SIMON VAN DER STEL (1639-1712)
BUITENGEWOON BEKWAME EN ENERGIEKE GOEWERNEUR
Die regime van Simon van der Stel was ’n roemryke tydperk in die bestuur van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap. Sy onmiddellike voorgangers het die Kaap slegs as ’n tydelike verblyfplek beskou, maar hy was van die begin af vas van plan om hom hier blywend te vestig. Hierdie man sou dan ook ’n groter invloed op die toekoms van ons vaderland uitoefen as enige bevelvoerder voor hom.
Simon is in 1639 op Mauritius, waar sy vader Adriaan kommandeur was, gebore. Op jeugdige leeftyd is hy na Holland gestuur om sy opvoeding daar te ontvang. Toe hy vyftien jaar oud was, tree hy in diens van die N.O.I.K., en na ’n aantal jare is hy getroud met Johanna Jacoba Six, ’n dame van aansien en afkomstig uit ’n ryk en invloedryke familie in Amsterdam. Hierdie huwelik het vir Simon, wat maar ’n karige salaris ontvang het, baie beteken.
Op veertigjarige leeftyd word hy as kommandeur van die Kaap aangestel. Hoewel hy sy vrou baie liefgehad het, wou sy hom nie hierheen vergesel nie, en hulle het mekaar nooit weer gesien nie. Sy vier oudste seuns het egter saam met hulle Vader in die Vrije Zee die lang reis onderneem. Twee van hulle, Willem Adriaan en Frans, sou mettertyd ’n onsterflike berugtheid onder die Kaapse Koloniste verwerf. Die jongste seun en sy suster het by hulle moeder in Holland gebly.
Die nuwe kommandeur was kort van gestalte, met donker gelaatstrekke, goedgeaard, geestig, beleefd en bedeel met ’n groot mate van gesonde verstand. Verder was hy baie gasvry, opgevoed en verfynd. Daarby het hy ’n vurige liefde vir sy vaderland gekoester en hy het hom ten doel gestel om van die Kaap ’n “Klein Nederland” te maak. Gedurende die laaste jare van sy lewe het hy ’n buitensporige liefde vir rykdom ontwikkel.
Simon van der Stel was werklik ’n man van buitengewone bekwaamheid en energie, en hy het baie tot stand gebring. Sy bewind, van 1679 tot 1699, was die gulde periode in die bestuur van die N.O.I.K. aan die Kaap – daar was groei en ontwikkeling op elke gebied.
Met groot ywer het hy te werk gegaan om die volksplanting te verfraai en die grense uit te brei. Tereg word hy genoem “Simon die Boomplanter”. Hy het verskeie ontdekkingstogte georganiseer, en in 1685 self ’n reis na die Koperberge onderneem. Hierdie reis was veral van belang om die geografiese kennis wat ingesamel is.
Omdat sy grootste doel en politiek was om die verversingspos in ’n ware Kolonie te ontwikkel, ’n egte Kolonie met ’n hardwerkende landboubevolking, het hy ook na hartelus gekoloniseer. Hy het verbeter, gewysig, gebou. So ontstaan Stellenbosch en Drakenstein as landboukolonies.
By alles wat plaasgevind het was hy direk of indirek betrokke. ’n Nuwe hospitaal vir skipbreukelinge is opgerig, die landbou is bevorder, die invoer van stamboekvee en die wynindustrie het ook sy besondere aandag geniet. Aandag is gewy aan die opvoeding, en kerke is gestig. Belangrike verbeterings is ook in die plaaslike bestuur aangebring. Die besoek van die Heer van Mydrecht, die aankoms van die Franse vlugtelinge in 1688, die stranding van die Stavenisse, en die aankoop van Natal is almal gebeurtenisse wat met Simon se regime in verband staan. Belangrik is ook die datum van 14 Desember 1690, toe hy die Goewerneurstitel gekry het. Hy het, na ’n twintigjarige regeringstyd, in 1699 afgetree.
Simon van der Stel is oorlede op sy plaas “Constantia”, en sy stoflike oorskot is onder die plavei-vloer van die kerk in Kaapstad begrawe. “Saam met Jan van Riebeeck was hy een van die grootste verteenwoordigers van Jan Kompanjie, en hy neem ’n ereplek in onder die groot manne van Suid-Afrika.”
Simon die Boomplanter
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Soos voorgestel deur Jack Bligh in Geskiedkundige Rolprent, S.A.S.