11 APRIL
GEBEURE
1902 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Roodewal
Nadat genl. JH de la Rey reeds na Klerksdorp vertrek het om aan die voorlopige vredesonderhandeling deel te neem, het genl. JCG Kemp, wat hy in bevel gelaat het, besluit om die Britse kamp by Roodewal aan die Brakrivier aan te val, veral om die doelgerigte Britse pogings om De la Rey se magte in Wes-Transvaal vas te trek, ’n knou toe te dien. Met sowat 2600 burgers, verdeel onder genls. Liebenberg en Celliers en kmdt. Potgieter, is die sowat 11 000 Britse troepe op heldhaftige wyse bestorm. In die vroeë oggendure het die Engelse aanvanklik die stormloop vir ’n deel van hul eie magte aangesien. In werklikheid was dit kmdt. FJ Potgieter, die dapper en onverskrokke aanvoerder, se 800 man wat met doodsveragting op hul afgestorm het. Sommige het tot sowat 70 treë van die Britse bajonette gevorder en 50 gesneuweldes, onder wie Potgieter, en 30 swaar gewondes agtergelaat. Vanweë die geweldige oormag, moes Kemp die aanval op die uitgestrekte Britse linies afgelas en self sy magte in twee verdeel om die Britse teenaanval en agtervolging te ontkom. Daarmee was die laaste groot slag van die Anglo-Boereoorlog afgeloop en die verliese wat die Boere gely het, het gewis ook ’n neerdrukkende uitwerking op die gedagte van die voortsetting van die oorlog by die vredesonderhandelinge gehad.
1914 – Hoërskool Ermelo kom tot stand
2001 – Die Ellispark-stadion-ramp vind plaas en 42 mense sterf
GEBOORTES
1916 – Willem Petrus van der Berg, romanskrywer en hoof van die Afrikaanse diens van die SAUK († 19 Junie 1952)
Hy was een van Afrikaans se begaafste en veelsydigste prosaïste. Tog het hy weinig amptelike erkenning ontvang vir die magdom werk van hoë gehalte wat hy binne ’n skrale ses jaar onder die moeilikste omstandighede gelewer het. Sy eerste roman, Reisigers na nêrens (1946), is ’n hoogtepunt in die Afrikaanse romankuns. Dit was nie net ons eerste belangrike moderne stadsroman nie, maar ook waarskynlik die beginpunt van die vernuwing in ons prosa. Met sy bundels soos Solitêrspel by kerslig (1949) en Die asvaal ou Karoo (1951) het hy ook ’n nuwe dimensie aan die Afrikaanse kortverhaal en essay verleen. Daarbenewens het hy tientalle ontspanningsverhale onder verskeie skuilname geskryf. In sy beroep het hy ook snelle vordering getoon. Toe hy op 34 weens swak gesondheid moet uittree, was hy al uniale hoof van die SAUK se Afrikaanse programme. Op jeugdige ouderdom van 36 is hy na swaar lyding op 19 Junie 1952 oorlede.
STERFTES
1838 – Petrus Lafras (Piet) Uys, Voortrekkerleier (* 10 Julie 1797)
Piet Uys, Voortrekkerheld, is op 10 Julie 1797 op Potteberg, Swellendam, gebore. In September 1834 is hy die leier van ’n geselskap van twintig wat as gesante van die inwoners van Albanië en Uitenhage die moontlikheid om na Natal te emigreer, ondersoek. Hulle het tot aan die Tugelarivier gereis en in Maart 1835 met ’n gunstige rapport teruggekeer. Hierna het die Sesde Grensoorlog uitgebreek, waarna Uys en ander Trekkers onder leiding van sy vader, Jacobus Uys, uit die Kaapkolonie emigreer. Saam met Andries Hendrik Potgieter en Gerhardus Marthinus Maritz, trek Piet Uys in November 1837 te velde teen die Matebele in Transvaal en behaal ’n groot oorwinning. In Februarie 1838 word die Natalse Trekleier, Pieter Retief, vermoor deur Zoeloes, wat daarna op die treklaers toeslaan. Leierloos nader hierdie mense Uys en Potgieter om hulp. Hulle trek op teen die Zoeloes, maar Uys en sy mense word by Italeni in ’n lokval gelei, waar Piet, sy dapper seun Dirkie, en agt ander mans sneuwel.
1838 – Dirkie Uys, seun van die Voortrekkerleier Piet Uys (* 3 Maart 1823)
Dirk Cornelis Uys, wat op 3 Maart 1823 op Pollenberg gebore is, was die tweede oudste seun van die Voortrekkerleier Piet Uys. Toe hy oorlede is, was hy 15 jaar oud. Na die moord op Retief en sy mense en die Zoeloe-aanval op die Voortrekkers tien, elf dae later, het die Voortrekkers besluit om Dingaan te gaan straf en hulle beeste terug te vat. Op 7 April 1838 het ’n perdekommando onder twee kommandante, Piet Uys en Hendrik Potgieter, uitgetrek. Dirkie het saamgegaan. Die elfde het hulle in die omgewing van die Italaberg by Italeni met die Zoeloe-impi slaags geraak. Uys se afdeling het die Zoeloes wat teen die hange van die berg was, aangeval. Hulle het spoedig die Zoeloes uitmekaar gedryf en hulle toe in groepies agtervolg. In die proses is sommige van Uys se mense afgesny en deur Zoeloes omsingel. Piet en Dirkie het juis sulke mense gaan help toe ’n assegaai Piet getref en hom swaar gewond het. Die wond het baie gebloei, maar hy het darem op sy perd aangesukkel. Hy het ’n paar keer flou geword. Toe hy nie verder kon nie, het hy die mense wat by hom was, aangeraai om vir hulle veiligheid te vlug. Almal het weggejaag, behalwe die jongeling Dirkie Uys wat omgedraai het aangesien hy nie kon toesien dat sy vader met assegaaie deurboor word nie. Dirkie het by sy vader gebly en hom verdedig. Nadat Dirkie drie krygers doodgeskiet het, is hy by sy vader se lyk oorval en deur ’n assegaai getref.
1981 – Stephen Eyssen, komponis, sanger en redakteur van die eerste FAK-Sangbundel (* 23 Mei 1890)
Stephen Harry Eyssen was komponis, sanger, onderwysman, redaksielid van die eerste FAK-Volksangbundel en 20 jaar lank lid van die FAK se Musiekkommissie. Reeds as student in Stellenbosch het die ideaal by hom posgevat om diensbaar te wees aan die musiek en kultuurlewe van sy volk. In 1914 het hy sy bekendste werk Segelied geskep, omdat hy as gesogte sanger met ’n mooi baritonstem, nie ’n Afrikaanse lied van gehalte kon vind om te sing nie. In 1920 het hy ’n studentegroep op ’n konsertreis deur die land gelei, wat die eerste keer ’n volledige program in Afrikaans aangebied het. As skoolhoof op Heidelberg het hy in die dertigerjare ’n leidende rol in die musieklewe van Johannesburg, Pretoria en Heidelberg gespeel, dikwels uitgesaai en ook van die eerste plate van Afrikaanse kunsliedere gemaak. Sy Bybelkantate is in 1943 geskryf ter inhuldiging van die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek, en die koorwerk Ons Boerwording wat in die interneringskamp gekomponeer is, is in 1949 by die inwyding van die Voortrekkermonument uitgevoer.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.