10 MAART
GEBEURE
1648 – Jan van Riebeeck se eerste besoek
Jan van Riebeeck se heel eerste besoek aan die Kaap duur van 10 tot 18 Maart 1648 toe hy lid was van die bemanning van ’n skip wat die oorlewende bemanning van die Haarlem kom haal het.
1892 – Spoorlyn tussen Kaapkolonie en die Oranje Vrystaat geopen
1900 – Anglo-Boereoorlog: De Villebois-Mareuil aangestel as veggeneraal
Kolonel De Villebois-Mareuil word deur kmdt-genl. Joubert aangestel as Veggeneraal van die buitelandse magte.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Abrahamskraal/Driefontein, OVS
Generaal De la Rey is in bevel, en kom te staan teen genl. French aan Britse kant. Genl. French kom by Abrahamskraal aan en loop hom vas teen akkurate en konstante Mauser-vuur. Genl. French stuur sy ruiters om die Driefonteinkoppies te beset, dog genl. De la Rey is wakker en stuur versterkings.
Dit kan in kort gestel word dat genl. De la Rey die dag uitgehou het, maar dat die Britse oormag eenvoudig te groot was. Republikeinse magte het nadat die son gesak het, onttrek na Bloemfontein.
Aan Britse kant het 60 soldate gesneuwel, en 361 man is gewond. Aan die Republikeinse kant het 30 Burgers gesneuwel, en is 47 gewond, en 20 gevang.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bethulie-brug
1901 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes vrygelaat
Al die krygsgevangenes word uit die tronk op Aberdeen vrygelaat. Dit volg nadat ’n aantal Kaapse rebelle die dorp beset het.
1903 – Danie Theron herbegrawe
Danie Theron, baasverkenner, is op die plaas Eikenhof, by Kliprivier, langs sy geliefde Hannie Neethling herbegrawe.
1905 – Kaapse parlement geopen
Sir Walter Heley-Hutchinson open die Kaapse parlement. Hy beloof amnestie aan al die Kaapse Rebelle van die Anglo-Boereoorlog.
1914 – Koopmans-De Wet-huis museum open sy deure
Die Koopmans-De Wet-huis in Strandstraat, Kaapstad, Wes-Kaap, is as ’n museum van oudhede geopen. Inhoud van die Koopmans De Wet-huismuseum se waarde kan nie maklik in geldwaarde bereken word nie. Etlike unieke en onvervangbare Africana-stukke is in die huis te sien.
1933 – Solovlug se suksesvolle landing
’n Jong Suid-Afrikaanse vlieënier, die 19-jarige Victor Smith, het op 10 Maart 1933 in ’n DH Moth een van die eerste noodlandings in Suid-Afrika gedoen toe hy op pad van Kaapstad af na Croyden in Engeland, op die Knersvlakte naby Vanrhynsdorp moes land. Hy was die seun van ’n skoenvervaardiger in die Kaap en wou die rekord van kaptein CE Barnard breek, wat saam met die hertogin van Bedford in nege dae tussen Engeland en die Kaap gevlieg het. Smith het dié rekord misgeloop, net soos talle ander wat sou volg. Met sy aankoms in Londen het hy sy Moth vir ’n Comper Swift geruil om terug te vlieg, maar moes in die Sahara land weens enjinprobleme. Ná ’n staptog van 80 km het hy ’n ander vliegtuig gekry, maar dié een se brandstof het kort duskant Kaapstad opgeraak. Uiteindelik moes Smith in sy loopbaan 21 noodlandings uitvoer, sonder enige ernstige beserings Hy het ’n boek oor sy ondervindings geskryf, Open cockpit over Africa.
1960 – Milnerton-vuurtoring in gebruik geneem
Die Milnerton-vuurtoring is ’n vuurtoring aan die Atlantiese Oseaan op die noordoostelike punt van Tafelbaai in die Kaapstadse voorstad Milnerton. Die 21 meter hoë silindriese betontoring is wit geverf. Dit is op 10 Maart 1960 in gebruik geneem. Die kort stukkie kus tussen Groenpunt en Milnerton het meer skepe geëis as enige ander deel van Suid-Afrika se kuslyn: meer as 150 skepe het hier vergaan.
GEBOORTES
1850 – Christoffel Coetzee de Villiers, vader van die Suid-Afrikaanse genealogie († 4 September 1887)
Met reg word Christoffel Coetzee de Villiers nie alleen die vader nie, maar ook die prins van die Suid-Afrikaanse genealogie genoem. Hy het feitlik alleen die geslagsregisters opgestel van byna alle Suid-Afrikaanse stamouers wat voor 1880 na die Kaap gekom het. Dis ’n prestasie wat uniek is in die genealogiese wêreld. Om hierdie groot taak te verrig, het hy die doop- en trouregisters van die agt oudste gemeentes in ons land van 1665 tot 1810 deurgewerk en die inskrywings onder die betrokke familiename geïndekseer. Aangesien die registers van sommige gemeentes, soos Paarl en Stellenbosch, onvolledig was, het hy die leemtes probeer aanvul deur navorsing in die staatsargief en weesheerkantoor. Ongelukkig is hy jonk oorlede, op 4 September 1887 voor sy 38ste verjaarsdag, toe sy groot taak nog nie voltooi was nie. Die Kaapse parlement het toe ’n som geld beskikbaar gestel vir die voltooiing van die werk deur G McCall Theal en WJ Vlok. In 1893 is die eerste deel van die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën gepubliseer, gevolg deur dele twee en drie in 1894. Hierdie registers is in 1966 deur Balkema herdruk en staan bekend as die De Villiers/Pama-herdruk.
1898 – Attie van Heerden, Olimpiese atleet en rugbyspeler († 14 Oktober 1965)
1931 – Raymond Ackerman, sakeman († 6 September 2023)
STERFTES
1887 – Jan Gerritze Bantjes, onderwyser en sekretaris aan die voorlopige Voortrekker-administrasie en aan kmdt.-genl. Andries Pretorius (* 8 Julie 1817)
Jan Gerritze Bantjes was ’n Voortrekker. Hy sluit hom op Nuwejaarsdag 1837 aan by die Voortrekkerlaer op Thaba Nchu en vergesel Andries Pretorius die volgende jaar op sy Wenkommando en hou die joernaal van die ekspedisie. In 1839 vestig hy hom op Pietermaritzburg as prokureur, maar keer in 1840 terug na die Kaapkolonie. In 1848 tree hy op as onderwyser en “Klerk van den Kerkraad” op Fauresmith. Hy word in 1865 onderwyser op Potchefstroom waar hy in 1887 sterf.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook