11 MAART
GEBEURE
1825 – Somerset-Oos gestig
1857 – Republiek van Lydenburg stig af van ZAR
Die Republiek van Lydenburg het op 11 Maart 1857 afgestig van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) en deel geword van die Republiek van Utrecht (Natal) totdat albei Boererepublieke drie jaar later weer by die ZAR aangesluit het. Lydenburg is in 1849 deur ’n groep Voortrekkers onder leiding van Andries Potgieter gestig nadat hulle uit Ohrigstad getrek het weens malaria. Lydenburg het in belangrikheid toegeneem omdat dit op die ossewaroete na Delagoabaai (Maputo) was. Nadat daar in 1871 met die bou van ’n pad na die see begin is, het die eerste waens in 1874 op Lydenburg aangekom. Goud is dieselfde jaar ontdek en die Lydenburgse goudvelde is geproklameer. Dit is met die Eerste Vryheidsoorlog in 1880 deur ’n Britse garnisoen beleër toe die dorp in Britse hande geval het. Die spoorlyn het Lydenburg in 1910 bereik en die dorp het 17 jaar later ’n munisipaliteit geword. Lydenburg staan sedert 2006 as Mashishing bekend.
1894 – Skip strand
’n Noorweegse skip, die Seagull strand met ’n vrag koffie by die Bakke, Mosselbaai. Daar was geen lewensverlies nie.
1900 – Majoor-generaal EY Bravant beset Aliwal-Noord
Republikeinse magte het reeds gate in die brug oor die Oranjerivier se pilare gekap, dog was te laat om die dinamietkerse te laai. ’n Kort skermutseling was die gevolg van bogenoemde aksie; vyf Britse soldate het gesneuwel, en nog 17 ander is gewond. Aan die Republikeinse kant was slegs vyf man gewond.
1910 – Ontwikkeling van die Taalbond
Die pogings wat gedurende die eerste dekade van hierdie eeu aangewend is om Afrikaans te handhaaf en verder uit te bou, word duidelik weerspieël in die jaarverslag van die Taalbond se sekretaris wat gepubliseer is in De Zuid-Afrikaan van 11 Maart 1910. In die jaarverslag is besondere hulde gebring aan die nagedagtenis van JH Hofmeyr wat gedurende sy lewe van groot betekenis van die Taalbond was. Om dit in permanente herinnering te roep, is besluit om ’n bydrae tot die “Hofmeyr Gedenkteken Fonds” te maak, terwyl die vier eerste pryse van die vier Taalbondeksamens mettertyd ook as die Onze Jan Taalbondpryse bekend sou staan. Dit is opvallend hoe die groeiende taalgevoel onder Afrikaners ook uitgekristalliseer het in groter deelname in die aktiwiteit van die Taalbond. In 1908 het 3300 kandidate ingeskryf vir die Taalbondeksamens – in 1909 het dit tot 4000 gestyg. Gedurende die voorafgaande sewe jaar het die getal kandidate byna verviervoudig – ’n teken van die lewenskragtigheid van die Tweede Taalbeweging. Hierdie groei en lewenskragtigheid het verder ook tot uiting gekom in die stigting van die ZA Akademie. Die Taalbond was verheug oor die totstandkoming van die Akademie en was bereid om met die Akademie saam te werk – selfs daarin op te gaan as dit nodig was. Ten einde handhawing van die taalregte van die Afrikaner te bestendig en uit te brei, is die aandag ook toegespits op die onderwys. Die Opvoedings-Gazette is aan Afrikaners gestuur, terwyl geskikte persone benoem is “om voor die belangen van onze taal op onderwijsgebied op te treden” in die regeringsopvoedingskommissie wat kort tevore aangestel is.
GEBOORTES
1835 – Johannes Hermanus Michiel (Jan) Kock, Boeregeneraal († 31 Oktober 1899)
Generaal Johannes Hermanus Michiel (Jan) Kock in die Graaff-Reinet-distrik gebore. Hy veg as jong seun saam met sy pa by Swartkoppies (1845) en Boomplaas (1848). Hy neem ook deel aan die Eerste Vryheidsoorlog waar hy homself onderskei. Tydens die Anglo-Boereoorlog val hy Natal oor Bothaspas binne. Hy ontvang opdrag om die spoorlyn tussen Dundee en Ladysmith, asook die Bigarsbergpas te beset. Hy voer egter nie bogenoemde opdragte uit nie, en beset die stasie by Elandslaagte. Generaal sir George White dien die Republikeinse magte daar ’n gevoelige slag toe. Generaal Kock is daar ernstig gewond en is 10 dae later daar oorlede.
1843 – Casparus Petrus (CP) Hoogenhout, taalstryder en een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners († 13 Januarie 1922)
Casper Peter Hoogenhout is in Amsterdam, Holland, gebore en op 13 Januarie 1922 naby Wellington oorlede. In 1860 het hy in Kaapstad aan wal gestap. Onder leiding van dr. Arnold Pannevis bekwaam hy hom as onderwyser, en meer as 40 jaar lank hou hy skool op Groenberg naby Wellington. Hy was van die begin van die Afrikaanse Beweging ’n sterk voorstander en voorvegter vir Afrikaans; op 14 Augustus 1875 was hy een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy was een van die belangrikste Afrikaanse prosaskrywer voor 1900. Die tweede Afrikaanse prosaboek is deur hom geskrywe: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huisouwens (1873), en die eerste Afrikaanse novelle: Catharina, die Dogter van die Advokaat (1879). Van al die digters vóór 1900 het hy die meeste gedigte in Afrikaans geskrywe, en sommige van hulle is juweeltjies van volkskuns.
1919 – Elise Muller, skrywer en uitgewer († 5 November 1985)
Elizabeth (Elise) Muller was ’n Afrikaanse skrywer. Haar broer was ds. Gys Muller. Haar liefde vir skryf het ’n onverwagse hupstoot gekry toe sy siek geword het tydens haar eerste jaar aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar eerste boek was Ek, ’n Samaritaanse vrou in 1941 en daarmee wen sy prysgeld van £100. Sy werk later as deel van die redaksie van NG Kerkuitgewers. Sy sien die werk as ’n roeping van God. Daarna was sy die hoof van redaksie, ’n pos wat sy 22 jaar lank beklee het. Sy wen ook die Hertzogprys vir prosa in 1957 met Die vrou op die skuit.
STERFTES
1827 – Jan Christoffel Berrangé, Kaapse predikant en eerste moderator van die Nederduits Gereformeerde Sinode (* 13 Augustus 1769)
1926 – Nicolaas Pieter Johannes (Siener) van Rensburg, toekomsvoorspeller (* 30 Augustus 1862)
Nicolaas Pieter Johannes (Niklaas of Siener) Janse van Rensburg was ’n Boer in die Zuid-Afrikaansche Republiek – ook bekend as Transvaal – en later ’n burger van Suid-Afrika wat deur sy volksgenote as ’n profeet van die Boere beskou is. Gevolglik het hy bekend gestaan as Siener van Rensburg. Sy akkurate voorspellings van toekomstige gebeure het bestaan uit patriotiese en godsdienstige beelde. Gedurende die Anglo-Boereoorlog het hy ’n goeie reputasie onder die Boere opgebou en ’n getroue kameraad en adviseur van genl. Koos de la Rey en pres. MT Steyn geword.
1979 – Abraham Petrus Smit, predikant in die NG Kerk, geskiedskrywer en derde argivaris van die Kaapse Kerk (* 12 Oktober 1909)
2004 – Gabriel Cornelis de Jongh, bekende landskapskilder (* 6 April 1913)
Gabriel Cornelis de Jongh was die seun van die bekende landskapskilder Tinus de Jongh en ook ’n landskapskilder in eie reg. Hy het saam met sy ouers in 1921 in Kaapstad, Suid-Afrika aangekom. Gabriel het ’n noue en spesiale band met sy vader gehad en dit is net natuurlik dat hy sy vader se beroep ook sou volg. Hy word ’n skilder en sy pa was sy inspirasie, mentor en kritikus.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook