 – Suid-Afrika word weer lid van die Statebond ná 33 jaar se afwesigheid

2001 – Standbeeld stort in duie

Die standbeeld van die voormalige SA premier JG Strijdom (Hans) op Strijdomplein, Pretoria, stort in duie.

 

GEBOORTES

1878 – Charles Frederik Mijnhardt, predikant († 1944)

1886 – Daisy de Melcker, moordenares wat haar twee mans en seun vergiftig het († 1932)

 

STERFTES

1773 – Wolraad Woltemade, held van die Kaap die Goeie Hoop (* 1708)

Wolraad Woltemade, wat in 1708 in Hesse-Schaumberg gebore is, is ’n simbool van die heldegees in ons geskiedenis. Toe Die Jonge Thomas op hierdie dag by Soutrivier in Tafelbaai strand, het Woltemade met sy perd sewe maal deur die reuse golwe gery en elke maal twee van die opvarendes gered. Die agste maal het hy en sy uitgeputte perd verdrink. Wolraad Woltemade is mettertyd op verskeie wyses vereer. ’n Skip van die VOC is onder meer Die Held Woltemade genoem, verskeie voorstellings van die heldedaad is deur bekende kunstenaars gedoen, ’n monument is vir hom opgerig, ’n voorstedelike stasie is na hom genoem en die hoogste dekorasie vir dapperheid binne en buite Suid-Afrika aan ’n burgerlike is na hom genoem. Die medalje het die ou “SA King’s medal for bravery” vervang.

1879 – Napoléon Eugène Louis Bonaparte, seun van Napoleon III sterf in die Anglo-Zoeloe-oorlog (* 1856)

1940 – Jan Francois Elias (FE) Celliers, skrywer, dramaturg, digter en taalstryder (* 12 Januarie 1865)

Johannes Francois Elias Celliers was ‘n bekende Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy is op hierdie dag in 1865 gebore. Hy lê sy Landmetereksamen in Nederland af maar word later ’n amptenaar in die onderwysdepartement van die ZAR en in 1894 staatsbibliotekaris in Pretoria. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die kommando’s aan, en in 1902 vertrek hy na Europa waar hy sy beroemde gedig “Die Vlakte” skryf. In 1907 keer hy na Suid-Afrika terug en werk by die Departement van Binnelandse Sake in Transvaal. In 1909 word hy ’n buitengewone professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch aangebied. Baie van sy verse weerspieël sy huislike geaardheid en sy liefde vir kinders. Behalwe sy digterlike arbeid werk hy ook mee tot die stigting van Die Brandwag. Hy was ’n volksdigter, “een wat in woorde vaslê wat in die hart van die nasie omgaan”. Hy vestig hom na sy aftrede aanvanklik in Kaapstad maar later op Harrismith waar hy op 1 Junie 1940 oorlede is.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook