N.J. VAN DER MERWE (1888-1940)

Dr. N.J. van der Merwe was ’n predikant in die NG Kerk, Afrikaanse kultuurleier en eerste hoofleier van Die Voortrekkers.

Nicolaas Johannes van der Merwe is op 17 Februarie 1888 in Bloemfontein gebore en het kleintyd die konsentrasiekamp by Norvalspont oorleef. Hy het sy aanvanklike skoolopleiding op Senekal in die Vrystaat ontvang en daarna op Fauresmith. Hy het sy BA-graad aan die Grey-Universiteitskollege verwerf waarna hy sy teologiese studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voltooi het. As studenteleier het hy ’n belangrike rol gespeel om Maties van hul taal bewus te maak. Hy was ook voorsitter en in 1914, reisende sekretaris van die Christen-studentevereniging.

Hy is in 1913 tot die evangeliebediening toegelaat en het die gemeente Port Elizabeth tydelik bedien. Vanaf 1915 tot 1919 was hy vier en ’n half jaar lank predikant op die Vrystaatse dorp Wepener. Hy was ’n lid van die Vrystaatse Sinodale Kommissie en van die Federale Raad van Kerken, ’n voorloper van die Algemene Sinode. Reeds met die eerste sinodesitting in 1916 het hy voorgestel dat die Bybel in Afrikaans vertaal word en predikante het die reg gekry om in Afrikaans te preek. Hy was lank werksaam as een van die Bybelvertalers. Hy was voorsitter van die Vrystaatse Helpmekaar en lid van die hoofbestuur van die Nasionale Party. Hy was ook ’n lid van die Raad van die Grey-Universiteitskollege en ’n direkteur van Nasionale Pers.

In 1921 het hy sy doktorsgraad aan die Vrije Universiteit in Amsterdam met ’n proefskrif in Afrikaans verwerf en van 1921 tot 1924 was hy predikant op die Vrystaatse dorp Theunissen. Van 1924 tot met sy dood was hy parlementslid van die kiesafdeling Winburg. Hy is onbestrede in 1924 verkies. Hy was ook die eerste voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK); hy het hierdie posisie tot met sy dood beklee. Toe die Voortrekkerbeweging op 30 September 1931 gestig is, is hy tot eerste nasionale hoofleier verkies.

Hy is in 1916 met Tibbie Steyn, die tweede jongste dogter van pres. M.T. Steyn van die Oranje-Vrystaat, getroud. Hul dogter was getroud met ds. Kosie Stofberg en die voormalige Springbokflank Theuns Stofberg, wat in 2023 oorlede is, was sy kleinseun.

Dr. Van der Merwe is op 11 Augustus 1940 in die ouderdom van 52 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst