RAYMOND ACKERMAN (1931-2023)

Raymond Ackerman, wat onder meer bekendheid verwerf het as stigter van die winkelgroep Pick n Pay, is op 6 September 2023 in die ouderdom van 92 jaar oorlede.

Hy is op 10 Maart 1931 in Kaapstad gebore en nadat hy in 1948 aan die Diocesan College in Kaapstad gematrikuleer het, het hy sy BCom- graad in Rekeningkunde aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Hy het in 1951, toe hy net twintig jaar oud was, as leerlingbestuurder by die Greatermans-groep in die Ackermans-afdeling aangesluit. Sy pa, Gus Ackerman, het Ackermans net na die Eerste Wêreldoorlog gestig maar dit in 1940 aan die Greatermans-groep verkoop.

Ackerman is ’n betrekking by Greatermans se hoofkantoor in Johannesburg aangebied. In die 1950’s het supermarkte vir die eerste keer op die toneel verskyn en Norman Herber, die voorsitter van Greatermans het Checkers gestig, Ackerman was in beheer van Checkers en het ’n groot sukses daarvan gemaak.

In 1965 was Ackerman saam met die gholfspeler Gary Player die wenner van die Uitstaande Jong Suid-Afrikaner-toekenning. In 1966, toe hy 35 jaar oud was, was hy die besturende direkteur van 85 Checkers-winkels, maar hy is in dieselfde jaar afgedank. In reaksie daarop het hy, met behulp van sy skeidingspakket en ’n banklening, vier winkels in Kaapstad gekoop en onder die naam Pick n Pay handel begin dryf. Hy het R620 000, wat destyds ’n enorme bedrag was, betaal. Die vorige eienaar, Jack Goldin, het Clicks die volgende jaar gestig. Sedertdien het Pick n Pay een van die grootste winkelgroepe geword en in 1975 was dié groep die eerste een wat ’n hipermark geopen het. Hy moes onmiddellik teenstand deur onder meer Slazenger en Black & Decker verduur, omdat hulle nie wou gehad het dat hul produkte teen die afslagpryse wat Ackerman moontlik gemaak het deur dit in grootmaat aan te koop, wou laat verkoop nie. Intussen het Pick n Pay Clothing en Pick n Pay Liquor ontstaan en groot sukses in hul onderskeie segmente behaal. Daar is onder andere meer as 120 supermarkte en veertien hipermarkte in die groep. In Oktober 2009 het sy seun Gareth sy pligte oorgeneem en op 1 Maart 2010 het hy die voorsitter geword.

In 1986 het die Rhodes-universiteit in Grahamstad ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken, en in 2001 het hy ’n eredoktorsgraad in handel aan die Universiteit van Kaapstad ontvang. In November 2004 was hy die enigste Suid-Afrikaner wat Financial Times se lys van die 100 grootste sakeleiers gehaal het.

Hy was ’n kampvegter vir verbruikersregte en het met Anton Rupert en met die regering oor onderskeidelik goedkoper sigarette en brood onderhandel. Sy poging om die regering so ver te kry om brandstofpryse te dereguleer, was egter nie geslaagd nie. Daarby was hy ’n ondersteuner van die Rooikruis-kinderhospitaal; ’n verbintenis wat terugdateer na 1956 toe sy pa medeverantwoordelik was vir die befondsing wat tot die stigting van die hospitaal gelei het. Nog ’n mislukte poging waarby hy betrokke was, was die bod om die Olimpiese Spele in 2004 in Kaapstad aan te bied. Hy was sterk gekant teen apartheid en het swart winkelbestuurders aangestel. In ’n onderhoud met die radiostasie Cape Talk het Ackerman vertel van ’n ontmoeting wat hy met oudpresident PW Botha gehad het nadat die destydse regering die prys van brood met 35% verhoog het. Botha het Ackerman aan die keel gegryp en hom rondgeruk en gesê: “Daar is belangriker dinge wat aandag verdien as die prys van brood.” Ackerman het hom geantwoord: “Hou jou hande van my af; ek betaal julle belasting.” Hy het probeer om brandstof teen afslagpryse aan verbruikers te verkoop, en die regering het hom met inhegtenisneming gedreig as hy dit sou doen. Nadat Botha in 1985 sy Rubicon-toespraak gelewer het, was sakeondernemings in blanke besit die slagoffers van boikotte wat met geweld gepaard gegaan het. Ackerman het die sake-inisiatief in 1986 gestig en die onmiddellike en onvoorwaardelike vrylating van Nelson Mandela geëis. Daarby het hy geëis dat die regering met die ANC oor Suid-Afrika se toekoms moes onderhandel. In die 1970’s en 1980’s het hy mense gehelp om hul supermarktrollies te stoot en hul kruideniersware in hul motors te laai. In ’n onderhoud met The South African het hy vertel van die tyd toe hy ’n vrou tot by Vishoek gevolg het om vas te stel hoekom haar motor vol Checkers-inkopiesakke was. Sy het vertel dat Pick n Pay tien jaar tevore nie hul beleid van terugbetaling sonder om vrae te vra, eerbiedig het nie en dat sy geweier het om weer by Pick n Pay te koop. Nogtans het die winkelgroep se aandag aan klantesorg gemaak dat Pick n Pay ’n reus in Suid-Afrika en ander Afrika-lande geword het. Hy het egter ook ’n paar foute gemaak. Hy kon nie die Australiese mark verower nie en hy het die geleentheid om OK Bazaars en Checkers te koop, deur sy vingers laat glip. Hy het erken dat hy nie genoeg aandag aan internasionale neigings gegee het nie. Nadat oudpresident FW de Klerk in 1989 ingehuldig is, het Ackerman hom by Pick n Pay se hoofkantoor in Kaapstad ontmoet. Weer eens het hy Mandela se onmiddellike vrylating bepleit, en daarna het hy en Mandela ’n goeie verhouding gehad.

Hy het sy lewensverhaal aan Denise Pritchard vertel, met die gevolg dat twee boeke, Hearing grasshoppers jump en The four legs of the table, uitgereik is. Hy het self ’n boek, Raymond: A spat to catch a mackerel: Key principles to build your business, vrygestel.

Hy word oorleef deur sy vrou Wendy, en sy vier kinders, Suzanne, Kathryn, Gareth en Jonathan.

deur Daantjie Badenhorst