1 OKTOBER
GEBEURE
1655 – Vrye ondernemerskap
Jan van Riebeeck ontvang ’n brief van die Here XVII dat amptenare vrygestel mag word om vrye ondernemerskap te beoefen.
1686 – Kermis
Simon van der Stel, goewerneur aan die Kaap, stel op hierdie dag die gebruik in dat van die 1ste Oktober tot die14de Oktober jaarliks kermis gehou sal word aan die Kaap. Hierdie kermis was vervolgens jaarliks op Stellenbosch gehou. Burgers kon tydens die kermis ook na goeddunke handel dryf met skepe. Die hoogtepunt van die kermis was die papegaaiskiet. Daardeur het Van der Stel die vuurwapenkultuur in Suid-Afrika help vestig. Verskillende dele van die houtpapegaai het verskillende punte, asook kontantpryse verteenwoordig.
Die beste skut het die benaming “koning van die skuts” gedra. Interessant genoeg was ’n kompetisie ook aangebied vir berede skuts, waar die ruiter te perd en uit die saal op ’n teiken moes skiet. Kruit en ander benodigdhede was gratis deur die Kompanjie verskaf. Die kermis het ’n hoogtepunt bereik op Van der Stel se verjaarsdag, die 14de Oktober. Die kermis was afgesluit met ’n enorme vleisbraai waar almal welkom was. Die laaste kermis is in 1705 aangebied.
1829 – Die Suid-Afrikaanse Kollege, voorloper van die UK en SACS, in Kaapstad gestig
1897 – Dorpsraad van Johannesburg word gestig
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Dejagersdrif, Bloedrivier, Krugerspos en Pan, Tvl.
1914 – Afrikanerrebellie
Manie Maritz herhaal dat hy eerder uit die Unieverdedigingsmag sal bedank as om ’n inval in Duitswes-Afrika te onderneem.
1937 – Die Transvaler verskyn
Op hierdie dag het die eerste uitgawe van Die Transvaler in sy eie gebou in Hoekstraat 18, Johannesburg, verskyn. Die stigting van die maatskappy Voortrekkerpers op 23 April 1936 en die koerant was ’n nuwe onderneming met die doel om ’n spreekbuis vir die Nasionale Afrikaners en meer bepaald vir die Nasionale Party van Transvaal te verskaf. Die politieke samesmelting van 1934 het die voortgesette Nasionale Party van Transvaal baie verswak, en dit moes feitlik van nuuts af herbou word. Daarvoor was ’n dagblad nodig. ’n Stigtingsvergadering is op 30 September 1935 onder voorsitterskap van sen. WA Hofmeyr op Stellenbosch gehou. ’n Afvaardiging het mnr. Pieter Neethling van Stellenbosch genader, en hy het die eerste R10 000 gegee om in aandele belê te word. Openbare oproepe om bydraes is gedoen deur dr. DF Malan en adv. JG Strijdom, wat landwyd deur Nasionaliste ondersteun is, maar nie baie geld ingebring het nie omdat getalle en vermoëns beperk was. Die koerant is met ’n skuldlas maar in die geloof begin en het deur die jare ’n groot bydrae tot die politieke en kulturele vordering van die Afrikaner gelewer.
1997 – Suid-Afrikaanse Inkomstediens
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word in die lewe geroep met die inwerkingtreding van die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Wet 34 van 1997).
GEBOORTES
1908 – Dr. Albert Jan Jurie (Albert) Wessels, yweraar en stigter van Toyota Suid-Afrika († 22 Julie 1991)
Albert Jan Jurie Wessels is ’n baanbreker onder die Afrikaners wat groot sukses in die sakewêreld behaal het. Sy grootste prestasie as sakeman het aan hom ’n eredoktersgraad deur die UOVS in 1968 besorg. Hy het ook die Frans du Toit-toekenning vir bedryfsleiding van die SA Akademie ontvang. Hy is op die plaas Annaspan, in die distrik Boshof, gebore. Hy matrikuleer op Boshof en behaal die graad BA met Tale en Sielkunde aan die UOVS. Hierna slaan hy ’n handelsrigting in en verwerf die graad BCom in 1934 met onderskeiding. Hy aanvaar ’n betrekking by ’n beleggingsbank, word hoof van ’n korrespondensiekollege en in Julie 1942 besturende direkteur van ’n klerefabriek. Hy stig ’n finansiële instelling en ook ’n motormaatskappy, wat ontwikkel tot die derde grootste motormonteernywerheid in die Republiek. Uit sy pen het onder meer Moffie en sy maats (1938) en Tog sterker (1941) verskyn.
1910 – Prof. dr. Petrus Johannes (PJ) Nienaber, skrywer en letterkundige († 24 Mei 1995)
Petrus Johannes Nienaber is in die distrik Fauresmith gebore. Sy bydraes lê wyd … versamelaar van twee volledige stelle Afrikaanse boeke, eredoktor, professor, ereprofessor, voorsitter van die SA Akademie, stigter en kurator van die RGN se Dokumentasiesentrum, stigter en direkteur van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum Musiek en Toneel (NALN), skrywer en samesteller van meer as 500 boeke en duisende artikels. As redakteur van die FAK se Handhaaf-en-Boureeks in die dertiger- en veertigerjare, het hy ’n belangrike bydrae tot die vestiging van die Afrikaanse vaktaal gelewer met die verskyning onder meer van die lyste Motorterme, Kookterme, Krieketterme, Skyfskietterme en Skoenmakersterme. Maar bowenal sal hy onthou word as die man wat sy lewe daaraan gewy het om die kosbaarhede van die Afrikaanse letterkunde te red, die waarde daarvan te laat deurdring en dit vir die toekoms te bewaar. Binne ses jaar van 1970 was hy verantwoordelik vir die oprigting van twee onontbeerlike bewaarplekke. Onderwyl hy hoogleraar in ou Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand was, is hy na die RGN gesekondeer waar hy die omvangryke Dokumentasiesentrum vir Taal en Letterkunde gevestig het. Hierna het hy die grootse NALN in Bloemfontein begin terwyl hy nog kurator van die Dokumentasiesentrum was. In die jaar 1979 is twee spesiale toekennings aan hom gedoen, een deur die FAK vir sy volgehoue bevordering van Afrikaans en die ander deur die Federasie van Rapportryerskorpse vir die sistematisering en bewaring van Afrikaanse letterkundige werke.
STERFTES
2008 – Audrey Blignault, skrywer (* 6 Julie 1916)
Audrey Blignault was ’n skrywer en joernalis wat veral bekend is vir haar sketse, essays en kortverhale. In die 1940’s was sy die aanbieder van die destydse Vrouerubriek-radioprogram en sy hert die leeskring-kultuur in Suid-Afrika gevestig. In 1961 is sy met die Eugène Marais-prys bekroon, en in 1965 met die WA Hofmeyr-prys vir Met ligter tred. Sy het die ATKV se Prestigetoekenning in 2000 ontvang vir haar uitstaande bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek en literatuur.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.