JOHANNES VAN MELLE (1887-1953)

Johannes van Melle was ’n Nederlandse en Suid-Afrikaanse skrywer.

Hy is op 11 Februarie 1887 in die Nederlandse dorp Goes gebore en het in 1906 na Suid-Afrika gekom waar hy in die distrikte Wakkerstroom en Bronkhorstspruit skoolgehou het. Hy het in 1909 teruggegaan maar hom in 1913 permanent in Suid-Afrika gevestig.

Gedurende die Rebellie van 1914 het hy hom by die rebelle geskaar. Hy het aanvanklik in Nederlands geskryf en sy eerste publikasie, Gedichten uit Zuid-Afrika, is in 1920 gepubliseer. Daarna het hy hom op prosa toegelê en sy eerste Nederlandse prosa het in Het Hollands Weekblad verskyn. Hierdie werk is later gebundel en in 1933 met die titel Het stadje op’t groen eiland gepubliseer. In 1924 het hy hom in Johannesburg as onderwyser gevestig en sy eerste Afrikaanse roman, Dawid Booysen, is in 1933 gepubliseer.

Sy fyn, objektiewe waarneming van die mens met al sy gebreke maar ook sy egtheid en idealisme was in hierdie roman, asook sy latere werk, opvallend. Sy bekendste roman, Bart Nel, het vir die eerste keer in 1936 onder die titel Bart Nel, die opstandeling verskyn. Dit vertel die verhaal van ’n boer wie se ontembare gees hom in staat gestel het om die verwoesting en verlies van sy plaas tydens die oorlog te oorleef, terwyl sy vrou en familie hom verlaat het. Hoewel die roman in Nederlands geskryf is, is die dialoog in Afrikaans. In 1942 het hy die boek in Afrikaans verwerk, waarna dit onder die titel En ek is nog hy vrygestel is. Dit is weer onder die titel Bart Nel herdruk.

Een lente verspeeld, wat in 1949 vir die eerste keer in Nederlands vrygestel is, is in 1961 in Afrikaans onder die titel Verspeelde lente uitgereik. Die SAUK het Bart Nel en Verspeelde lente in onderskeidelik 1980 en 1982 as televisiereekse verfilm en uitgesaai; in laasgenoemde reeks het Elize Cawood onsterflike roem vir haar vertolking as Pop le Roux verwerf. Sy derde roman, Saad wat opkom, is in 1949 uitgereik. Hy was ook bekend vir sy verdienstelike kortverhale wat vanaf 1924 in Suid-Afrikaanse tydskrifte verskyn het.

Hy is op 8 Mei 1953 in die ouderdom van 66 jaar in Johannesburg oorlede.

deur Daantjie Badenhorst