11 FEBRUARIE

GEBEURE

1699 – Vryburgers en WA van der Stel

Wilhelm Adriaan van der Stel kom in die Kaap aan om by sy vader as goewerneur oor te neem. Sy bewind was gekenmerk deur korrupsie deur die amptenare en botsings met die Vryburgers, soveel so dat Henning Hüising en drie ander Vryburgers deur hom na Nederland verban is. Toe WA van der Stel sy vader opgevolg het, was die Kaapkolonie deur ernstige oorproduksie van landbouprodukte bedreig, aangesien die mark beperk was. Die goewerneur en sy amptenary het op so ’n groot skaal geboer dat hulle alleen aan die behoeftes van die mark kon voorsien. Daarbenewens was hulle as gevolg van hulle amptelike posisie by magte om die mark te monopoliseer.

Omdat die Vryburgers vir hulle voortbestaan as boere gevrees het, het Henning Hüising ’n klagskrif opgestel wat deur 63 Vryburgers onderteken is en dit aan die Here XVII in Nederland en die Raad van Batavia gestuur. Toe WA van der Stel van hierdie klagstaat verneem het, het hy vir Hüising, Adam Tas en van die ander leiers in die Kasteel opgesluit en van hulle later na Nederland verban. Van der Stel het ook ’n getuigskrif van homself, waarin sy eie voorbeeldige gedrag geprys word, na Nederland gestuur.

Die Here XVII het ná die ontvangs van die klagskrif Van der Stel en sy belangrikste amptenare beveel om na Nederland terug te keer en alle ander amptenare verbied om grond te besit of handel te dryf. Die Vryburgers het dus ’n groot oorwinning behaal en Hüising en die ander bannelinge kon na die Kaap terugkeer, terwyl WA van der Stel verbied is om Nederland te verlaat.

1837 – Groot Trek: Eerste families by Drakensberg af

Hierdie was ’n belangrike dag gedurende die Groot Trek gewees. Dit was immers op hierdie dag dat die eerste Voortrekkerfamilies teen die Drakensberg afgetrek het tot in Natal. Hierdie gebeurtenis word as volg deur eerwaarde Erasmus Smit in sy dagboek verwoord: “In de morgen om 8 ure spanden we de ossen voor de 23 wagens, om de zeer hoge Drakensberg af te rijden. Na zeer veel moeite, meer dan 20 remhoogten (sommige net 2 ketenen aan een voor- en aan een achterwiel der wagens geremd), kwamen wij met 18 wagens, tegen zonsondegang, in de laagte aan de voet van die grote Drakensberg; alwaar wij bij water en zeer goed gras uitspanden. We hadden, Gode zij dank! weinig ongelukken.” Slegs die kakebeenwa van W Prinsloo het die dag omgeslaan, en het ’n pragtige stel stoele in die slag gebly.

1859 – Stigting van die Gereformeerde Kerk op Rustenburg

Oral in die Westerse wêreld het die liberalisme en modernisme na die Franse Revolusie kerklik-godsdienstige spanninge meegebring. Vanuit die Renaissance en Griekse filosofie het die idee van die outonome mens wat met sy rede of belewing die hoogste gesag uitoefen, die absolute gesag van die Bybel, die Gereformeerde Belydenis en kerkinrigting verwerp. Aan die Kaap plaas De Mist (1804) en die eerste Sinode (1824) die kerkgesag in die hande van die kerkvergadering. Die nuwe lewensgevoel wat op die mens toegespits is, het naas die Psalms ’n Gesangbundel met vrye liedere in 1806 in Nederland ingevoer. Na die Engelse oorname verplig die filantrope met Ordonnansie 50 van 1828 sosiale integrasie. In die geïsoleerde binneland het die Afrikaanse mense daagliks vir God se gesag in die Bybel, sy leiding in die natuur en hulle lewes, die Heidelbergse Kategismus en gereformeerde preekboeke uit die 17de en 18de eeu gebruik. Teen 1833 kom die eerste verset teen nuwighede in die gemeente Cradock na vore. Vanaf 1834 trek sommige van die beswaardes na die binneland. Ander weier om Gesange te sing. Hulle word veroordeel en implisiet die Nagmaal onwaardig verklaar. Op Colesberg is individue hieroor onder sensuur geplaas. JJ Venter, visepresident van die OVS, bedank as lidmaat van die NG Kerk en gee al sy besittings as waarborg vir die onderhoud van ’n eie predikant. ’n Blanko-beroepsbrief na Nederland het geen gevolg nie. In Transvaal erken die Uitvoerende Raad teen 1858 al ’n afsonderlike gemeente binne die Hervormde Staatskerk op Rustenburg. Kragtens die grondwet, moes die kerkvergadering op 11 Januarie 1859 bepaal of sy oortuigings met dié van die Sinode van Dordrecht 1618/19 ooreenkom. Die vergadering het egter verder gegaan en ook die sing van Gesange verpligtend gemaak, terwyl ds. D Postma dit aan die vryheid van die predikante wou oorlaat. As gevolg daarvan het meer as 300 mense, onder wie leiers soos Paul Kruger, hulle op 11 Februarie 1859 as lidmate van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek op Rustenburg laat inskryf. Ds. D Postma het hulle beroep aanvaar. JJ Venter was teenwoordig en het Postma na die OVS geneem om ook daar ’n kerk te stig. Eers die volgende jaar het Postma toegegee en in die Kaapkolonie drie gemeentes gestig. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het die leer, liturgie en kerkregering van die Dordtse Sinode van 1618/19 as grondslag aanvaar.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Opmars na Bloemfontein

’n Groot Britse aanval begin met ’n opmars om die Boere se linkerflank. Die voorhoede van lord Roberts se krygsmag trek die oggend vroeg die Vrystaat binne. Hul eerste oogmerk was om Kimberley te ontset en om genl. Piet Cronjé se kommando te omvleuel en van die Boererepublieke af te sny.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Wolwekraal, OVS

1901 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes op Bermuda

Boerekrygsgevangenes op Bermuda weier om toegespreek te word deur sogenaamde “Vrede-afgevaardigdes”. Hierdie afgevaardigdes het onder meer ingesluit genl. Piet de Wet, JW Wessels (die latere sir John Wessels) en CL Botha. Die hele eiland se krygsgevangenes word daarna hul konfytrantsoen ontneem.

 

GEBOORTES

1887 – Johannes van Melle, Nederlandsgebore Afrikaanse skrywer († 8 November 1953)

Johannes van Melle is in Goes, Nederland, gebore en was onderwyser, digter en romanskrywer. Van sy bekendste werke is Bart Nel, Verspeelde lente, Dawid Booysen, En ek is nog hy en Gedichten uit Zuid-Afrika. Uit sy verteltrant en die insigte wat sy karakters verwerf, blyk dit dat Van Melle ’n milde, positiewe en duidelike Christelike perspektief op die mens en die wêreld het. Hy is op 8 November 1953 in Johannesburg oorlede.

1889 – Daniël Johannes (Danie) Smal, bekende voordragkunstenaar, akteur en skrywer († 13 September 1976)

Daniël Johannes Smal is op Petrusville in Noord-Kaapland gebore. Na hy hom as onderwyser bekwaam het, het hy hom op die voordragkuns toegelê en landwyd, asook in Nederland en Vlaandere duisende eenmankonserte gehou om die skoonheid en kennis van die Afrikaanse taal en letterkunde uit te dra. Sy voordragkuns het ook gestrek tot belangstelling in die Afrikaanse toneelkuns en hy was die stukrag agter die Afrikaanse kultuurvereniging en Toneelskool in Pretoria.

 

STERFTES

 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/