PIETER LAFRAS UYS (1797-1838)
Piet Uys was ’n Voortrekker wat ’n leiersrol tydens die Groot Trek vertolk het.
Petrus Lafras Uys is op 10 Julie 1797 op Potteberg in die distrik van Swellendam gebore. Sy pa se sterk godsdienstige oortuigings het aan hom die bynaam Koos Bybel besorg. Die gesin het later na Uitenhage vertrek waar Koos verskeie sakeondernemings bedryf het. Hulle het ook naby die huidige Humansdorp geboer.
Op agtienjarige ouderdom is Piet met sy niggie Alida getroud, en drie kinders is uit die huwelik gebore. Hy het as leier na vore getree toe hy onder Britse gesag aan die Vierde en Vyfde Grensoorloë deelgeneem het. In 1834 het hy ’n verkenningstog met die oog op ’n moontlike landsverlating Natal toe gelei. Sy trek daarheen is egter deur die Sesde Grensoorlog vertraag.
Daar word soms beweer dat die Voortrekkers veeboere was wat reeds voor die Groot Trek semi-nomadiese lewens gelei het en boonop nie goed ontwikkeld was nie. Dit kon beslis nie van Uys gesê word nie, want Uys het mense soos Sir Benjamin d’Urban, goewerneur van die Kaap na wie Durban vernoem is en ’n latere goewerneur, sir Harry Smith, as persoonlike vriende gehad.
Voordat die Sesde Grensoorlog in 1835 uitgebreek het, het Uys op ’n verkenningstog Natal toe vertrek. Toe hy Natal die eerste keer gesien het, word daar vertel, het hy gedink dat net die paradys mooier was. Die geselskap het Port Natal (later Durban) besoek en met die Zoeloekoning Dingaan begin onderhandel. Dingaan het hulle vriendelik ontvang maar die idee dat grond permanent verkoop word, het nie in die Afrika-tradisie bestaan nie. Verblyfreg teen vergoeding, wat Dingaan dalk in gedagte gehad het, was egter moontlik, en Uys het vertrek om die goeie nuus in die Kaapkolonie mee te deel. Een van Uys se seuns het egter agtergebly, maar hy het só verlang dat Dingaan hom vrygelaat het. Hy moes deur twee soldate vergesel word totdat hulle die geselskap ingehaal het.
Dit het langer geduur om na Natal terug te keer aangesien die Uyse eers aan die Sesde Grensoorlog deelgeneem het en kopers vir hul plase moes vind. Teen 1837 het die Uys-trek, met omtrent 100 mense uit Uitenhage vertrek. Hul goeie verhouding met die Britse Setlaars wat sedert 1820 aan die Oos-Kaap gewoon het, is bevestig toe hulle ’n Bybel tydens ’n seremonie aan Uys oorhandig het. Koos Bybel, Piet se pa, was eintlik aan die hoof van die Uys-trek. Hy was egter teen die tyd van die trek al bejaard, terwyl Piet ’n dinamiese persoonlikheid gehad het en in praktyk die leier was. Soos verskeie ander Trekleiers het Uys sy naam as aanvoerder van die Grensoorloë aan die Kaapse Oosgrens gemaak. Hy kon ook nie verstaan dat die Britse regering telkens die maatreëls wat volgens die grensboere noodsaaklik was om rus en vrede te handhaaf, teruggetrek het nie. Toe Uys hom in 1837 by die Voortrekkers aangesluit het, was hy ontnugter omdat hulle reeds ’n grondwet opgestel het en leiers gekies het nog voordat hy daar was. As gevolg van sy verkenningstogte het hy sekerlik gevoel dat hy die voortou moes neem, veral met onderhandelinge met Dingaan. Gevolglik het hy geweier om die verkose leiers te erken en daarop aangedring dat ’n grondwet, gebaseer op dié van die Verenigde State van Amerika, geskryf moes word. Die ander leiers het hulle hoegenaamd nie aan Uys se protes gesteur nie.
Teen hierdie agtergrond het Uys besluit om Andries Hendrik Potgieter, die ander trekleier wat nie tot ’n leiersposisie verkies is nie, na die land oorkant die Vaalrivier te vergesel. Potgieter het geglo dat die trek in daardie rigting moes gaan, maar dat die mag van die Matabele sonder Silkaats se mag eers gebreek moes word. Potgieter het saam met Gerrit Maritz reeds in ’n vorige veldtog oorwinnings oor die Matabeles behaal maar die Matabeles was steeds ’n bedreiging op die Hoëveld van die latere Transvaal en die Vrystaat. Uys het saam met Potgieter op ’n suksesvolle veldtog vertrek, waartydens Silkaats se mag gebreek is. Die hele stam het hulle noord van die Limpoporivier in die huidige Zimbabwe hervestig. Met die terugkeer na die gekombineerde Voortrekkergeselskap het hulle dit verlate gevind, want die trek het reeds na Natal vertrek. Potgieter het besluit om in die Vrystaat agter te bly maar Uys het na Natal vertrek. Hy het egter onwelkom gevoel dat hy na Potgieter teruggekeer het, maar steeds gemeen dat hy die trek Natal toe moes lei.
Nadat Dingaan die goewerneur van die Voortrekkers, Piet Retief, laat vermoor en ander Trekkers aangeval het, het Potgieter en Uys na Natal vertrek om ’n strafekspedisie uit te voer. Die een was egter nie bereid om die aanval op Dingaan onder die ander een se leierskap aan te pak nie. Daar is toe besluit dat elkeen aan die hoof van sy eie manne, maar in een kommando, sou trek. Die feit dat daar uit die staanspoor meningsverskille was, het nie ’n besonder suksesvolle veldtog voorspel nie. Hierdie strafekspedisie is met ’n perdekommando aangepak; dit was ook die geval met die suksesvolle ekspedisie teen Dingaan. Omdat Zoeloeland meer bos- en bergagtig was, kon die Zoeloes se voetsoldate makliker beweeg en die perderuiters in ’n lokval lei.
Dit is presies wat by Italeni gebeur het. Toe hulle moes besluit of hulle sou aanval of nie, het die twee leiers teenoorgestelde standpunte ingeneem; Uys wou aanval maar Potgieter nie. As Potgieter te bang was, het Uys gesê, sou Uys die Zoeloes met sy eie manne aanval. Potgieter het halfhartig aan die aanval deelgeneem.
Op 11 April het die kommando in twee groepe die 8 000 Zoeloes wat teen die heuwels stelling ingeneem het, aangeval en ’n Zoeloe-assegaai het Uys se rug tussen sy blaaie binnegedring nadat die Zoeloes hulle omsingel het. Dit was duidelik dat Uys sou sterf, maar hy het enige hulp van sy manne van die hand gewys omdat hy bang was dat hulle gewond of gedood sou word. Uys se vyftienjarige seun Dirkie het sy pa probeer verdedig, maar hulle albei is op die rug van Uys se perd dood. Uys was net veertig jaar oud.
deur Daantjie Badenhorst
Foto: Jackie Grobler-versameling